Skip to main content

Daniël 7 – God gee die heerskappy aan een “soos ‘n seun van die mens”

Die verhale van Daniël in hoofstuk 1-4 dateer uit die tyd net na die eerste wegvoering in ballingskap in 605 vC. Die verhale en visioene in die res van Daniël dateer uit die tydvak 555-536 vC.

Vir die kronologiese lees van Daniël moet ons in ag neem dat die verhaal in hoofstuk 5 en die visioene in hoofstuk 7 en 8 uit die tyd van Belsasar dateer. Hoofstuk 7 dateer uit sy eerste regeringsjaar, 555 vC, hoofstuk 8 uit sy derde regeringsjaar, 553 vC, en hoofstuk 5 aan die einde van sy regering, in 539 vC.

Die verhaal in hoofstuk 6 en die visioen in hoofstuk 9 dateer weer uit die eerste regeringsjaar van koning Darius in 539 vC (moontlik dieselfde koning as Kores – vgl Dan 6:28; 10:1; 11:1 – hoewel hy andersins onbekend is) wat Belsasar doodgemaak het en die tyd van die Mede en Perse ingelui het.

Die laaste visioen in hoofstuk 10-12 dateer uit Darius se derde regeringsjaar, 536 vC.

Teks en konteks

Belsasar was nooit formeel koning van Babilon nie, maar as die oudste seun van koning Nabonidus (555-539 vC) – die laaste koning voor die Perse hulle oorwin het en waarvan ’n gebed by Qumran ontdek is – het hy vir lang tyd in sy plek opgetree as regent, onder andere tydens ’n lang veldtog wat Nabonidus in Arabië gevoer het. Dié toedrag van sake verklaar hoekom Belsasar se beloning in hoofstuk 5 aan dié een wat die boodskap teen die muur kan uitlê, ingesluit het dat hy “as derde in rang regeer” (Dan 5:7,16,29) , iets wat Daniël toe te beurt val toe hy die betekenis kon verklaar.

Dat Nebukadnesar ook in hoofstuk 5 Belsasar se “vader” (dit kan ook as “voorganger” of “voorvader” vertaal word – Dan 5:2,11,18) genoem word, hang waarskynlik saam met die feit dat die woorde “vader” en “seun” ook figuurlik in die OT gebruik word en selfs simbolies (Elisa noem Elia “my vader” – 2 Kon. 2:12). Dit is egter ook moontlik dat Nebukadnesar sy oupa of grootjie was, soos die term “vader” ook gebruik is en Belsasar dit in vers 13 waarskynlik gebruik: “my ‘oupagrootjie’ die koning”.

Vier visioene

Waar die eerste deel van die boek Daniël in die derde persoon geskryf is, word die visioene in die tweede deel van die boek meesal in die eerste persoon weergegee as die woorde van Daniël self. Die opeenvolging van konings in Daniël se lewe sowel as die transformasie van een wêreldmoondheid na ’n ander met die aanvang van Darius se koningskap was ’n vrugbare bedding vir nadenke oor die toekoms, waarbinne God sy openbaring aan Daniël gegee het. Dit word nie as verifieerbare geskiedenis aangebied nie, maar as beelde, simbole en verwysings met verskuilde betekenisse wat moeilik is om te interpreteer.

  1. Die eerste visioen in hoofstuk 7 (555 vC) is waarskynlik ’n herhaling en uitbreiding van die droom-visioen van Nebukadnesar (hfst. 2) oor die vier koninkryke wat deur God se koninkryk vervang word en wat deur een “soos ’n seun van die mens” in ontvangs geneem word. Daarom is dit ook in Aramees, soos hfst. 2 was. Die volgende deel van Daniël tot aan die einde van die boek is egter in Hebreeus.
  2. Die tweede visioen in hoofstuk 8 (2 jaar later in 553 vC) is waarskynlik ’n uitbreiding van die eerste een en identifiseer die tweede en derde koninkryke met die Mediërs-Perse en die Grieke, waarmee die visioen van hfst. 2 nog verder uitgelê word.
  3. Die derde visioen in hoofstuk 9 kom 14 jaar later ná Daniël die beloftes van die Here in die boek Jeremia oor ’n terugkeer na die ballingskap gelees het, en dit voor God in gebed gebring het. Dit is in die eerste jaar van Darius, 539 vC. Nie net eindig die ballingskap dié jaar nie, maar die Here gee vir hom daarby die visioen van die sewentig weke wat uitmond in die onskuldige dood van God se uitverkore regeerder wat die einde van die wêreld sal laat aanbreek.
  4. Die vierde visioen in hoofstuk 10-12 is ’n openbaring van wat met die volk van God in die toekoms gaan gebeur, oorgedra deur ’n besondere boodskapper wat oënskynlik groter status het as die engele en ooreenkomste toon met die beskrywing van die Here self in die OT (Eseg. 1:26-28) sowel as die verheerlikte Here Jesus in die NT (Openb 1:12-16), maar tog nie hier al direk as die Here self geïdentifiseer word nie.

Terloops, soos dit oorwegend die geval is in die res van die OT speel Satan geen rol in die boek Daniël nie, selfs nie eers in sy visioene nie, hoewel daar ’n hele paar keer na engele verwys word, ook engele wat veg met mekaar (hfst. 10-12).

Ons vind direkte verwysings na Satan in die OT net in eerste deel van die boek Job (hfst. 1-2), en dan in die ná-ballingskap boeke van Kronieke (1 Kron. 21:1) en die profeet Sagaria (Sag 3:1-2). Selfs verwysings na bose geeste is skraps in die OT (vgl. 1 Sam 16:14).

Dit is eers met die koms van Jesus en die verkondiging van die evangelie wat die gordyn op die demoniese werklikheid wyd oopgetrek word en God se oorwinning oor alle bose magte openbaar word met die kruisdood en opstanding van die Here Jesus Christus.

Vier koninkryke mond uit in God se koninkryk

Let op dat Daniël die visioene in ’n droom gehad het wat hy ná die tyd neergeskryf het. Dit is dié skriftelike weergawe wat ons van vers 2 af kry.

Die visioen self is in twee dele:

Die visioen van die diere

Eers sien Daniël ’n opeenvolging van diere wat uit die see opkom maar uiteindelik die knie moet buig voor die heerskappy wat aan die een “soos ’n seun van die mens” gegee word deur “Hy wat ewig lewe” (Dan 7:9,13,22 – The Ancient of Days – ek wonder hoeveel mense bewus is daarvan dat dié populêre geestelike lied se woorde uit Daniël kom!):

  1. ’n Leeu met arendsvlerke wat menslike eienskappe ontvang (interessant Jeremia gebruik beide ’n leeu as ’n arend in sy beskrywing van Nebukadnesar – Jer. 49:19-22 – en sy transformasie in hoofstuk 4 herinner nogal aan dié beskrywing).
  2. ’n Beer met drie ribbebene in die bek wat in opdrag alles verslind wat voorkom.
  3. ’n Luiperd met vlerke en vier koppe aan wie heerskappy gegee is.
  4. ’n Vierde skrikwekkende, vreesaanjaende sterk dier met ystertande wat alles verslind en vermorsel. Drie van sy tien horings word uitgeruk om vir ’n nuwe klein horinkie plek te maak wat ook menslike eienskappe gehad het en allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

’n Hofsitting vind dan voor God (The Ancient of Days) plaas, terwyl die horinkie vernietig en die ander diere se heerskappy weggeneem word.

Die heerskappy word vir ewig gegee aan die een “soos ’n seun van die mens” sodat almal op aarde hom sou dien.

Die verklaring van die visioen

Dan vra Daniël ’n verklaring van die visioen by “een van dié wat daar gestaan het”. Dié verklaring kom in twee gesprekke wat al hoe dieper op die betekenis van die visioen ingaan.

  1. Dié vier diere word verklaar as vier koninkryke (die aanname is dat hulle mekaar opvolg, maar steeds ’n sekere teenwoordigheid handhaaf) met die heiliges van die Allerhoogste (wat ’n parallel vorm met die een “soos ’n seun van die mens” in die visioen self) wat uiteindelik die koninklike heerskappy sal ontvang en vir ewig sal besit.
  2. Die vierde dier word dan in terme van die koninkryk se omvangryke impak verklaar sowel as in terme van die konings van dié ryk se onderlinge stryd en die effek op die geloofsgemeenskap wat uiteindelik net getroef sal kan word deur God self.

Die belangrikste punt van dié visioen en sy verklaring en trouens van die boek as sodanig, is dat dit God se greep op die geskiedenis onomwonde verheerlik, nie ten opsigte van elke detail daarvan nie, maar in terme van die uitkoms daarvan.

God sal die teenstand en geweld beëindig en ’n nuwe bedeling skep onder sy eie Heerskappy en dié van die een “soos ’n seun van die mens”. Die geloofsgemeenskap sal die direk bevoordeeldes daarvan wees in ’n bedeling wat vir altyd sal bestaan.

Die terme “seun van die mens” kan doodgewoon mens of mensekind beteken. Omdat hy egter net as soos ’n seun van die mens beskryf word, die mag en heerskappy oor alle mense aan hom gegee word en die frase eintlik parallel met die “heiliges van die Allerhoogste” (Dan 7:22) gebruik word, verteenwoordig hy die hele mensdom/geloofsgemeenskap voor God. Die een soos ’n seun van die mens vervul dus God se skeppingsbedoeling vir die mens soos dit in Genesis 1:26 voorsien is.

Die hantering van die term “seun van die mens” is dus heel anders as hoe soortgelyke mites in die Ou Nabye-Ooste gebruik is, bv. die Marduk mite. Die vergelyking met ander mitologiese verhale is dus interessant, maar nie regtig bruikbaar as verklaring van Daniël se gebruik van die term nie. Die NT se interpretasie hiervan wys dit ook duidelik.

Jesus identifiseer Homself by voorkeur as die “Seun van die mens” (meer as 70 keer) en is die enigste een in die evangelies wat die term gebruik (behalwe die skare wat die term gebruik om hom daaroor uit te vra in Joh. 12:34). Vergelyk veral Markus 14:62 waar Jesus uit Daniël 7:13 aanhaal.

Die martelaar Stefanus (Hand 7:56) en die apostel Johannes (Openb 1:13; 14:14) verbind die term ook aan Jesus. Stefanus sien die Seun van die mens, Jesus, aan die regterhand van God en Johannes beskryf die Seun van die mens, Jesus, in dieselfde goddelike voorkoms as die wese wat Daniël sien in sy vierde visioen (Dan 10-12) en verbind dit aan die term “Seun van die mens”.

Die NT getuienis is dus duidelik dat die “seun van die mens” in Daniël op Jesus van toepassing gemaak kan word. Dit is net in verskuilde verborge taal in Daniël weergegee, omdat die openbaring steeds ten dele geheim gehou is tot met die koms van Jesus.

Let egter op dat Daniël self nie enige verdere interpretasie gee van die verbintenis van dié diere en die gebeure aan historiese werklikhede nie. As ’n mens egter die diere van dié hoofstuk verbind aan die metale van Daniël 2 beteken dit:

  1. dat Nebukadnesar die leeu met arendsvlerke is, die eerste koninkryk, die Galdeërs, want dít is hoe Daniël die beeld se kop van goud interpreteer. Dit kom ook ooreen met Jeremia se beskrywing van Nebukadnesar (Jer. 49).
  2. Omdat die identiteit van die volgende koninkryk in Daniël 6 met die Mediërs-Perse verbind word, kan die beer waarskynlik op dieselfde wyse daaraan en aan die silwer bors en arms van die beeld in Daniël 2 verbind word. Só het Daniël 8 dit ook, dat die tweede koninkryk die Mediërs-Perse
  3. Die derde koninkryk is dan die Grieke, soos in Daniël 8, vermeld word, hoewel met ander beeldspraak. In Daniël 2 is hulle die brons metaal. Onthou ook dat die Grieke alreeds ’n opkomende mag was in Nebukadnesar se tyd waarvan Daniël kennis moes geneem het, gegewe sy posisie in Babel.
  4. Die vierde dier word nie direk geïdentifiseer nie. Die tradisionele interpretasie is egter die Romeine, maar daaroor later meer.

Boodskap en betekenis

’n Mens kan nie anders as om ’n parallel te trek met die soortgelyke tipe apokaliptiese boek van die apostel Johannes nie wat ook eers reg aan die einde van sy lewe die Openbaring geskryf het.

Die see is in beide boeke die plek vanwaar die koninkryke van die wêreld hulle oorsprong het, dit is, die domein van die Satan. Die diere in Daniël 7, veral die vierde vreesaanjaende sterk dier, toon ooreenkomste met die dier in Openbaring 13 wat ook uit die see opkom en tien horings en sewe koppe het (vgl ook Openb 12:3). Johannes identifiseer dit as ‘n beeld van Satan en sy mag (vgl ook Openb 20:1-3)

Net so beskryf Daniël 7 vir God op sy troon – The Ancient of Days – soos Openbaring dit regdeur doen, veral in hoofstuk 4-5 en 19-22. Soos God die diere oordeel in Daniël 7, só doen Hy dit ook in Openbaring deur die mag van hulle koninkryke te verbreek deur sy koninkryk vir ewig te vestig.

Dieselfde geld Daniël 7 se beskrywing van ‘n Seun van die Mens wat met die wolke van die hemel kom en ‘n ewige koninkryk ontvang. Johannes beskryf dit op soortgelyke wyse in Openbaring 1:13 en 14:14 en verbind dit onteenseglik aan die Here Jesus Christus.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Daniël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar