Jesaja 65:17-25 – Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord
Dit is binnekort die laaste van ons reeks van 365 belofte. Ons maak hierdie projek die 24ste November klaar.
Jesaja 65:17-25 – Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord
17“Ja, Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie. 18Maar wees bly en juig vir altyd oor wat Ek gaan skep. Ja, kyk, Ek gaan Jerusalem skep as iets om oor te juig, en haar volk tot ‘n vreugde. 19Ek sal oor Jerusalem juig en oor my volk bly wees. In haar sal die klank van gehuil nie weer gehoor word nie, ook nie die klank van ‘n geroep om hulp nie. 20Daar sal nie meer ‘n suigeling wees van net enkele dae, of ‘n bejaarde wat nie sy lewensdae voltooi nie. Want die jongste sal op honderd jaar sterf, en wie nie honderd jaar bereik nie, sal as ‘n vervloekte beskou word. 21Hulle sal huise bou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet. 22Hulle sal nie bou, sodat ‘n ander dit bewoon nie, of plant, sodat ‘n ander dit eet nie. Want soos die lewensdae van ‘n boom, sal die lewensdae van my volk wees. Die arbeid van hulle hande sal my uitverkorenes self geniet. 23Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie; hulle sal nie kinders verwek vir ‘n verskriklike lot nie; want hulle sal ‘n geslag geseëndes van die Here wees, en hulle nakomelinge saam met hulle. 24Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord; hulle sal nog besig wees om te praat, dan verhoor Ek hulle al. 25‘n Wolf en ‘n lam sal saam wei, ‘n leeu sal soos ‘n bees hooi eet; maar ‘n slang – stof sal sy kos wees. Mense sal nie kwaad aanrig of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie,” sê die Here.
God gee in sy antwoord op Jesaja se gebed vir die volk ‘n perspektief op die heerlike toekoms wat vir hulle wag. Hy beklemtoon wel eerstens dat daar steeds oordeel sal wees vir dié wat aanhou om te sondig (Jes 65:1-16), maar vir dié wat na sy wil vra, sal ‘n heerlike toekoms aanbreek, ‘n nuwe hemel en aarde (Jes 65:17-25).
Let op dat God ‘n nuwe hemel en aarde skep om opnuut bly te kan wees oor sy mense en saam met hulle te leef sonder dat daar rampe of ‘n einde weens ouderdom sal wees. Hierdie nuwe toekoms belowe verandering op alle vlakke:
- LEWENSVREUGDE: vreugde onder alle inwoners, geen smart of nood, geen kindersterftes, ‘n lang lewe vir almal (100-jariges is jonk!),
- ARBEIDSVREUGDE: eie druiwe eet, self die vrug van handewerk geniet, nie tevergeefs vermoei nie;
- VEILIGHEID: veilige huise, veiligheid van rampe, veiligheid as volk, veiligheid tussen diere in die natuur, niks verkeerds word gedoen nie, niks word vernietig nie;
Vreugde en veiligheid – dít is die substansie van die nuwe hemel en nuwe aarde!
Let verder op:
- God wil goed doen, selfs aan dié mense wat Hom nie soek nie. Hy sal uit sy pad gaan om hulle te bereik. Ons kan ook daarvoor bid. Selfs in God se oordeel kan daar uitkoms wees, en ons kan mense daartoe uitnooi. God is nie ’n ontoeganklike afsydige wese nie.
- God oordeel diegene wat Hom ken, maar Hom nie langer wil erken en na Hom luister nie. Vir ‘n Jeremia het die Here nie verniet eenmaal net voor die ballingskap van die 6de eeu vC gesê nie, selfs al sal die groot Intersessors, Moses en Samuel, vra dat Hy sy oordeel afwend, sal Hy dit nie doen nie (Jer 15:1). Daar kom ‘n tyd wat ‘n positiewe antwoord op gebed nie meer gegee kan of sal word nie. God is nie ‘n onaktiewe wese nie. Hy tree op waar sy eer in gedrang kom.
- God doen goed aan mense wat na Hom luister en Hom dien. Hy antwoord hul gebede. Trouens, Hy antwoord voordat hulle roep! Daarvan getuig Jesaja hier, en vele ander gedeeltes in die Bybel. Dit is ook die ervaring van gelowiges regdeur die eeue. Dit beteken nie dat ‘n mens alles kry presies soos jy dit vra nie, al gebeur dit meer as wat die meeste ongelowiges wil erken. Dit beteken ook nie dat jy alle leed en pyn en lyding gespaar word nie. Dit sou ‘n tipiese voorspoedsteologie jou belowe, wat egter nie deur Christene se ervarings deur die eeue bevestig word nie. Lees maar net Hebreërs 11 daaroor. God is nie ‘n outomatiese slotmasjien wat jou gee net wat jy vra nie. Hy is soos ‘n pa of ‘n ma wat binne ‘n verhouding vir ons gee wat ons nodig het binne die groter plan wat Hy met die wêreld het.
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-65-terwyl-hulle-nog-praat-sal-ek-hulle-gebed-verhoor/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Frans Marais
More Chris, ons het Jesaja en Johannes baie geniet. Hoe en waar kry ek die 365 Beloftes.
Ons groep wil dit baie graag doen.
Frans Marais
Chris van Wyk
Hi Frans, julle kan dit op die web lees: https://bybelskool.com/beloftes/. Dit is in dag- en datum volgorde gelys op daardie bladsy.