2 Tessalonisense 3:1-18 – Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar
2 Tessalonisense 3:1-18 – Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar
1Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, 2en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie. 3Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar. 4Deur die Here vertrou ons dat julle ook dit doen, en sal aanhou doen, wat ons julle beveel het. 5Mag die Here julle harte rig op die liefde van God en die volharding van Christus. 6Maar ons beveel julle in die Naam van ons Here Jesus Christus, broers, dat julle elke broer moet vermy wat hom onordelik gedra, en nie optree volgens die oorlewering wat hulle van ons ontvang het nie. 7Julle weet tog self hoe nodig dit is dat julle ons voorbeeld volg. Ons het ons immers nie onordelik onder julle gedra nie; 8ons het niemand se brood sonder betaling geëet nie, maar met swoeg en sweet, bedags en snags gewerk, sodat ons vir niemand van julle ‘n las sou wees nie – 9nie dat ons nie die reg daartoe gehad het nie, maar sodat ons onsself vir julle as voorbeeld kon stel om na te volg. 10Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. 11Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. 12Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien. 13Maar julle, broers, julle moenie moeg word om goed te doen nie. 14As iemand egter nie ons opdrag in hierdie brief gehoorsaam nie, merk hom, en vermy hom, sodat hy skaam kry. 15Julle moet hom egter nie as ‘n vyand beskou nie, maar vermaan hom as ‘n broer. 16Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal. 17Dié groetwoord in my eie handskrif: Van Paulus. Dit is my waarmerk in elke brief. Só skryf ek. 18Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle almal!
Die Bose is natuurlik nie net beperk tot die persoon van die Satan self of die wetteloosheid wat aan die werk is in die wêreld nie. Verkeerde (letterlik: mense wat uit plek uit is!) en slegte mense kom ook in die geledere van die gemeente voor: “nie almal is gelowiges nie.” Interessant is Paulus se voorskrif nie dat sulke mense uitgesnuffel moet word en uit die gemeente geban moet word nie. ’n Mens kan natuurlik lelike foute op dié manier begaan. Hy skryf gebed voor die gemeente en vir die werkers in die wingerd van die Here. Dit is na alles God wat ons van die Bose bewaar. Dit is sy belofte aan ons ( vgl Matt 6:13).
Paulus se voorskrif tot gebed ook vir die werkers herinner aan Jesus se opdrag in Lukas 10:2: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” Maar die Woord word nie net deur die volgehoue arbeid van geestelike werkers versprei nie, maar spesifiek ook deur die gebede van die gemeente vir die bestaande werkers, in dié geval Paulus-hulle. Vers 5 spoor die gemeente aan om aan die een kant God se liefde vir hulle te onthou. Dit sal hulle versterk. Maar Hy hou ook die voorbeeld van Christus voor, spesifiek sy volharding. Dit sal hulle moed gee om hulle eie geloofswedloop te voltooi.
Paulus moedig dan die Tessalonisense aan om nie leeg te lê nie, maar hulle eie brood te verdien, soos Spreuke 14:23 ook sê: “Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.” Dit bring natuurlik nie net voordeel vir hulleself nie, maar ook vir die koninkryk. Hierin kan hulle Paulus se voorbeeld volg, wat self vir sy eie brood gewerk het in Tessalonika, al kon hy eintlik sy reg as apostel uitgeoefen het om van hulle voorsiening gebruik te maak. Sy opdrag aan die gemeente om hulle aan leeglêers te onttrek kan moontlik die eerste vorm van sensuur in die Christelike kerk wees. Dit is ook interessant dat die doel is om die oortreder terug te wen deur hom skaam te maak. Dit moet egter nie in ’n vyandige gesindheid geskied nie, omdat dit die saak van die evangelie sou skaad. Hy sluit die brief af met ’n bemoediging tot volharding in goed doen, sowel as ’n seënbede, in sy eie handskrif.
Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/2-tessalonisense-36-13-moenie-moeg-word-om-goed-te-doen-nie/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar