Spreuke 4:20-27 – Spits jou ore vir my woorde, want dit is die lewe vir hulle wat dit vind
Spreuke 4:20-27 – Spits jou ore vir my woorde, want dit is die lewe vir hulle wat dit vind
20“My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. 21Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. 22Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing. 23Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe. 24Bly weg van ‘n mond wat valsheid verkondig, en slinkse lippe, hou dit ver van jou. 25Jou oë moet vorentoe kyk, jou blik moet reg voor jou gerig wees. 26Hou die pad vir jou voet gelyk; en al jou weë, laat dit bestendig wees. 27Moenie regs of links afdraai nie, hou jou voet weg van die kwaad.”
Die volgende lewensles van die pa aan sy seun is om koers te hou op die pad van wysheid. In die proses is sy ore (Spr 4:20), hart (Spr 4:23), mond (Spr 4:24), oë (Spr 4:25), en voete (Spr 4:26) belangrik, almal metafore vir aspekte van sy soeke na en uitlewe van die wysheid.
- Sy ore moet vir die wyse onderrig van sy rolmodelle uitgeleen word. Hulle leiding en opvoeding moet gevolg en nageboots word.
- Sy binnekant moet beskerm word teen boosheid en negatiwiteit, meer as enigiets anders. Dit máák saak wat ’n mens dink en hoe jy dink.
- Sy mond moet reguit praat en leuens en misleiding soos die pes vermy.
- Sy oë moet reguit kyk na die pad waarvoor hy deur die wysheid geroep is. Hoewel dit in dié konteks meer met eerlikheid en opregtheid te make het, laat dit my tog ook dink aan Job wat van homself gesê het dat hy ’n verbond met sy oë gesluit het om nie na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1), en Jesus wat dieselfde sentiment in die Bergrede gebesig het (Matt 5:28).
- Sy voete moet doelgerig bly op die pad wat die wysheid vir hom afgebaken het. Sy lewenstyl moet verband hou met wat in sy binneste gebeur.
In jou vertroue op God, en in jou luister na Hom en in die inspanning om die regte pad te vind en daarop te hou, is daar miskien min dinge wat so belangrik is, as om jou hart – jou binnekant – bo alles te bewaar, om versigtig om te gaan met jou diepste oortuigings en motiverings: “Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe.” (Spr 4:23). Hart het hier te make met jou gedagtes en jou binnewêreld, jou binnekant, die plek waar die onderskeiding gebeur tussen dit wat goed is en dit wat sleg is.
Maar natuurlik is dit nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie. Jy moet ook die pad stap wat God wys. Soos Spreuke sê: “Hou die pad vir jou voet gelyk; en al jou weë, laat dit bestendig wees.” (Spr 4:26) Soos die 1983-vertaling dit weergee: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.” En vers 27: “Moenie regs of links afdraai nie, hou jou voet weg van die kwaad.” Soos die Spreuke van die Wyses later sal eggo: “Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad” (Spr 23:19). Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-41-27-baken-jou-koers-af/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar