Daniël 7 – God gee die heerskappy aan een “soos ‘n seun van die mens”
Vier groot visioene
Die vier groot visioene wat Daniël gesien het (hfst. 7-12) kom aan die einde van sy lewe, tydens Belsasar se regering en aan die begin van Darius/Kores s’n – vanaf 551 v.C. ’n Mens kan nie anders as om ’n parallel te trek met die soortgelyke tipe apokaliptiese boek van die apostel Johannes nie wat ook eers reg aan die einde van sy lewe die Openbaring geskryf het.
Waar die eerste deel van die boek Daniël in die derde persoon geskryf is, word die visioene in die tweede deel van die boek meesal in die eerste persoon weergegee as die woorde van Daniël self. Die opeenvolging van konings in Daniël se lewe sowel as die transformasie van een wêreldmoondheid na ’n ander met die aanvang van Darius se koningskap was ’n vrugbare bedding vir nadenke oor die toekoms, waarbinne God sy openbaring aan Daniël gegee het. Dit word nie as verifieerbare geskiedenis aangebied nie, maar as beelde, simbole en verwysings met verskuilde betekenisse wat moeilik is om te interpreteer.
- Die eerste visioen is waarskynlik ’n herhaling en uitbreiding van die droom-visioen van Nebukadnesar (hfst. 2) oor die vier koninkryke wat deur God se koninkryk vervang word en wat deur een “soos ’n seun van die mens” in ontvangs geneem word – hfst. 7. Daarom is dit ook in Aramees, soos hfst. 2 was. Die volgende deel van Daniël tot aan die einde van die boek is egter in Hebreeus.
- Die tweede visioen (2 jaar later) is waarskynlik ’n uitbreiding van die eerste een en identifiseer die tweede en derde koninkryke met die Mediërs-Perse en die Grieke, waarmee die visioen van hfst. 2 nog verder uitgelê word – hfst. 8.
- Die derde visioen kom ná Daniël – in die eerste jaar van Darius, 539 v.C. – die beloftes van die Here in die boek Jeremia oor ’n terugkeer in ballingskap gelees het en dit voor God in gebed gebring het. Die Here gee dan vir hom die visioen van die sewentig weke wat uitmond in die onskuldige dood van God se uitverkore regeerder waarna die einde sal kom – hfst. 9.
- Die vierde visioen is ’n openbaring van wat met die volk van God in die toekoms gaan gebeur, oorgedra deur ’n besondere boodskapper wat oënskynlik groter status het as die engele en ooreenkomste toon met die beskrywing van die Here self in die OT (Eseg. 1:26-28) sowel as die verheerlikte Here Jesus in die NT (Open 1:12-16), maar tog nie hier direk as die Here self geïdentifiseer word nie – hfst. 10-12.
Terloops, soos dit oorwegend die geval is in die res van die OT speel Satan geen rol in die boek Daniël nie, selfs nie eers in sy visioene nie, hoewel daar ’n hele paar keer na engele verwys word, ook engele wat veg met mekaar (hfst. 10-12). Ons vind direkte verwysings na Satan in die OT net in eerste deel van die boek Job (hfst. 1-2), en dan in die ná-ballingskap boeke van die Kronis (1 Kron. 21:1) en die profeet Sagaria (3:1-2). Selfs verwysings na bose geeste is skraps in die OT (vgl. 1 Sam 16:14). Dit is eers met die koms van Jesus en die verkondiging van die evangelie wat die gordyn op die demoniese werklikheid oopgetrek word en God se oorwinning oor alle bose magte openbaar word met die kruisdood en opstanding van die Here Jesus Christus.
Vier koninkryke mond uit in God se koninkryk
Die visioen vind plaas in die eerste regeringsjaar van koning (regent) Belsasar, ongeveer 551 v.C.
Let op dat Daniël die visioene in ’n droom gehad het wat hy ná die tyd neergeskryf het. Dit is dié skriftelike weergawe wat ons van vers 2 af kry.
Die visioen self is in twee dele:
Die visioen van die diere
Eers sien Daniël ’n opeenvolging van diere wat uitmond in die heerskappy wat aan die een “soos ’n seun van die mens” gegee word deur “Hy wat ewig lewe” (7:9,13,22 – The Ancient of Days – ek wonder hoeveel mense bewus is daarvan dat dié populêre geestelike lied se woorde uit Daniël kom!):
- ’n Leeu met arendsvlerke wat menslike eienskappe ontvang (interessant Jeremia gebruik beide ’n leeu as ’n arend in sy beskrywing van Nebukadnesar – Jer. 49:19-22 – en sy transformasie in hoofstuk 4 herinner nogal aan dié beskrywing).
- ’n Beer met drie ribbebene in die bek wat in opdrag alles verslind wat voorkom.
- ’n Luiperd met vlerke en vier koppe aan wie heerskappy gegee is.
- ’n Vierde skrikwekkende, vreesaanjaende sterk dier met ystertande wat alles verslind en vermorsel. Drie van sy tien horings word uitgeruk om vir ’n nuwe klein horinkie plek te maak wat ook menslike eienskappe gehad het en allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.
’n Hofsitting vind dan voor God (Ancient of Days) plaas, terwyl die horinkie vernietig en die ander diere se heerskappy weggeneem word.
Die heerskappy word vir ewig gegee aan die een “soos ’n seun van die mens” sodat almal op aarde hom sou dien.
Die verklaring van die visioen
Dan vra Daniël ’n verklaring van die visioen by “een van dié wat daar gestaan het”. Dié verklaring kom in twee gesprekke wat al hoe dieper op die visioen ingaan.
- Dié vier diere word verklaar as vier koninkryke (die aanname is dat hulle mekaar opvolg, maar steeds ’n sekere teenwoordigheid handhaaf) met die heiliges van die Allerhoogste (wat ’n parallel vorm met die een “soos ’n seun van die mens” in die visioen self) wat uiteindelik die koninklike heerskappy sal ontvang en vir ewig sal besit.
- Die vierde dier word dan in terme van die koninkryk se omvangryke impak verklaar sowel as in terme van die konings van dié ryk se onderlinge stryd en die effek op die geloofsgemeenskap wat uiteindelik net getroef sal kan word deur God self.
Die belangrikste punt van dié visioen en sy verklaring en trouens van die boek as sodanig, is dat dit God se greep op die geskiedenis onomwonde verheerlik, nie ten opsigte van elke detail daarvan nie, maar in terme van die uitkoms daarvan. Hy sal die teenstand en geweld beëindig en ’n nuwe bedeling skep onder sy eie Heerskappy en dié van die een “soos ’n seun van die mens”. Die geloofsgemeenskap sal die direk bevoordeeldes daarvan wees in ’n bedeling wat vir altyd sal bestaan.
Die terme “seun van die mens” kan doodgewoon mens of mensekind beteken. Omdat hy egter net as soos ’n seun van die mens beskryf word, die mag en heerskappy oor alle mense aan hom gegee word en die frase eintlik parallel met die “heiliges van die Allerhoogste” (7:22) gebruik word, verteenwoordig hy die hele mensdom/geloofsgemeenskap voor God. Die een soos ’n seun van die mens vervul dus God se skeppingsbedoeling vir die mens soos dit in Gen. 1:26 voorsien is.
Die hantering van die term “seun van die mens” is dus heel anders as hoe soortgelyke mites in die Ou Nabye-Ooste gebruik is, bv. die Marduk mite. Die vergelyking met ander mitologiese verhale is dus interessant, maar nie regtig bruikbaar as verklaring van Daniël se gebruik van die term nie. Die NT se interpretasie hiervan wys dit ook duidelik.
Jesus identifiseer Homself by voorkeur as die “Seun van die mens” (meer as 70 keer) en is die enigste een in die evangelies wat die term gebruik (behalwe die skare wat die term gebruik om hom daaroor uit te vra in Joh. 12:34). Vergelyk veral Mark. 14:62 waar Jesus uit Daniël 7:13 aanhaal. Die martelaar Stefanus (Hand 7:56) en die apostel Johannes (Open 1:13; 14:14) verbind die term ook aan Jesus. Stefanus sien die Seun van die mens, Jesus, aan die regterhand van God en Johannes beskryf die Seun van die mens, Jesus, in dieselfde goddelike voorkoms as die wese wat Daniël sien in sy vierde visioen (hfst. 10-12) en verbind dit aan die term “Seun van die mens”. Die NT getuienis is dus duidelik dat die “seun van die mens” in Daniël op Jesus dui. Dit is net in verskuilde verborge taal in Daniël weergegee, omdat die openbaring steeds ten dele geheim gehou is tot met die koms van Jesus.
Let egter op dat Daniël self nie enige verdere interpretasie gee van die verbintenis van dié diere en die gebeure aan historiese werklikhede nie. As ’n mens egter die diere van dié hoofstuk verbind aan die metale van hfst. 2 beteken dit dat Nebukadnesar die leeu met arendsvlerke is, want dít is hoe Daniël die beeld se kop van goud interpreteer. Dit kom ook ooreen met Jeremia se beskrywing van Nebukadnesar (Jer. 49).
Omdat die identiteit van die volgende koninkryk in hfst. 6 met die Mediërs-Perse verbind word, kan die beer waarskynlik op dieselfde wyse daaraan en aan die silwer bors en arms van die beeld in hfst. 2 verbind word. Só het hfst. 8 dit ook, dat die tweede koninkryk die Mediërs-Perse is. Die derde koninkryk is dan die Grieke, soos in hfst. 8, vermeld word, hoewel met ander beeldspraak. In hfst. 2 is hulle die brons metaal. Onthou ook dat die Grieke alreeds ’n opkomende mag was in Nebukadnesar se tyd waarvan Daniël kennis moes geneem het, gegewe sy posisie in Babel. Die vierde dier word nie direk geïdentifiseer nie. Die tradisionele interpretasie is egter die Romeine, maar daaroor later meer.
View all posts in this series
- Inleiding oor die boek Daniël
- Daniël 1-2 – Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome
- Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy
- Daniël 5 – Geniet God se geduld en genade deur gehoorsaamheid te omhels, anders is jou dae ook getel
- Daniël 6 – God red Daniël van die leeus as getuienis van sy aktiewe betrokkenheid in die wêreld
- Daniël 7 – God gee die heerskappy aan een “soos ‘n seun van die mens”
- Daniël 8 – ’n Nader beskrywing van die koninkryk van die Mediërs-Perse en veral die Grieke
- Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening
- Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed
- Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe
Tags: Daniël
Trackback from your site.
Louise Kock-Mostert
| #
Sal die lering graag wil afrol en in my eie tyd daardeur gaan.
Baie insiggewend.
Reply