Skip to main content

Inleiding oor die boek Daniël

Daniël in die ballingskap

Die verhale en visioene van die boek Daniël speel af teen die agtergrond van die ballingskap van Juda in Babel.

Die eerste verhaal in die boek plaas die gebeure in die derde regeringsjaar van Jojakim d.w.s. 605 v.C. (Dan. 1:1).  Die jong Daniël word deur Nebukadnesar weggevoer saam met ’n hele aantal ander jongmanne, net ná Nebukadnesar die Egiptiese leër by Karchemis oorwin het.  Lees meer oor Jojakim en die res van die Judese konings in hierdie tyd in my bydrae oor 2 Kronieke 36 (Vgl. ook 2 Kon. 24:1 en 2 Kron. 36:6 wat van Nebukadnesar se optrede teen Jojakim en Jerusalem vertel).

Die laaste visioen in die boek word gedateer in die derde regeringsjaar van Kores, d.w.s. 537 v.C. (Dan. 10:1), ’n tydperk van bykans 70 jaar (vgl. Jer. 29:10).  Daniël is hier as ou man steeds aktief betrokke as God se instrument in die openbaring van sy plan vir die koms van Sy koninkryk.

Die ballingskap van Daniël was dus een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van Babel was.  Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik ná die tweede wegvoering in ballingskap in 597 v.C.  begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.  Daniël is in dié opsig baie soos Josef van lank gelede wat weggevoer is deur die Midianiete na Egipte om vir die familie van Jakob ’n uitkoms in die tyd van hongersnood te bring.

 Die boek Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.   Dit hou dus waarskynlik verband met die werk van en status wat Daniël geniet het in Babel, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.

Terloops – Jer. 25:1 plaas dié oorlog van Nebukadnesar in die vierde regeringsjaar van Jojakim.  Die verskil kan as volg verklaar word:

  • Daniël werk waarskynlik met die Babiloniese metode om die eerste regeringsjaar van die koning te bepaal.  Die eerste jaar van ’n koning word eers van die nuwe jaar af getel.  Die eerste maande van sy regering tot met die nuwe jaar tel dus nie om sy regeringstyd te bepaal nie.
  • Jeremia werk weer waarskynlik met die Palestynse metode om die regeringstyd te bepaal.  Die maande wat die koning regeer tot by die nuwe jaar word as die eerste regeringsjaar van die koning getel.

Daniël as persoon

Die boek gee vir ons geen inligting oor Daniël se afkoms nie.  Daar is bv. geen geslagsregister of ten minste net ’n aanduiding van sy familie nie.  Al wat ons van sy lewe voor Babel weet, is dat hy ’n goeie opvoeding moes gehad het en onder die vername mense uit Jerusalem getel het.  Dit lei ons af uit die feit dat die koning se voorskrif vir die seleksie van jongmanne was dat hulle: “toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen,“ moes wees (1:4).

Daar is ook ’n Daniël wat in Esegiël – een van die profete tydens die ballingskap in Babel – genoem word (14:14,20; 28:3):

  • Die eerste keer word Daniël saam met Noag en Job as voorbeelde van getroue volgelinge van God gebruik om die volk te oorreed om hulle afgode te laat staan en aan God gehoorsaam te wees.  As die volk nie hulle afgode laat staan nie, sal hulle heeltemal verdelg word.  Selfs mense soos dié drie geloofshelde sal – weens hulle geregtigheid, sê Esegiël – net hulleself, en nie eers hulle eie kinders, in só ’n tyd kan red nie (Eseg. 14:14,20 – vgl. Jer. 15:1 waar op soortgelyke wyse Jeremia se voorbidding vir die volk afgewys word en die Here sê dat selfs die groot voorbidders, Moses en Samuel, se gebede nie verandering sou kon bring nie).
  • In die tweede verwysing word van Daniël se groot wysheid gepraat in ’n gedeelte waar die regeerder van Tirus verkwalik word dat sy eie wysheid na sy kop toe gegaan het en hy hom teen God verset het (Eseg. 28:3).

Dit is egter onseker of enige van dié twee tekste na dieselfde persoon van die boek Daniël verwys, omdat die spelling van die naam in die oorspronklike teks van Esegiël verskil van dié in die boek Daniël – Danel (‍דָּנִאֵל) i.p.v. Daniël (‍דָּנִיאֵל).  Die Masorete wat vir die OT teks se oorlewering en ook vokalisering verantwoordelik was, het wel die Esegiël teks (die sogenaamde ketiv lesing – dit wat geskryf is) verander na Daniël (die sogenaamde qere lesing – dit wat gelees moet word) en daarmee waarskynlik aangedui dat Esegiël na Daniël in die boek Daniël verwys.

Esegiël kan egter moontlik eerder na Danel, die skoonpa van Henog in die pseudepigrafiese werk Jubileum (4:20 – wat as kanonieke teks in die Etiopiese Ortodokse kerk erken word) verwys.  Daar is ook ’n Danel bekend uit die Ugaritiese Aqhat epos wat as ’n goeie regter bekend gestaan het vir wie die saak van weduwees en wese na aan die hart gelê het.

Twee dele: Verhale en Visioene

Die boek is in twee duidelike dele opgedeel waarin God se betrokkenheid by sy mense sowel as in die wêreld en heelal geïllustreer en beskryf word deur:

  1. Ses verhale van Daniël (Beltsasar), sy vriende, naamlik Gananja (Sadrag), Misael (Mesag) en Asarja (Abednego), sowel as die konings, naamlik Nebukadnesar, Belsasar en Darius, se wedervaringe tydens die ballingskap in Babilon – hfst. 1-6;
  2. ’n Reeks van vier apokaliptiese visioene, waarin die gordyn op die koms van die koninkryk oopgetrek word en die invloed en impak wat dit op die magte en kragte van die aarde en die hemel sal hê – hfst. 7-12.

Aan die eenkant demonstreer die boek Daniël God se voorsiening en versorging vir dié wat aan Hom getrou en lojaal bly ten spyte van talle uitdagings (Daniël en sy drie vriende), sowel as sy aanvaarding van enigiemand wat hul vertroue in Hom plaas, selfs heidense konings (Nebukadnesar, Darius).

Aan die anderkant demonstreer dit God se invloed en ingrype in die geskiedenis wat nie net die wel en weë van konings en koninkryke bepaal nie, maar afstuur op ’n finale afrekening met die boosheid van die mensdom en die vestiging van Sy koninkryk.

Daarom word die boek onder die apokaliptiese literatuur gereken, aan die een kant gewortel in die wysheidstradisies van Israel en aan die ander kant deel van die profeties-eskatologiese literatuur.

God se aktiewe betrokkenheid in die heelal

Die boek Daniël fokus dus op God se aktiewe, omvattende en soewereine betrokkenheid in die heelal op drie terreine:

  1. Dit sluit die geloofsgemeenskap in, nie net in hulle eie land nie, maar ook in die vreemde in ballingskap.  Dit dra die bevestiging en versekering dat God daar is waar Sy mense is.
  2. Dit sluit die konings en koninkryke van hierdie wêreld in met wie God op verskillende maniere in gesprek tree.  Dit dra die hoop en verwagting dat God daar is waar politieke, ekonomiese en sosiaal-maatskaplike besluite geneem word.
  3. Dit sluit ook die konflik in die wêreld van engele in wat op verskillende wyses ’n impak op die mensdom en die aarde het.  Dit dra die belofte en troos dat God daar is waar die chaos magte dreig om mense met hulle boosheid te verswelg.

Twee tale: Hebreeus en Aramees

Die boek is ook in twee tale geskryf:

  • Hfst. 1 tot hfst. 2:4a sowel as hfst. 8-12 is in Hebreeus – die taal van die Jode.
  • Hfst. 2:4b tot hfst. 7 is in Aramees – die wêreldtaal van dié tyd, ook van Babel ( vgl. 2 Kon. 18:26), waarskynlik om die boodskap van dié verhale toeganklik te maak vir ’n wyer gehoor as dié van die Jode.

Die feit dat die gebruik van die twee tale nie ooreenkom met die verdeling tussen die verhale en die visioene nie, dui op die waarskynlike eenheid van die boek in terme van die skryf daarvan.

Wat verder interessant is, is dat die Aramese deel van hfst. 2-7 op konsentriese wyse gerangskik is:

  • Hfst. 2 en 7 gaan oor die koninkryke van die wêreld en God se ingrype en invloed daarin.  Dit vorm die buitelyne van die Aramese boodskap aan die wêreld.  God het mag oor alle menslike sisteme van mag.
  • Hfst. 3 en 6 gaan oor God se mag om sy mense van gevaar te red – brandende oond en leeukuil .  Dit vorm die kontras van God se sorg vir sy mense teenoor God se mag oor almal en alles.
  • Hfst. 4 en 5 gaan oor God se oordeel oor konings wat hulleself verhef – Nebukadnesar en Belsasar.  Dit is die sentrum van die Aramese boodskap aan die wêreld.  God se mag het ’n sigbare invloed in die wel en weë van ook van die leiers van sisteme, die konings.

Dit beteken dat hfst. 4 en 5 die hart van die boodskap is in die wêreldwye bekende taal Aramees, sodat almal dit kan lees.

Datering van die boek

Baie geleerdes beskou die boek Daniël as een van die jongste boeke in die OT wat êrens in die 2de eeu v.C. geskryf is in die tyd van die Makkabeërs.  Dit was ’n tyd van geweldige onderdrukking waarin die tempel ontheilig is en die Jode nie hulle eie godsdiens en/of kultuur kon uitleef nie.  Die skrywer van daardie tyd het dus teruggegryp na die ou verhale van Daniël en sy vriende om die volk moed te gee om standvastig te bly ten spyte van die vervolging.

Dit is egter aan die ander kant duidelik uit die boek self dat die konteks waarin Daniël en sy drie vriende opgetree het, nie soseer met vervolging en onderdrukking te make het nie, maar met die uitdaging om in ’n vreemde godsdiens en kultuur getrou aan Jahwe en die Joodse godsdiens te bly.  Dit is die natuurlike konteks waarbinne die verhale geplaas is en waarmee ’n mens rekening moet hou.

Die vernaamste rede waarom geleerdes die boek in die Makabeër tyd dateer het daarby nie primêr te make met die verhale in Daniël nie, maar met die inhoud van Daniël se visioene, veral hoofstuk 11, waarin die tyd van die Griekse oorheersing met baie detail beskryf word en dit onteenseglik met die tyd van Antiochus IV Epiphanes  verbind kan word, hoewel sy naam nie genoem word nie.  Die geleerdes dink nie dat profesie met sulke detail vooruit geskryf kan word nie en reken dat die visioene eerder ná die gebeure geskryf is.

Dit verraai egter in ’n sekere sin net die geleerdes se voorveronderstelling – dat profesie per definisie nie vooruit geskryf kan word nie.  Dit druis egter lynreg in teen nie net ’n hele string ander Bybel profesieë nie, maar negeer ook die feit dat daar in ander godsdienste van daardie tyd profesieë was wat met die toekoms te make gehad het (bv. die sogenaamde Dinastie Profesieë uit Babel).

Die vroegste lesers en interpreteerders van die boek het daarenteen geen probleem gehad om die boek in terme van sy inhoud te hanteer as profesieë wat met die toekoms te make het nie, soos ons ook van Jesus lees in die NT  (Matt. 24:15).  Daar is ook navorsing wat beweer dat die kanon van die OT reeds in die Makkabeër tyd afgesluit was, wat ’n laat datering van die boek Daniël onmoontlik sou maak .

Daar is dus vir my geen dwingende rede waarom die boek nie gelees kan word soos dit self aangebied word nie – as ’n verhaal wat in Babel afspeel waarin ook visioene oor die koms van God se koninkryk ontvang is.  Dat dié verhale vir mense in die Makkabeër tyd betekenis kon gehad het, sal uiteraard so wees, maar om daarom die datering van die boek te verander, sonder meer getuienis as maar net die omstandigheidsgetuienis wat geleerdes aanbied, oortuig my nie.

Daarom lees ek die verhaal van Daniël soos die boek dit self aanbied en probeer só sin maak daarvan.

Die ander kritiese vrae oor die inhoud van die boek, veral die interpretasie van die visioene (bv. die identiteit van die koninkryke wat deur Nebukadnesar se beeld, die identiteit van Darius, die Mediër, die gebruik van simboliese getalle en so meer), sal ek behandel soos ons die boek deurlees.

Ekstra materiaal in die boek Daniël

In die Rooms-Katolieke en Ortodokse kerke se weergawe van Daniël is daar ook ’n hoofstuk 13 en 14 bygevoeg wat op die LXX (Griekse vertaling van die OT) berus en in die Vulgaat (Latynse vertaling van die Bybel) opgeneem is.  Dit is ook hoe die eerste Engelse King James vertaling dit gehad het.  Die hoofstukke handel oor die innemende verhaal van Susanna en die Oudstes wat deur Daniël van valse beskuldigings gered is (hfst. 13) en die  verdere twee verhale oor Daniël se ontbloting van bedrog rondom die afgod Bel en sy oorwinning van ’n draak, getiteld Bel en die Draak (hfst. 14).  Daar is ook ’n byvoeging in hfst. 3 as deel van die verhaal van die drie vriende in die brandende oond: Die gebed van Asarja (Abednego) en die lied van die drie heilige jongmense.

Hoewel daar egter heel waarskynlik ’n Hebreeuse weergawe van hierdie hoofstukke was (onthou die LXX is ’n vertaling), vind ’n mens nêrens verwysings in ander Joodse literatuur na hierdie hoofstukke nie, en het die Hebreeuse teks self nie behoue gebly nie.  Omdat die Protestantse Bybel in die Hervorming van die 16de eeu geskoei is op die Hebreeuse teks van die OT, word dié uitbreidings gevolglik nie as deel van ons Bybel gedruk nie, omdat die Jode dié dele nie as kanoniek gereken het nie.

Onthou egter dat Jesus en die skrywers van die NT, sowel as die eerste Christene, baie bekend was met die Griekse LXX en dit trouens meesal as hulle “Bybel” gebruik het.  Hulle was dus waarskynlik goed bekend met dié hoofstukke in die boek Daniël.  Lees dit dus gerus!

Daniël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar