Skip to main content

Inleiding oor die boek Daniël

Daniël in die ballingskap

Die verhale en visioene van die boek Daniël speel af teen die agtergrond van die ballingskap van Juda in Babel.

Die eerste verhaal in die boek plaas die gebeure in die derde regeringsjaar van Jojakim d.w.s. 605 v.C. (Dan. 1:1).  Die jong Daniël word deur Nebukadnesar weggevoer saam met ’n hele aantal ander jongmanne, net ná Nebukadnesar die Egiptiese leër by Karchemis oorwin het.  Lees meer oor Jojakim en die res van die Judese konings in hierdie tyd in my bydrae oor 2 Kronieke 36 (Vgl. ook 2 Kon. 24:1 en 2 Kron. 36:6 wat van Nebukadnesar se optrede teen Jojakim en Jerusalem vertel).

Die laaste visioen in die boek word gedateer in die derde regeringsjaar van Kores, d.w.s. 537 v.C. (Dan. 10:1), ’n tydperk van bykans 70 jaar (vgl. Jer. 29:10).  Daniël is hier as ou man steeds aktief betrokke as God se instrument in die openbaring van sy plan vir die koms van Sy koninkryk.

Die ballingskap van Daniël was dus een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van Babel was.  Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik ná die tweede wegvoering in ballingskap in 597 v.C.  begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.  Daniël is in dié opsig baie soos Josef van lank gelede wat weggevoer is deur die Midianiete na Egipte om vir die familie van Jakob ’n uitkoms in die tyd van hongersnood te bring.

Continue reading

Daniël 1-2 – Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome

Ons lees vandag twee verhale van Daniël.

  • Die eerste verhaal stel Daniël aan ons bekend as ’n besonder wyse jongman wat uitblink in die uitleg van gesigte en drome – hfst. 1.
  • Die tweede verhaal gaan vêrder en stel Daniël aan ons bekend as iemand wat in kontak is met dié God wat geheime kan openbaar, selfs die drome van die koning – hfst. 2.

Die twee verhale dien ook as ’n tekening van God as Iemand wat nie net agter die skerms mense se wel en weë as’t ware onsigbaar bestuur nie, maar Self in gesprek tree met hulle selfs in hulle mees private en intieme droomwêreld. In die proses skuif die gordyn op die toekoms op ’n skrefie oop in die uitleg van die droom van Nebukadnesar.

Teks en konteks

Daniël blink uit in die uitleg van gesigte en drome – hoofstuk 1

Daniël en sy vriende was reeds deeglik onderrig soos ons aflei uit die koning se vereiste vir hulle: “toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen”.
Hulle moes nou egter onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal oor ‘n tydperk van drie jaar om daar diens te kon doen.

Die drie vriende het betekenisvolle Hebreeuse name van hulle ouers gekry:

  • Gananja – “Jah(wê) is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?” of “voorsiener”;
  • Asarja – “Jah(wê) het gehelp”.

Dit is egter deur Aspenas, die hoofpaleisbeampte, verander om Babiloniese gode te reflekteer:

  • Sadrag – “Bevel van Shudur Aku (maangod)”;
  • Mesag – “Wie is soos Aku? (waarskynlik verkorte vorm van Mi-sha-aku)”;
  • Abednego – “Dienskneg van Nergo (verkorte vorm van Nergal – sommige dink dit verwys eerder na Nebo)”.

Die naamsverandering het Daniël-hulle hulle laat geval. Wat mense van buite af aan hulle doen, kon hulle eintlik nie skeel nie. Om egter hulle dieet te verander en veral aan afgod offervleis blootgestel te word, was baie meer problematies.

Let op hoe Daniël as leier van die vriende optree, en dat sy “voorneme” om hom nie te verontreinig met die koning se kos en wyn nie, tot sy versoek lei om vrygestel te word daarvan. Hy het goed gedink oor wat hulle te doen staan.

Let ook op dat hy dit vra as ‘n “vergunning”, nie as ‘n eis nie, en dit boonop formuleer in ‘n wen-wen proefnemingsvoorstel. As die voorstel werk, is dit tot beide partye se voordeel. As dit nie werk nie, sal hulle inval by die koning se voorskrifte. Baie wys!

Die hoogtepunt in die verhaal is egter dat die erkenning vir die feit dat die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek teenoor Daniël gestem is, aan God se werk toegeskryf word. Dit is die eerste onsigbare transformasie punt in die verloop van hulle verblyf in Babel. En let op dat die hoofpaleisbeampte primêr op ‘n persoonlike vlak gunstig en simpatiek teenoor Daniël gestem word, nie teenoor sy idee as sodanig nie. Persoonlike kontak bring mens verder as ‘n blote ooreenstemming van idees.

Die tweede transformasie punt in die verhaal kom weereens weens God se onsigbare aksie: “God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.” Sonder dié gawes van God sou hulle getrouheid, en veral dié van Daniël, nie so ‘n wye impak gehad het nie.

Die netto resultaat van hulle getrouheid aan hulle geloofstradisie en hulle soeke na ’n wen-wen oplossing in hulle situasie aan die een kant en God se onsigbare werk aan die ander kant, maak dat die vier vriende ‘n groot en deurlopende invloed in die koningshuis kon uitoefen.

Daniël is in kontak met dié God wat geheime openbaar – hoofstuk 2

Waar God in die eerste hoofstuk onsigbaar aan die werk was om die hoofpaleisbeampte, Aspenas, gunstig teenoor Daniël-hulle te stem, is Hy hier baie meer op die voorgrond. Dit herinner ’n mens ook aan Josef wat die droom van farao uitgelê het. Die feit dat Daniël die droom van die koning kon vertel, skets ‘n prentjie van God wat in alles wat gebeur teenwoordig en aktief besig is. Hy weet selfs wat in ons droomwêreld aangaan en gee selfs vir ons drome.

Let op die detail waarmee die verhaal beskryf word, veral dat die naam van Arjok, die hoof van die lyfwag, net soos Aspenas in die eerste hoofstuk genoem word. Dit dui op ’n detail kennis van die verhaal wat die egtheid daarvan verhoog.

Dat die koning nie tevrede is net met ’n uitleg nie, maar sommer ook van sy wyses vra dat hulle die droom self moet weergee, dek die tafel vir Daniël om Nebukadnesar aan Sy God bloot te stel, dié God wat nie net geheime kan uitlê nie, maar inderdaad die geheime ken en selfs gee.

Die uitleg van die droom is uiteraard baie belangrik as God se boodskap vir die koning sowel as vir ons, maar die bekendmaking van iets so vlietend en verborge as ‘n droom, nooi ons alreeds uit om in alles met dié God rekening te hou.

Let op die rol wat gebed speel om agter die kap van die byl van die droom te kom. Dit nooi ons uit om dieselfde te doen met die drome wat ons self droom. Daniël prys die Here in ’n pragtige gebed wanneer God die droom openbaar en ook die uitleg daarvan in ’n nagtelike visioen vir Daniël gee. Daarin bely hy dat wysheid en mag aan God alleen behoort, nie aan hom (wysheid) of selfs aan Nebukadnesar (mag) nie. Dit is God wat tye en omstandighede bepaal, wat konings afsit en aanstel en wat die verborge dinge aan die lig bring.

Die beeld se samestelling in die droom en die uitleg daarvan word vervolgens aan Nebukadnesar openbaar wat met die opeenvolging van 4 of 5 koninkryke te make het. Let egter op dat die uitleg nie die koninkryke se name identifiseer waarna verwys word nie.

Die tradisionele verklaring van die opeenvolging van koninkryke is dat die kop van goud met die Galdeërs, die bors en arms van silwer met die Mediërs-Perse, die maag en heupe van brons met die Grieke en die bene van yster en die voete deels van yster en deels van klei met die Romeine geïdentifiseer word. Laasgenoemde kan moontlik op twee tydperke dui, maar dit word meesal as een geïnterpreteer weens die feit dat daar in die res van die boek van vier koninkryke gepraat word (bv. hfst. 7). Die klip wat die beeld verpletter en ’n groot rots word wat die hele aarde bedek, dui op die koninkryk van Christus.

Maar dié verklaring kan ook anders ingeklee word, veral afhangende van hoe ’n mens oor die idee van profesie as ’n toekomsgerigte openbaring oordeel. Dat dit nie meer definitief uitgespel word in die teks nie, moet ’n mens katvoet maak vir té absolute stellings daaroor. In hoofstuk 8 sal meer inligting gegee word oor die tyd van die koninkryke van die Mediërs-Perse en ook die Grieke, maar steeds in beeldryke simboliese taal. Die koninkryk wat ná die Grieke kom, die Romeine soos ons vandag weet, word egter glad nie direk genoem nie.

Boodskap en betekenis

Die ballingskap van Daniël was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van

Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy

Ons lees vandag twee verhale van geloof in God.

  • Die eerste verhaal handel oor die standvastige geloof van Daniël se drie vriende wat volgehou word selfs al moet hulle die brandende oond daarvoor trotseer – hoofstuk 3.
  • Die tweede verhaal handel oor die geloofsbelydenis van Nebukadnesar wat aan die wêreld van sy tyd uitbasuin dat God bo alles Koning is, ná hy deur sy eie smeltkroes van verstoting moes gaan – hoofstuk 4.

Continue reading

Daniël 5 – Geniet God se geduld en genade deur gehoorsaamheid te omhels, anders is jou dae ook getel

Die verhaal van Daniël spring ‘n hele paar dekades na die einde van die tyd van die koninkryk van Babel, met  ‘n beskrywing van die gebeure in die tyd van die laaste koning, die verwaande en halsstarrige Belsasar.  Hy word opgevolg deur Darius, die koning van die Mediërs en die Perse.  Ons sal weer van Belsasar verneem in hfst. 7 en 8 net as manier om die visioene van Daniël te dateer.  Hoofstuk 6 vertel weer die verhaal van Darius verder.

Continue reading

Daniël 6 – God red Daniël van die leeus as getuienis van sy aktiewe betrokkenheid in die wêreld

Ons fokus op nóg ‘n verhaal wat Daniël se buitengewone vermoëns onderstreep en verklaar hoekom hy selfs met die bewindsverandering van die koninkryk van die Galdeërs na dié van die Mediërs en Perse in hoë aanvraag gebly het, voordat ons terugkeer na die laaste twee visioene.

Darius die Mediër (Dan 6:1 – vgl. 11:1) was die seun van Ahasveros (Dan 9:1 – nie dieselfde persoon as in Ester se tyd nie) en was 62 jaar oud met sy bewindsaanvaarding in 539 vC. Hoewel daar baie debat is oor sy identiteit, is dit grammatikaal moontlik om hom met Kores die Pers te verbind. Dié interpretasie vereis dat Daniël 6:29 soos volg vertaal word: “gedurende die regering van Darius, dit is die regering van Kores die Pers,” soos die Hebreeuse “en” inderdaad vertaal kan word.

Kores was verbind met die Mediërs en is by tye selfs “koning van die Mediërs” genoem, en was boonop ook 60 jaar oud toe hy koning geword het, soos dit in ander bronne gemeld word. Dit beteken dat die Kores van Daniël 10 en die Darius van Daniël 6, 9 en 11 dieselfde persoon kan wees en moontlik ’n dubbele naam gehad het.

Dié identifikasie van Darius met Kores kan egter nie direk histories geverifieer word nie, hoewel dit tog interessant is dat die LXX in hfst. 11:1 in plaas van “Darius, die Mediër” die teks vertaal as “Kores”. Dit suggereer dat die vertalers van die teks geweet het van die dubbele naam vir die koning en in dié hoofstuk eerder die naam Kores gebruik het, om verwarring met die ander koning Darius in die tyd van die terugkeer ná die ballingskap uit te skakel (Esra 4:5; Neh. 12:22).

Continue reading

Onlangse kommentaar