Daniël 8 – ’n Nader beskrywing van die koninkryk van die Mediërs-Perse en veral die Grieke
Daniël kry die tweede groot visioen in Belsasar se derde regeringsjaar. Hy is waarskynlik wakker terwyl hy dit sien en nie in ’n droom staat nie, hoewel hy vir ’n kort tydjie wel bewusteloos was weens die impak van die openbaring. Die boek word hiervandaan verder in Hebreeus geskryf, waarskynlik omdat die inhoud meer van toepassing was op die Joodse geloofsgemeenskap.
Weereens is die vertelling in twee dele, die beskrywing van die visioen (8:2-14) en die verklaring daarvan (8:15-26) met ’n inleidende en afsluitende vers (8:1,27).
Die visioen van die skaap- en bokram
In die visioen bevind Daniël homself by die Ulairivier by die vestingstad Susan, in die provinsie Elam. Dit is dieselfde stad waar Ester se verhaal met Xerxes (Ahasveros) gaan afspeel (eerste helfte van die 5de eeu v.C.) en Nehemia nog later die berig oor Jerusalem sal kry en die proses om die mure te herbou begin met die goedkeuring van Artaxerxes (Artasasta, Xerxes se seun – 445 v.C. in sy 20ste regeringsjaar).
In sy visioen sien Daniël die volgende:
- ’n Skaapram wat by die rivier gestaan het en met sy twee horings amok gemaak het in alle rigtings net soos hy wil.
- ’n Bokram wat vinnig uit die weste gekom het (’n baie raak beskrywing van Alexander die Grote se uitbreiding van die Griekse koninkryk in 334-331 v.C.), die skaapram vermorsel en baie magtig geword het, totdat sy mag (horings) in vier verdeel is, waarvan een deel mettertyd buitengewoon magtig geword het (’n beskrywing van Antiogus IV Epifanes). Dit het ook die “pragtige land” in gedrang gebring met die “hemelse leërmag” (dit kan ook op die priesters dui) wat deur hom aangedurf is met die daaglikse offer aan God wat afgeskaf is.
- ’n Hemelwese wat die tydsduur van dié dinge uitspel as 2 300 dae (aande en oggende, soos dit ook in Gen. 1 gedoen word), ’n bietjie meer as 6 jaar. Dit het inderdaad in die tyd van die Makkabeërs gebeur (1 Makk. 1:45 – julle kan dit hier lees – vgl. veral hfst. 7 en 9 vir die tydperk).
Let op dat dié visioen net ’n gedeeltelike beskrywing gee van die toekoms, met die koninkryk van die Galdeërs wat uitgelaat word sowel as die koninkryk van God. Dit sal wel weer later aan die orde kom.
Die verklaring van die ramme as die Mediërs-Perse en die Grieke
Daniël soek dan ’n verklaring vir die visioen en Gabriël (man-van-God) kry die opdrag om die gesig vir Daniël te verklaar. Ons leer net twee engele se name ken in die OT, Gabriël en Migael s’n (10:13). Interessant genoeg is dit ’n mensestem wat uit die Ulai rivier die opdrag gee, maar wat met goddelike gesag optree.
Gabriël se naderkom is egter net te veel vir Daniël se gestel en hy val bewusteloos neer tot dié hom oprig om die verklaring te gee:
- Die skaapram met die horings staan vir die koninkryk van Medië en Persië, soos ons nou al afgelei het.
- Die bokram staan vir die koninkryk van Griekeland. Die buitengewoon magtige koning word hier as hardvogtig en slinks beskryf wat selfs die hoogste Regeerder sal uitdaag, maar uiteindelik vernietig sal word. Ons weet uit die geskiedenis dat Alexander die Grote vroeg dood is (323 v.C.) met Antiogus IV Epifanes wat later die een deel van sy ryk oorgeneem het (175 v.C.) met sy hoofstad in Antiogië, die plek vanwaar Paulus baie jare later sy sendingreise sou onderneem. Hy het Jerusalem ingeval en groot verdrukking veroorsaak. Antiogus is dus die waarskynlike referent vir dié verwysing. Ons sal in hfst. 11 vêrder hieroor lees.
Die fisiese en emosionele prys vir dié openbaring was baie groot en Daniël het vir lank siek gelê.
View all posts in this series
- Inleiding oor die boek Daniël - Jul 17, 2013
- Daniël 1-2 – Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome - Jul 18, 2013
- Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy - Jul 19, 2013
- Daniël 5 – Geniet God se geduld en genade deur gehoorsaamheid te omhels, anders is jou dae ook getel - Jul 22, 2013
- Daniël 6 – God red Daniël van die leeus as getuienis van sy aktiewe betrokkenheid in die wêreld - Jul 23, 2013
- Daniël 7 – God gee die heerskappy aan een “soos ‘n seun van die mens” - Jul 24, 2013
- Daniël 8 – ’n Nader beskrywing van die koninkryk van die Mediërs-Perse en veral die Grieke - Jul 25, 2013
- Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening - Jul 26, 2013
- Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed - Jul 29, 2013
- Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe - Jul 30, 2013