Skip to main content

Daniël 1-2 – Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome

Ons lees vandag twee verhale van Daniël.

  • Die eerste verhaal stel Daniël aan ons bekend as ’n besonder wyse jongman wat uitblink in die uitleg van gesigte en drome – hfst. 1.
  • Die tweede verhaal gaan vêrder en stel Daniël aan ons bekend as iemand wat in kontak is met dié God wat geheime kan openbaar, selfs die drome van die koning – hfst. 2.

Die twee verhale dien ook as ’n tekening van God as Iemand wat nie net agter die skerms mense se wel en weë as’t ware onsigbaar bestuur nie, maar Self in gesprek tree met hulle selfs in hulle mees private en intieme droomwêreld. In die proses skuif die gordyn op die toekoms op ’n skrefie oop in die uitleg van die droom van Nebukadnesar.

Teks en konteks

Daniël blink uit in die uitleg van gesigte en drome – hoofstuk 1

Daniël en sy vriende was reeds deeglik onderrig soos ons aflei uit die koning se vereiste vir hulle: “toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen”.
Hulle moes nou egter onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal oor ‘n tydperk van drie jaar om daar diens te kon doen.

Die drie vriende het betekenisvolle Hebreeuse name van hulle ouers gekry:

  • Gananja – “Jah(wê) is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?” of “voorsiener”;
  • Asarja – “Jah(wê) het gehelp”.

Dit is egter deur Aspenas, die hoofpaleisbeampte, verander om Babiloniese gode te reflekteer:

  • Sadrag – “Bevel van Shudur Aku (maangod)”;
  • Mesag – “Wie is soos Aku? (waarskynlik verkorte vorm van Mi-sha-aku)”;
  • Abednego – “Dienskneg van Nergo (verkorte vorm van Nergal – sommige dink dit verwys eerder na Nebo)”.

Die naamsverandering het Daniël-hulle hulle laat geval. Wat mense van buite af aan hulle doen, kon hulle eintlik nie skeel nie. Om egter hulle dieet te verander en veral aan afgod offervleis blootgestel te word, was baie meer problematies.

Let op hoe Daniël as leier van die vriende optree, en dat sy “voorneme” om hom nie te verontreinig met die koning se kos en wyn nie, tot sy versoek lei om vrygestel te word daarvan. Hy het goed gedink oor wat hulle te doen staan.

Let ook op dat hy dit vra as ‘n “vergunning”, nie as ‘n eis nie, en dit boonop formuleer in ‘n wen-wen proefnemingsvoorstel. As die voorstel werk, is dit tot beide partye se voordeel. As dit nie werk nie, sal hulle inval by die koning se voorskrifte. Baie wys!

Die hoogtepunt in die verhaal is egter dat die erkenning vir die feit dat die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek teenoor Daniël gestem is, aan God se werk toegeskryf word. Dit is die eerste onsigbare transformasie punt in die verloop van hulle verblyf in Babel. En let op dat die hoofpaleisbeampte primêr op ‘n persoonlike vlak gunstig en simpatiek teenoor Daniël gestem word, nie teenoor sy idee as sodanig nie. Persoonlike kontak bring mens verder as ‘n blote ooreenstemming van idees.

Die tweede transformasie punt in die verhaal kom weereens weens God se onsigbare aksie: “God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.” Sonder dié gawes van God sou hulle getrouheid, en veral dié van Daniël, nie so ‘n wye impak gehad het nie.

Die netto resultaat van hulle getrouheid aan hulle geloofstradisie en hulle soeke na ’n wen-wen oplossing in hulle situasie aan die een kant en God se onsigbare werk aan die ander kant, maak dat die vier vriende ‘n groot en deurlopende invloed in die koningshuis kon uitoefen.

Daniël is in kontak met dié God wat geheime openbaar – hoofstuk 2

Waar God in die eerste hoofstuk onsigbaar aan die werk was om die hoofpaleisbeampte, Aspenas, gunstig teenoor Daniël-hulle te stem, is Hy hier baie meer op die voorgrond. Dit herinner ’n mens ook aan Josef wat die droom van farao uitgelê het. Die feit dat Daniël die droom van die koning kon vertel, skets ‘n prentjie van God wat in alles wat gebeur teenwoordig en aktief besig is. Hy weet selfs wat in ons droomwêreld aangaan en gee selfs vir ons drome.

Let op die detail waarmee die verhaal beskryf word, veral dat die naam van Arjok, die hoof van die lyfwag, net soos Aspenas in die eerste hoofstuk genoem word. Dit dui op ’n detail kennis van die verhaal wat die egtheid daarvan verhoog.

Dat die koning nie tevrede is net met ’n uitleg nie, maar sommer ook van sy wyses vra dat hulle die droom self moet weergee, dek die tafel vir Daniël om Nebukadnesar aan Sy God bloot te stel, dié God wat nie net geheime kan uitlê nie, maar inderdaad die geheime ken en selfs gee.

Die uitleg van die droom is uiteraard baie belangrik as God se boodskap vir die koning sowel as vir ons, maar die bekendmaking van iets so vlietend en verborge as ‘n droom, nooi ons alreeds uit om in alles met dié God rekening te hou.

Let op die rol wat gebed speel om agter die kap van die byl van die droom te kom. Dit nooi ons uit om dieselfde te doen met die drome wat ons self droom. Daniël prys die Here in ’n pragtige gebed wanneer God die droom openbaar en ook die uitleg daarvan in ’n nagtelike visioen vir Daniël gee. Daarin bely hy dat wysheid en mag aan God alleen behoort, nie aan hom (wysheid) of selfs aan Nebukadnesar (mag) nie. Dit is God wat tye en omstandighede bepaal, wat konings afsit en aanstel en wat die verborge dinge aan die lig bring.

Die beeld se samestelling in die droom en die uitleg daarvan word vervolgens aan Nebukadnesar openbaar wat met die opeenvolging van 4 of 5 koninkryke te make het. Let egter op dat die uitleg nie die koninkryke se name identifiseer waarna verwys word nie.

Die tradisionele verklaring van die opeenvolging van koninkryke is dat die kop van goud met die Galdeërs, die bors en arms van silwer met die Mediërs-Perse, die maag en heupe van brons met die Grieke en die bene van yster en die voete deels van yster en deels van klei met die Romeine geïdentifiseer word. Laasgenoemde kan moontlik op twee tydperke dui, maar dit word meesal as een geïnterpreteer weens die feit dat daar in die res van die boek van vier koninkryke gepraat word (bv. hfst. 7). Die klip wat die beeld verpletter en ’n groot rots word wat die hele aarde bedek, dui op die koninkryk van Christus.

Maar dié verklaring kan ook anders ingeklee word, veral afhangende van hoe ’n mens oor die idee van profesie as ’n toekomsgerigte openbaring oordeel. Dat dit nie meer definitief uitgespel word in die teks nie, moet ’n mens katvoet maak vir té absolute stellings daaroor. In hoofstuk 8 sal meer inligting gegee word oor die tyd van die koninkryke van die Mediërs-Perse en ook die Grieke, maar steeds in beeldryke simboliese taal. Die koninkryk wat ná die Grieke kom, die Romeine soos ons vandag weet, word egter glad nie direk genoem nie.

Boodskap en betekenis

Die ballingskap van Daniël was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van

Daniël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar