Skip to main content

Psalm 52 – God is goed en sorg vir my

12 Julie

Psalm 52 – God is goed en sorg vir my

1Vir die musiekleier. ‘n Maskiel. Van Dawid. 2Toe Doëg, die Edomiet, gegaan en vir Saul berig gebring het. Hy het vir hom gesê: “Dawid het by die huis van Agimeleg aangekom.” 3Waarom spog jy oor ‘n bose daad, krygsheld? God se troue liefde is die hele dag daar. 4Jou tong beplan vernietiging, soos ‘n skerp skeermes, jy wat bedrog pleeg. 5Jy hou meer van die slegte as van die goeie, van leuens meer as om te sê wat reg is. Sela 6Jy hou van allerhande lasterlike woorde, van ‘n tong wat bedrieg. 7God sal jou daarom vir goed afbreek Hy sal jou wegruk, jou wegskeur uit die tent; Hy sal jou uitpluk uit die land van die lewendes. Sela 8Regverdiges sal dit sien en ontsag hê, oor hom sal hulle die spot dryf: 9“Kyk die sterk man! Hy het God nie sy toevlug gemaak nie, maar op sy groot rykdom vertrou. Hy soek toevlug in wat hom vernietig.” 10Maar ek is soos ‘n welige olyfboom in God se huis; ek stel my vertroue in God se troue liefde, vir altyd en altyd. 11Ek sal U vir altyd prys omdat U opgetree het. In die teenwoordigheid van u getroue volgelinge vestig ek my hoop op u Naam, want dit is goed.

Dit is ’n unieke Psalm waarin die boodskap eintlik op ’n vyand van Dawid, Doëg, gemik is, ’n soort stryd Psalm wat nie maklik inpas in die normale kategorisering van Psalms in lof en klag nie. Tate gee die volgende titel aan die Psalm wat ook die boodskap daarvan opsom: ”The Divine Judgment of a Mean and Powerful Person” (Psalm 51-100 – Word Biblical Commentary). Lees meer oor hulle stryd by die skakel wat ek hieronder verskaf.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word:

  1. Die slegte dade van Doëg word veroordeel – vers 3-6. Dawid kontrasteer die aksies van Doëg om homself en sy invloed- en magsfeer uit te brei deur ander se ondergang te bewerk en met bedrog en leuens om te gaan, met dié van God wat sorg vir dié wat Hom daarvoor vertrou. Doëg word nie net veroordeel daarvoor nie, maar ook herinner daaraan dat sy pogings uiteindelik verniet is.
  2. Die vernietiging wat God oor hom gaan bring, word verwelkom – vers 7-9. In baie skerp taal word God se optrede geskets. Basies word die ruimte wat God vir Doëg gegee het om te woon, weggeneem en sy lewe beëindig. Dié aksie sal dien as hoopgewende getuienis aan die regverdiges wat hulle uitnooi om God te bly vertrou. Die poging om onafhanklik van God ryk en sterk te word, slaag nie in die finale instansie nie.
  3. Die sorg en goedheid van God word verheerlik – vers 10-11. Dawid kontrasteer ook sy eie lewe met dié van Doëg. Dawid kan altyd op God se sorg en goedheid staatmaak. Daarvoor sal hy God altyd bly loof in die vergadering van gelowiges.

Die Psalm herinner dus elkeen van ons wat onder die gemeenheid van ander moes deurloop, dat die laaste sê oor enigiemand se lewe van God af kom. God se sorg en goedheid hou ’n mens in stand selfs wanneer dit lyk asof die boosheid wil-wil seëvier.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-52-god-is-goed-en-sorg-vir-my/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar