1 Petrus 1:13-25 – Hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word
1 Petrus 1:13-25 – Hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word
13Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word. 14As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. 15Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” 17En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. 18Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, 19maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. 20Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle 21wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. 22Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. 23Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. 24Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; 25maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.
Petrus roep gelowiges op om verstandelik paraat te wees (“omgord die lendene van julle verstand”) en nugter op te tree en hulle volledig op God se genade te verlaat. Hulle hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is, aangehaal uit Levitikus (Lev 11:44-45; 19:2; 20:7). Hy spel dit nie meer presies hier uit nie – hy sal later in sy brief meer prakties skryf oor arbeidsverhoudinge en die huwelik wat hierby aanhaak – maar stel dit in die algemeen dat hulle dus nie meer leef soos hulle natuurlike neigings van vroeër (vers 14) en die oorlewerings van hulle voorvaders (vers 18) aan hulle voorskryf nie, want dit is sonder kennis van God en lei tot ’n sinlose lewe.
Hulle moet leef soos God dit aan hulle geopenbaar het in Christus Jesus. Hy is die voorbeeld en die inhoud van die geloof. Trouens, die belofte is dat die genade juis tot sy volle openbaring sal kom soos wat hulle al hoe meer groei in hulle begrip van die Here Jesus Christus. Maar die oproep is nie net om persoonlik hulleself aan God te verbind nie, dws hulle hart en lewens volledig oop te maak vir sy openbaring nie. Dit is iets wat ook in die geloofsgemeenskap uitgeleef moet word. Die hele idee van ’n innerlike verbintenis aan God kom net volledig tot sy reg wanneer daar op ongeveinsde manier ware liefde teenoor mekaar betuig word. Hulle moet mekaar “innig met rein harte liefhê.” Die Griekse woord wat hier met “innig” vertaal is, kan ook met “onophoudelik” vertaal word. Ons moet mekaar onophoudelik lief hê. Dit is immers die tipe liefde wat pas by mense wat deur ’n ewige God liefgehê word! Die rede hiervoor spruit voort uit die hartsverandering wat hulle beleef het: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Petrus verwys hier na gedagtes wat meer volledig in die evangelie van Johannes en in sy eerste brief uitgewerk is (Joh 1:13; 3:3,7; 1 Joh. 3:9; 5:18).
Hierdie versekering van God se werk in ons is eintlik ongelooflik. God se ewige werk in ons kan nie uitgewis word nie, sê Petrus, en hy kontrasteer God se werk met die bestaan van die mens wat net tydelik soos veldblomme en gras is! Ons onverganklikheid en daarom ons hoop op die toekoms lê dus nie in onsself nie, maar in die ewige God se besluit. Hy het vooraf reeds goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!
Lees meer: https://bybelskool.com/1-petrus-1-jubel-oor-god-en-leef-uit-die-hoop/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar