Lukas 20:27-38 – Die opstanding uit die dood is vir dié wat waardig geag word vir die toekomstige bedeling
Lukas 20:27-38 – Die opstanding uit die dood is vir dié wat waardig geag word vir die toekomstige bedeling
27Sommige van die Sadduseërs, wat sê dat daar nie ‘n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: 28“Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer ‘n nageslag verwek.’ 29So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het ‘n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. 30Ook die tweede 31en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. 32Ten laaste het ook die vrou gesterf. 33Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” 34Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, 35maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. 36Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. 37Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. 38Hy is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes.” 39Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het ‘n goeie antwoord gegee.” 40Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.
Die briljante antwoorde van Jesus aan die leierpriesters en skrifkenners bring die Sadduseërs in spel – self intellektueles wat op heel moderne skeptiese wyse die geesteswêreld ontken het, bv deur die opstanding uit die dode te ontken. Hulle was boonop deel van die ryker elite. Hulle kom met ‘n skynheilige vraag oor die opstanding, want dit is iets waarin hulleself nie geglo het nie. Kan jy nou meer! Daar is regtig niks nuuts onder die son nie. En onthou dat Annas en Kajafas, die twee hoëpriesters wat Jesus se lot in die skynverhoor ‘n paar dae later bepaal, ook Sadduseërs was!
Die Sadduseërs haal die Bybel aan – amper soos die duiwel in sy tweede en derde versoeking in die woestyn ook die Bybel begin gebruik het – in Deuteronomium (25:5-6) en verwys na die leviraatgebruik, die sogenaamde swaershuwelik, waar ‘n broer ‘n nageslag vir sy kinderlose oorlede broer moet verseker deur met die weduwee te trou. Hulle problematiseer dit egter deur ‘n amper onmoontlike situasie te skets dat sewe broers gesterf het sonder ‘n nageslag en dat die vrou met wie hulle almal getrou het op die ou end kinderloos sterf. En dan vra hulle heel skepties wie se vrou sy sou wees in die opstanding.
Jesus antwoord nie net hulle vraag nie – deur te wys op hulle onkunde oor wat in die lewe na die dood aangaan – maar Hy daag eintlik ook hulle hele verstaan van hierdie lewe uit. Mense in hierdie lewe word in huwelik bevestig, maar nie in die lewe hierna nie. Let op na die gordyn wat Jesus oopskuif oor die lewe hierna. Eerstens moet ‘n mens waardig geag word om aan die hiernamaals deel te kry. Die ewige lewe is die deel van dié wat in Jesus glo en Hom gehoorsaam. Waardigheid lê dus in ‘n geloofsverhouding met Hom. Tweedens word die gawe van onsterflikheid aan “kinders van die opstanding” gegee. Hulle is soos die engele, maar eintlik nog verhewe bó die engele, omdat hulle kinders van God is (vgl Joh 1:12; Rom 8:23).
Dan wy Jesus uit oor die opstanding as sodanig en wys hulle uit Eksodus 3:6 op die feit dat die Skrif self die bestaan na die dood bevestig, dié Skrif wat vir hulle kwansuis so kosbaar was, maar waarin hulle tog nie geglo het nie en veral nie aan gehoorsaam was nie: “Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes, want vir Hom lewe hulle almal.” Hierdie is ‘n tydige woord ook vir OT teoloë wat selfs vandag nog sê dat die OT nie direkte uitsprake maak oor die opstanding van die dooies nie (vgl egter Job 19:25-27; Jes 26:19; 53:10-11; Ps 16:10; 49:15; 71:20; Dan 12:2). Geen wonder dat van die skrifgeleerdes Jesus prys oor sy goeie antwoorde nie, want hulle het ’n groot waardering vir ’n groot intellek gehad. As hulle Hom maar net as God ook kon erken.
Dit tref my dat Jesus aan die een kant só vernuftig kringe kan loop rondom die skynheiligheid en bose bedoelings van skeptiese en siniese mense, maar aan die ander kant die geleentheid gebruik om nie net die waarheid te verkondig nie, maar selfs vir sy dissipels die skrefie op die hiernamaals ‘n bietjie groter oop te trek. My gedagtes loop dus van ‘n bewondering vir Jesus se vernuftige antwoorde na ‘n verwondering van wat vir ons as “kinders van die opstanding” wag. Dit vul my met verwagting!
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-1945-2047-jesus-het-nie-net-n-groot-intellek-nie-maar-veral-diep-wysheid/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar