Skip to main content

Tag: Beloftes

Kolossense 3:1-11 – Julle lewe is saam met Christus verborge in God

27 Julie

Kolossense 3:1-11 – Julle lewe is saam met Christus verborge in God

1As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. 2Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. 3Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. 5Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. 6As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. 7Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. 8Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. 9Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, 10en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. 11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal.

Dit is uiters belangrik om oor jouself en die geloofsgemeenskap vanuit julle verbintenis met Christus Jesus te dink. Want dit beïnvloed alles. Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie. Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo. Ons status verander. Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe. Trouens, ons lewe is verborge in God. En daarom is ons toekoms verseker. Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn. Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo om al hoe meer te word wat ons in wese reeds is, “kinders van God”. Ons lewe wat in God verborge is, moet só al hoe meer sigbaar raak op aarde. Paulus bedoel dus nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie. Hy bedoel iets heel anders. Hy moedig ons aan dat ons sal toesien dat ons gedagtes en gedrag vry sal raak van dié dinge wat die “seuns / kinders van ongehoorsaamheid” nog doen en vol sal raak van die dinge daarbo, dié dinge wat hoort by die “kinders van God”.

Paulus noem hier twee groepe van vyf sondes elk in vers 5-8 wat ons daarom moet aflê. (In vers 12 sal hy vyf deugdes noem wat ons moet opneem, waarna ons môre kyk). Die eerste groep sondes het met begeertes of gedrag wat jou persoonlik besoedel, te make: onsedelikheid (porneia – enige seks van enige aard buite die huwelik), onreinheid (akatharsia – om mekaar se liggame seksueel te onteer [vgl Rom 1:24]), wellus (pathos – sterk seksuele drange wat bv tot oneerbare gedrag aanleiding gee [vgl Rom 1:26]), slegte begeertes (epithumian kakēn – bose of immorele begeertes, of om te wil hê wat aan iemand anders behoort), en gierigheid (pleonexia – om meer as ander mense te wil hê) wat in wese afgodediens is (die ding wat jy begeer word vir jou soos ‘n afgod). Ons is juis nie meer onder die toorn van God wat steeds rus op die “seuns van ongehoorsaamheid” (mense wat dié dinge doen) nie. Ons mag dus nie dat dié dinge weer ons lewe kenmerk nie.

Die tweede groep sondes het met houdings en gedrag wat die geloofsgemeenskap besoedel, te make:  woede (orgē – om in ‘n toestand van woede te wees), driftigheid (thumos – om in toestand van intense woede te wees met passievolle uitbarstings), kwaadwilligheid (kakia – ‘n gevoel van vyandigheid en sterk afkeer, met ‘n moontlike implikasie van die begeerte om skade te doen), lastering (blasphēmia – om iets oor mense te sê wat hulle reputasie skade kan berokken), en onwelvoeglike taal (aischrologia – skandelike en vulgêre praatjies; vuil taal; beledigende skeltaal). Paulus som dit op deur hulle aan te moedig om eerlik en opreg met mekaar te kommunikeer sodat die onderlinge vertroue gebou kan word. En dit is net moontlik as ‘n mens die ou mens uittrek, die nuwe mens aantrek, en toelaat dat die Here self jou na sy beeld sal vernuwe. Wat meer is, dan val selfs die ou onderskeidings wat daar tussen mense was, weg (die Skittiërs was nomadiese stamme wat van Sentraal-Asië ooswaarts gemigreer het en hulle in die suide van Rusland gevestig het en ook as barbaars gereken is). Dan sal Christus alles wees en in almal. Watter belofte!

Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-31-41-leef-as-nuwe-mense/

Psalm 107:1-9, 42-43 – God lei verdwaaldes na ‘n woonplek

26 Julie

Ps 107:1-9, 42-43 – God lei verdwaaldes na ‘n woonplek

1“Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde,” 2moet hulle sê wat deur die Here vrygekoop is, hulle wat Hy vrygekoop het uit die hand van teenstanders, 3en byeengebring het uit alle lande, uit die ooste en die weste, uit die noorde en vanaf die see. 4Hulle het in die woestyn rondgedwaal, in die wildernis was hulle op pad; ‘n stad, ‘n woonplek, kon hulle nie kry nie. 5Honger en dors was hulle; die lewenskrag in hulle het weggekwyn. 6Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle gered. 7Hy het hulle op ‘n gelyk pad gelei om na ‘n stad, ‘n woonplek, te gaan. 8Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders; 9want Hy het die dors van hulle kele geles, en die honger van hulle kele het Hy gestil met wat goed is… 42Opregtes sien dit en is verheug; maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe. 43Wie wys is, moet hierop ag slaan en op die troue liefde van die Here let.

(Lees gerus die res van die Psalm!)

Psalm 107 begin met ‘n refrein wat jy as lewensmotto kan gebruik. “Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.” Daarmee gee die Psalmis vir gelowiges van alle tye beide ‘n belydenis en ‘n gebed, ‘n lofprysing en ‘n herinnering, ‘n stelling oor God se karakter en ‘n sug na God se ingrype in hierdie wêreld. Iets wat jy vandag kan neerskryf of memoriseer en as gebed die volgende tyd kan gebruik. Die refrein bepaal ook die struktuur van die Psalm. Die eerste drie verse gaan oor God se goedheid. Die volgende verse tot by vers 43 gaan oor sy liefde wat nooit tot ‘n einde kom nie.

Die Psalm begin met die motief van die terugkeer na hulle land as bewys van God se getrouheid. Dit bewys dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie. Dit is daarom ook ‘n dankpsalm. Die Psalm volg dit op met ‘n beskrywing van God se goedheid aan ses groepe wat Hom daarvoor moet prys. Ons lees vandag net van die belofte van sy goedheid vir die eerste groep: God lei verdwaaldes na ‘n woonplek (vers 4-9). Waar verdwaaldes in die woestyn gesmag het na water om te drink en kos om te eet – moontlik met die Eksodus uit Egipte as agtergrond – het God hulle hulpgeroep gehoor en hulle uit hulle ellende gered. Hy het hulle op die regte pad gebring (vgl Ps 1). “Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het.”

Die Psalm eindig in vers 42-43 met die waarneming dat waar opregtes dié dinge sien, is hulle bly, “maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe!” Dit beteken dat God se getrouheid die monde van die onregverdiges snoer. Ek het veral gehou van dié vertaling: “Good people see this and are glad; bad people are speechless, stopped in their tracks.” (The Message). Opregtes is dus bly omdat die dade van God se getrouheid wys dat God in staat is om die onreg en verdrukking om te keer. Die punt is dat God se goedheid en getrouheid bose mense en onreg stilmaak. Daarom moet ons sonder ophou daaroor praat en God daarvoor loof. God is goed. Hy is regtig goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Hom kan jy vertrou. Loof en dank die Here!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-107-god-is-goed-en-getrou-aan-sy-liefde-is-daar-geen-einde-nie/

Hosea 11:1-11 – God red altyd ‘n oorblyfsel wanneer Hy sy volk oordeel

25 Julie

Hosea 11:1-11 – God red altyd ‘n oorblyfsel wanneer Hy sy volk oordeel

1“Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep. 2Toe daar later net so na hulle geroep is, het hulle van My af weggegaan. Hulle het vir die Baäls offers geslag, vir afgodsbeelde die rook van offers laat opstyg. 3“Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle in my arms geneem, maar hulle wou nie erken dat Ek hulle versorg nie. 4“Met menslike bande het Ek hulle nadergetrek, met die toue van liefde. Ek was vir hulle soos dié wat die juk lig wat teen hulle kake druk. Ek het na Efraim afgebuk, hom gevoed. 5“Hy sal nie na Egipteland teruggaan nie, maar Assirië, dié sal sy koning wees; want hulle het geweier om hulle te bekeer. 6Die swaard sal deur sy stede gaan en sy orakelpriesters uitroei; dit sal hulle vernietig oor die raad wat hulle gegee het. 7My volk sal opgehang word vir sy afvalligheid, en na die juk sal hulle hom roep, ‘n juk wat glad nie gelig sal word nie. 8“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel? Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My. 9Ek sal nie in my brandende toorn optree nie; Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie; want Ek is God, nie ‘n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” 10Hulle sal die Here volg. Soos ‘n leeu sal Hy brul; wanneer Hy brul, sal kinders bewend van die see af kom. 11Hulle sal bewend aankom soos voëls uit Egipte, en soos ‘n duif uit die land Assirië. “Ek sal hulle in hulle huise laat woon,” is die uitspraak van die Here.

Dis interessant dat die verhouding van God en Israel hier nie as ‘n huweliksverhouding geteken word nie, maar as dié tussen ‘n pa en sy seun. Daarmee word die moontlike seksuele konnotasies van die vrugbaarheidsgodsdienste vermy waarmee die huweliksmetafoor wat vroeër in die boek gebruik is, geassosieer kon word, sodat die kontras met die Baälgodsdiens helder hier getrek kan word. Hosea draai egter nie doekies om in sy beskrywing van die frustrasie wat die Here beleef het in sy verhouding met Israel nádat Hy alles in sy vermoë gedoen het om hulle status van ‘n slawevolk in Egipte na dié van ‘n vry en selfstandige volk in hulle eie land te verander. Hulle wou egter nie erken dat God hulle versorg het nie, en het hulle lojaliteit verskuif na die Baälgodsdiens toe. God se straf is die ballingskap weens hulle keuse om onderdanig aan Assirië te word. Dié juk waaronder hulle hulleself geplaas het met die alliansie met die Assiriërs sal nie net hulle selfstandigheid wegneem nie, maar hulle weer die status van ‘n slawevolk laat inneem.

Die Here se band met Israel word egter nie só maklik verbreek nie. Sy worsteling met die gevolge vir sy volk van die selfopgelegde Assiriese juk waaronder hulle ingeskuif het, openbaar sy diep liefde vir hulle: “Hoe kan Ek jou prysgee … My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” Die Here kry dit nie oor sy hart om hulle te oordeel soos Hy met die mense van Adma en Sebojim gedoen het in die tyd van Abraham nie, waar hulle saam met Sodom en Gomorra omgekom het weens die gewelddadigheid van hulle gemeenskapslewe (Gen 19; Deut 29:23). Daarom verkondig Hosea dat die Here nie uiteindelik heeltemal vernietigend wil optree teen sy volk nie. Hy is immers nie so gewelddadig soos die volk self in hulle onderlinge gemeenskapslewe nie: “Ek is God, nie ‘n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” Daar sal ‘n oorblyfsel bly wat die Here sal volg en sal terugkom wanneer die Here soos ‘n leeu vir hulle brul (vers 10).

En ons weet dat dít wel gebeur het. Aanvanklik het Assirië mense van ander nasies gebring om hulle in die plek van die Israeliete te vestig in Samaria en die res van die noordryk (2 Kon 17). Toe dinge nie goed gaan nie: “omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie,” het die koning ‘n aantal weggevoerde priesters laat terugkom om die mense te leer. Dit het egter nie regtig die gewenste uitwerking gehad nie, en die gemengde bevolking het ‘n gemengde godsdiens gehandhaaf vir die volgende paar eeue. Daarom dat Jesus vir die Samaritaanse vrou, een van die afstammelinge van dié mensegroep, sê: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh.4:22). ‘n Deel van die noordryk het egter ook as immigrante in Juda kom woon en deel van die volk geword (2 Kron 30:25 – vgl ook 1 Kron 9:3 en 2 Kron 15:9 waar van hulle gepraat word). Ons lees ook dat die Judese koning Hiskia van die agtergeblewe noordryk mense uitgenooi het om die Paasfees te kom vier in die tyd ná die ballingskap. Dié mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het juis nie mooi geweet hoe hulle hulself moes reinig vir die Paasfees nie! Ná die ballingskap van die suidryk in 586 vC het daar ook ‘n aantal mense van die noordryk wat verstrooi is met die eerste ballingskap in 722 vC by die oorblyfsel in Jerusalem in die tyd van Jeremia kom aansluit (Jer 40:12), hoewel dit ‘n tyd van chaos was en baie van hulle toe doodgemaak is en ‘n verdere uittog na Egipte plaasgevind het. Die edik van Kores van Persië dat die Jode kan terugkeer in 538 v.C. het ook geïmpliseer dat enigiemand in sy breë wêreldryk wat met die Joodse volk geassosieer was, kon terugkeer (Esra 1).

Ons sien hier die begin van die ontwikkeling van die idee van die oorblyfsel. Dit verkondig dat God se liefde en sy genade groter is as sy oordeel. Hy is nie soos die mense wat voor die voet vernietig nie. Daarvoor is Hy te anders, te heilig, te vol van liefde en deernis. Dit is ‘n idee wat deur Jesaja, sy tydgenoot, en deur Jeremia en Esegiël verder ontwikkel sou word en in die NT as deel van die Godsbewussyn hanteer sou word, soos Paulus bv. in Romeine 9-11 sou argumenteer. Daarin lê ook die hoop van die evangelie opgesluit soos Jesus dit in die evangelie van Johannes uitgedruk het: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (3:16). Dít is ‘n belofte wat uiteindelik dus nie net vir die Jode van belang was nie, maar vir elke mens regoor die wêreld.

Lees meer: https://bybelskool.com/hosea-111-11-my-hart-is-diep-ontroer-in-my-die-deernis-brand-in-my/

Lukas 11:1-13 – Vra en vir julle sal gegee word

24 Julie

Lukas 11:1-13 – Vra en vir julle sal gegee word

1Op ‘n keer het Jesus op ‘n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het.” 2Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê, “ ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. 3Gee ons elke dag ons daaglikse brood 4en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ ” 5Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het ‘n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, 6want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ 8Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. 9Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. 11“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee? 12Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

Jesus het op pad Jerusalem toe vir sy kruisiging die Ons Vader gebed in ‘n effens gewysigde vorm as in die Bergrede vir sy dissipels geleer. So vertel Lukas ons. Dit gebeur net nádat Hy op ‘n plek, waarskynlik alleen, gebid het, met verwysing na die wyse waarop Johannes die Doper sy eie dissipels geleer het. Dit is waarom hierdie gebed ook as die “Dissipel gebed” bekendstaan, nie net as die “Ons Vader” nie. Die gebed is korter en bestaan net uit vyf bedes. Die derde gebed In Matteus 6 rondom die wil van God as geheel en die byvoeging by die sesde gebed rondom die verlossing van die Bose word weggelaat.

Die Vader word gevra dat Hy sal sorg dat sy Naam geheilig word, dws dat Hy reg geken en erken sal word in sy volle karakter, soos Hy werklik is. Dat Hy daarby sy koninkryk sal laat kom, ‘n gebed wat nog meer dringend is deurdat Jesus sy visier op Jerusalem geplaas het waar Hy die grootste prys vir die koms van die koninkryk moet betaal. God word ook gevra vir die drie noodsaaklike goed om Hom te dien; voorsiening, vergifnis en bewaring in versoeking. Die voorsiening is vir die daaglikse noodsaaklikhede; dat die voorsiening nooit sal stop nie. Die vergifnis is in ooreenstemming met ons eie bereidheid om te vergewe. Die gebed rondom versoeking is ‘n gebed om die regte houding in versoeking, soos ‘n Josef wat kon wegvlug daarvan (Gen 39).

Jesus gebruik die gelykenis van die skaamtelose vriend om ‘n lewe in gebedsafhanklikheid te onderstreep. Iemand het onverwags ‘n vriend as gas gekry en het nie iets gehad om vir hom voor te sit nie. Dit was ‘n groot verleentheid in die gasvryheidskultuur van daardie tyd. Daarom vra hy van ‘n ander vriend van hom om hom drie brode te leen, al was dit al in die middel van die nag. Jesus gebruik dié voorbeeld omdat hy weet dat só ‘n versoek nie geweier sal kan word nie. Die man sal nie sy gerief – hy en sy gesin is al aan die slaap – as verskoning kan gebruik om die versoek te weier nie. Dit sou ‘n groter skande wees as die skande van die skaamtelose versoek. Daarom sal hy doen wat die vriend vra, al is dit nie ter wille van die vriendskap nie, maar net weens die skaamteloosheid van die versoek.

Jesus herhaal dan die beloftes wat Hy in die Bergrede geleer het oor dié wat vra, soek en klop, want hulle sal ontvang, vind en voor oopgemaak word. Hy gebruik ook die vergelyking met die aardse vader, maar dié keer met die voorbeelde van ‘n vis en ‘n eier wat eerder as ‘n slang of ‘n skerpioen gegee sal word. Ons verwagting in ons gebede moet deur God se vrygewigheid bepaal word. Trouens, God sal nog meer doen as om goeie geskenke vir sy kinders te gee. Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat Hom vra. Ons kan hierdie prentjie van God ter harte neem. God is meer vrygewig as wat ons ooit kan dink. Hy is meer gereed om aan ons te gee wat ons vra, soek of voor klop. In elk geval baie meer as wat ons dit van aardse pa’s kan verwag. Die gawe van die Heilige Gees – God self – bewys dat Hy niks terughou wat goed is vir ons nie. Daarop kan ons vertrou.

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/die-gelykenis-van-die-ware-vriend-lukas-115-13/

Psalm 125 – Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan

23 Julie

Psalm 125 – Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan

1‘n Pelgrimslied. Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan. 2Jerusalem word omring deur berge; die Here omring sy volk van nou af tot in ewigheid. 3Ja, die goddelose septer sal nie rus op wat aan die regverdiges toegeken is nie, sodat die regverdiges nie hulle hande na onreg uitsteek nie. 4Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte. 5Maar dié wat afdraai op kronkelpaaie – die Here sal hulle laat weggaan saam met dié wat onreg pleeg. Vrede oor Israel!

Dié Psalm vertolk die vertroue van die pelgrims op die Here. God is vir hulle net so onwankelbaar soos die Sionsberg waarop die tempel gebou is. Trouens, soos hulle na die omringende berge om Jerusalem kyk – omtrent soos ‘n muur van berge wat almal hoër was as die berg in Jerusalem – weet hulle dat die Here sy volk net só sal beskerm, “van nou af tot in ewigheid.” Elke keer as hulle by Jerusalem aankom en die bekende simbole van hulle geloof sien, word hulle dus in dié geloof in God bevestig. God is net so onwankelbaar as die Sionsberg. Hy is net so beskermend soos die muur van berge om Jerusalem.

Dit ontlok in hulle die belydenis dat God se onwrikbare beskerming sal keer dat die: “goddelose septer” – die simbool van die gevaar van ‘n goddelose regering – nie vir altyd die regverdiges sal verguis, en hulle verlei word om self op ‘n onregverdige manier daarteen op te tree nie. Hiermee verwys die Psalmis na die goddelose heersers wat van tyd tot tyd oor hulle grondgebied die botoon gevoer het. Dit kan selfs wees dat hy verwys na van hulle eie heersers wat die Here nie gedien het nie.

Die Psalmis verlaat hom egter nie op die moontlikheid om die reg in eie hande te neem nie, maar op sy vertroue dat die Here nie sal toelaat dat goddeloses vir altyd sal oorheers nie. Daarom is sy belydenis ook ‘n implisiete afwysing van enige poging van die regverdiges om hulle hande met onregverdige optrede vuil te maak. Die enigste legitieme weerstand lê in die vertroue op God self. Daarom bid hy drie gebede vir en oor die geloofsgemeenskap:

  1. “Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte.” Dit is ‘n gebed wat ons ook in elke situasie waarin ons is, en waarin mense ná aan ons verkeer, kan bid. Ons mag God vertrou dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat Hy liefhet (Rom 8:28).
  2. Laat dié wat afdraai op kronkelpaaie, wat nie meer die reguit pad loop wat die Here in sy Woord uitspel nie (vgl Ps 119), begaan om hulle eie rigting in te slaan: “saam met dié wat onreg pleeg.” Waar jy die reg in eie hande neem, word jy immers nes die onregverdiges.
  3. “Vrede oor Israel!” Dit is die belangrikste gebed wat ‘n mens eintlik vir enigiemand kan bid, want vrede sluit heelheid en oorvloed in, beide in terme van die lewe hier en nou sowel as die verhouding met God wat tot in ewigheid duur.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-125-here-doen-goed-aan-die-goeies-aan-die-wat-opreg-is-in-hulle-harte/

Onlangse kommentaar