Psalm 12 – Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring
Psalm 12 – Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring
1Vir die musiekleier. Op “Die agtste”. ‘n Psalm. Van Dawid. 2Verlos tog, Here! Want daar is nie meer getroue volgelinge nie; die betroubares onder die mense het verdwyn. 3Die een mens belieg die ander; met vleiende lippe praat hulle uit twee monde. 4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat, 5hulle wat sê: “Danksy ons tonge is ons sterk; ons lippe is onder ons beheer. Wie is heer oor ons?” 6“Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nóú opstaan,” sê die Here. “Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring.” 7Die Here se woorde is suiwer woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltoond in die grond, dit is sewe maal gesuiwer. 8U, Here, moet hulle beskerm; U moet elkeen altyd veilig hou teen hierdie geslag. 9Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier.
Die Psalmis worstel met die gebrek aan betroubaarheid in die gemeenskap wat van die wêreld ’n onveilige plek maak. En dit is die armes wat die meeste daaronder ly. Daarom maak hy staat op die Here se beskerming en hulp midde in die goddeloosheid en onreg wat hoogty vier.
Let op hoe die Psalm menslike vleitaal (12:2-5) met Goddelike betroubare woorde (12:6-9) kontrasteer. Die vleitaal kom uit ‘n dubbele hart – die Hebreeus in vers 3 sê letterlik: “met vleiende lippe spreek hulle uit ’n dubbele hart”. Dit beteken, hulle weet in hulle hart (hart as die setel van die gedagtes in die Jode se verstaan – die niere was as die setel van emosies gereken) wat die regte ding is, maar kies om anders te praat of vanuit ‘n ander hart te leef. Nog dieper as hierdie onbetroubaarheid is hulle hoogmoed, wat na vore kom in hulle grootpratery, en boonop om te dink hulle sal wegkom daarmee. Hulle buig voor niemand nie. Hierdie gebrek aan betroubaarheid bring egter die lewe self in gedrang.
Maar … die vertrapping van die swakkes en armes bring God in beweging en laat Hom belowe om hulle te hulp te kom! “Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nóú opstaan,” sê die Here. ‘Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring.’” (vers 6). Dit is die belofte wat die Psalmis aangryp en waaraan hy die Here herinner, eintlik meer in ’n stelling as in ’n vraag of gebed: “U, Here, moet hulle beskerm; U moet elkeen altyd veilig hou teen hierdie geslag. Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier” (vers 8-9).
Craigie sê hiervan: ”The danger experienced in mortal speech was to be repelled by the power inherent in divine speech. For those who experience the assault of evil speech, the solution is not to be found in the return of evil speech to enemies, but in confidence in the Word of God, which is firm and cannot be moved.” (Psalms)
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-12-vertrou-op-die-beloftes-van-die-here/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar