Lukas 10:25-37 – God se liefde laat ons uitblink in liefde vir ons naaste
Lukas 10:25-37 – God se liefde laat ons uitblink in liefde vir ons naaste
25En kyk, ‘n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 26Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” 27Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” 28“Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” 29Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?” 30Hierop het Jesus geantwoord: “’n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 31‘n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. 32En net so het ook ‘n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. 33Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na ‘n herberg en versorg hom daar. 35Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ 36Wie van hierdie drie, dink jy, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” 37En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
‘n Wetgeleerde (nomikos –“legal expert”) het opgestaan en hom probeer slim hou, slim genoeg om Jesus te probeer uitvang. Die wetgeleerde noem Jesus “Leermeester” – wat ‘n bietjie van ‘n heuningkwas impliseer – en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te kan ontvang. Jesus antwoord soos ‘n goeie Leermeester met ‘n weervraag om agter te kom wat die wetgeleerde dink. Hy verwys die wetgeleerde na die wet – siende dat hy ‘n ekspert in die reg is – om die essensie daarvan met Jesus te deel. Die wetgeleerde antwoord dan met ‘n opsomming uit die wet, die dubbele liefdesgebod. Hy noem die normale drie dimensies uit die wet waarmee God liefgehê moet word – hart, siel en krag – en voeg “hele verstand” by (Deut 6:5 – onthou dat die hart vir die gedagtewêreld in Hebreeus gebruik is). Daarby kom die gebod tot naasteliefde (Lev 19:18). Jesus het natuurlik presies hierdie selfde antwoord gegee aan ander persone (Mark 12:28-34; Matt 22:34-40; vgl Jos 22:5). Wat dui daarop dat dié opsomming ‘n wye aanvaarding geniet het. Jesus prys hom dat hy reg geantwoord het. Doen dit en jy sal lewe.
Die dubbele liefdesgebod kan natuurlik op verskillende maniere verstaan word. Die wetgeleerde het dit moontlik as ‘n pad gesien waarop jy God se genade kan verdien. Vandaar sy volgende vraag oor sy naaste, omdat hy waarskynlik geweet het dat die antwoord op daardie vraag baie bepalend kan wees vir jou sukses op só pad. Jesus het daarom in sy laaste gesprekke met sy dissipels ‘n nuwe liefdesgebod vir hulle gegee. Om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefgehad het (Joh 13:34). Ons liefde is ‘n reaksie op sy liefde. Dit word uit dankbaarheid gebore, nie uit plig nie. Dit is ook hoe die Tien Gebooie vroeër aan die volk verkondig is. Dit is omdat hulle God se volk is, en Hy hulle uit Egipte gered het, dat Hy van hulle kan verwag dat hulle Hom sal liefhê en hulle naaste soos hulleself.
Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf deur te vra wie is sy naaste. Hy het waarskynlik vergeet dat die wet reeds baie helder is oor wie die naaste is (Lev 19:20). Meer nog, die gebod om die naaste lief te hê is reeds in dieselfde hoofstuk in Levitikus 19 uitgebrei om die vreemdelinge in te sluit (Lev 19:34). Die naaste was dus van die begin af universeel bedoel. Waarop Jesus die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel en die vraag van die wetgeleerde omkeer na: “Vir wie is jy ’n naaste?” ‘n Man – sonder identiteit, Jan Alleman, die universele naaste – is gewelddadig aangeval deur rowers op die pad van Jerusalem na Jerigo in die noorde. Die pad daal so ‘n 1 000 meter en is ongeveer 24 km ver. Ironies genoeg, dieselfde pad wat Jesus binnekort sou aandurf. Hulle het hom halfdood en nakend agtergelaat. Jesus kies dan mense vir sy gelykenis wat direk tot dié wetgeleerde sal spreek – mense uit sy eie omgewing, mense vir wie hy sou bewonder en soos wie hy selfs sou wou wees. Die priester en die Leviet. Albei gaan egter aan die anderkant verby en help nie die man wat onder rowers deurgeloop het nie. Hulle was besig om van die tempel af weg te gaan. So, rituele reinheid was nie ‘n kwessie nie. Hulle wou die man doodeenvoudig nie help nie. Jesus kies ook die barmhartige Samaritaan, mense wat die wetgeleerde sou verafsku en wat hy self sou wou vermy. Dit is hy wat die man innig jammer kry, nadergaan, sy wonde versorg met olie en wyn, en hom op sy eie rydier tot by ‘n herberg vervoer waar hy vir hom betaal dat hy daar kon herstel. Deur hierdie mense te kies, kan Jesus die wetgeleerde se gebrek aan omgee op die beste diepsinnige wyse illustreer. Want, anders as wat die wetgeleerde sou verwag het, is dit die gehate Samaritaan, die een wat van gemengde afkoms is, die een wat nie die hele Skrif as God se Woord aanvaar het nie, wat die held in die verhaal is. Jesus draai dan die vraag van die wetgeleerde om en vra daarom wie die naaste geword het van die man wat onder rowers beland het. Die man kon nie anders as om die Samaritaan uit te wys nie. Let egter op dat hy net praat van die “een wat barmhartigheid aan hom bewys het.” Dit is egter genoeg vir Jesus om hom aan te raai om self so te leef, om ‘n naaste te wees, want dit is wat die tweede liefdesgebod van ons vra. Wie God liefhet, blink uit in liefde vir die naaste.
Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/die-gelykenis-van-die-barmhartige-samaritaan-wat-regtig-omgegee-het-lukas-1025-37/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar