Amos 8:1-14 – Selfs God se woord raak soek wanneer Hy langdurig geïgnoreer word
Amos 8:1-14 – Selfs God se woord raak soek wanneer Hy langdurig geïgnoreer word
1Dít het my Heer, die Here, my laat sien: Daar was ‘n mandjie met somervrugte. 2Hy het gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Mandjie met somervrugte.” Daarop sê die Here vir my: “Die einde het vir my volk Israel aangebreek. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie.” 3“Die sangeresse van die paleis sal weeklaag op daardie dag,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Tallose lyke, oral neergegooi! Stilte!” 4Luister hierna, julle wat die behoeftiges vertrap, en daarop uit is om weerloses in die land uit te wis 5deur te sê, “Wanneer is nuwemaan verby, sodat ons weer koring kan verkoop, en die Sabbat, sodat ons die graansakke kan oopmaak?” net om ‘n efa kleiner te maak en ‘n sikkel groter, en om te kul met ‘n vals weegskaal, 6om armes vir geld te koop en behoeftiges vir ‘n paar sandale. “Die uitskotgraan sal ons ook verkoop.” 7Die Here het gesweer by die trots van Jakob: “Ek sal al hulle dade in ewigheid nie vergeet nie. 8Sal die aarde nie hieroor skud nie, en elkeen wat daarop woon, nie treur nie? Dit sal in sy geheel styg soos die Nyl; dit sal onstuimig wees en terugsak soos die rivier van Egipte.” 9“Op daardie dag,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal Ek die son laat ondergaan op die middaguur en dit helder oordag donker maak vir die aarde. 10Ek sal julle feeste in ‘n rouplegtigheid verander en al julle liedere in treursange. Ek sal om alle heupe ‘n roukleed hang en op elke kop ‘n kaal plek maak. Ek sal dit laat wees soos die rouplegtigheid oor ‘n enigste kind en die einde daarvan soos ‘n bittere dag.” 11“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “dat Ek hongersnood in die land sal uitstuur – nie ‘n honger na brood en ‘n dors na water nie, maar ‘n honger om die woorde van die Here te hoor. 12Hulle sal strompel van see tot see; van noord na oos sal hulle dwaal, op soek na die woord van die Here, maar dit nie vind nie. 13Op daardie dag sal die mooi jongmeisies flou word, ook die jong manne, van dors. 14Hulle wat sweer by die Skuld van Samaria, en sê, ‘So waar as wat jou god leef, Dan’, of ‘so waar as wat jou god leef, Berseba’; hulle sal val en nie weer opstaan nie.”
Dit is nogal ironies dat die vierde gesig (na die drie in hoofstuk 7) met ‘n mandjie ryp somervrugte te make het (Amos 8:1-3). Amos was ‘n ekspert om nie net te weet wanneer vye ryp is nie, maar inderdaad ook om daartoe te kan bydra deur hulle te prik (Amos 7:14). Die Here gebruik dus sy vaardigheid om ryp vrugte raak te sien, om met hierdie gesig van die mandjie somervrugte sy boodskap oor te dra. Dit is egter ‘n ontstellende boodskap. Die Here wys vir Amos dat Hy weet wanneer die tyd ryp is vir sy volk. Dit is egter nie ‘n tyd van blydskap nie. Dit is ‘n tyd van hartseer, die tyd wanneer hulle deur die vyand geëet sal word, en die sang in die paleis sal stil word en in ‘n gehuil sal verander. In drie gedeeltes pak die Here die betekenis van die visioen uit.
In die eerste plek (Amos 8:4-6) beskryf die Here ‘n konteks waarin arm mense verdruk word en die fokus op onregmatige wins is. Die godsdienstige rituele en feeste word wel nagekom, terwyl angstig gewag word vir die normale ekonomie om daarna weer in te skop. Die Here beskryf met afsku die valsheid en onreg wat hulle in die gemeenskap pleeg. In die tweede plek (Amos 8:7-10) sien die Here net nie kans om dit oor te sien nie. Hy kan nie en sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie. Die hele skepping sug eintlik saam met Hom oor die onmoontlikheid van die situasie. Die Here moes die roem van Israel gewees het. Nou is hulle vir hom ‘n las en ‘n skande. Dié mense wat sy roem en trots op die aarde moes wees, het Hom versaak en teen Hom in opstand gekom. Die uiteinde sal daarom vir hulle bitter wees: “soos met die rouplegtigheid oor ‘n enigste kind.” In die derde plek (Amos 8:11-14) is dit tragies dat die woord van die Here in die proses verlore raak. Daar sal ‘n honger wees, sê die Here: “nie ‘n honger na brood en ‘n dors na water nie, maar ‘n honger om die woorde van die Here te hoor.” Die ontroerende prentjie word geskilder van mense wat ronddwaal en rondslinger op soek na die woord van die Here. Maar vind, sal hulle dit nie vind nie. Die pad na die Here, sê Amos, sal verlore wees, uitgewis, uitgevee … net soos die pad na die heiligdomme van hulle afgode by Dan en Berseba, dié twee heiligdomme wat op die noord- en suidgrens respektiewelik geleë was en hulle in die eerste plek verlei het om aan die Here ongehoorsaam te wees.
Daar is ‘n noodwendigheid in die uitkoms van ‘n lewenspad wat mense inslaan. Waar die Here en sy wil vir die lewe gesoek word, dáár is ‘n toename in die bewussyn van God. Waar die Here en sy wil vir die lewe nie gesoek word nie, dáár is ‘n afname in die bewussyn van God. Soveel só dat die woord van die Here soek kan raak, trouens, dat Hy nie meer gevind kan word nie. Dit is vir ons moeilik om te hoor, veral waar ons die woorde van die Here Jesus nog hoor weerklink: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8). Hierdie woorde van Jesus bly gelukkig steeds die evangelie, die goeie nuus, maar in spesifieke kritiese omstandighede, waar die Here langdurig en deurlopend geïgnoreer word, en sy stem uitgedoof word, daar raak dié prentjie van Amos se mandjie ryp somervrugte relevant, ‘n prentjie van ‘n volk wat ryp raak vir oordeel. Dit is daarom dat ons nooit mag toelaat dat iemand geestelik moeg raak en uitsak en doof raak vir die woord van die Here nie, soos die skrywer aan die Hebreërbrief waarsku nie (vgl Hebr 4:1). Selfs God se woord raak soek wanneer Hy langdurig geïgnoreer word
Lees meer: https://bybelskool.com/amos-81-14-die-oordeel-van-die-vierde-gesig-van-n-mandjie-somervrugte/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar