Skip to main content

Tag: Beloftes

Jesaja 1:1-20 – Kom tog, laat ons die saak uitpraat; Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word

1 Augustus

Jesaja 1:1-20 – Kom tog, laat ons die saak uitpraat; Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word

1Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.

2Luister, hemel, en gee aandag, aarde, want die Here praat: “Kinders het Ek grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in verset gekom. 3‘n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” 4Wee ‘n sondige nasie, ‘n volk swaar belaai met sondeskuld, ‘n geslag kwaaddoeners, kinders wat hulle wangedra! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, Hom die rug toegekeer. 5Waarom wil julle nog geslaan word, en hou julle vol met julle onversetlikheid? Elke kop is siek, elke hart is swak. 6Van die voetsool tot die kop is daar nie ‘n gesonde plek nie, net hale en kneusplekke en oop wonde. Dit is nie gedreineer nie, of verbind of versorg met olie nie. 7Julle land is ‘n  woesteny; julle stede is met vuur verbrand. Julle landerye – voor julle oë verteer vreemdes dit; ja, dit is ‘n woesteny, asof vreemdes dit verwoes het. 8Die dogter van Sion het oorgebly soos ‘n takskerm in ‘n wingerd, soos ‘n oornagskerm in ‘n lappie komkommers, soos ‘n beleërde stad. 9As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons ‘n klein oorblyfsel agtergelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, aan Gomorra sou ons gelyk gewees het.

10Luister na die woord van die Here, gesagvoerders van Sodom! Gee aandag aan die wet van ons God, mense van Gomorra! 11“Wat baat julle magdom slagoffers My?” vra die Here. “Ek het genoeg gehad van die brandoffers van ramme en die vet van gevoerde diere. Die bloed van bulle, lammers en bokramme staan My nie aan nie. 12Wanneer julle kom om voor My te verskyn – wie eis dit van julle om my voorhowe te vertrap? 13Hou op om waardelose graanoffers aan te dra! Reukwerk – afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste – Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie. 14Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese; dit is vir My ‘n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra. 15As julle julle hande uitstrek, sluit Ek my oë vir julle. Selfs as julle baie bid, luister Ek nie. Julle hande is vol bloed.

16Was julle! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë! Hou op om kwaad te doen! 17Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake! 18“Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” sê die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word. 19As julle gewillig is en luister – die goeie van die land sal julle geniet. 20Maar as julle weier en opstandig is – deur die swaard sal julle verteer word.” Ja, die mond van die Here het gespreek.

Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die regerings van vier konings: Ussia (ook Asarja genoem – 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda. Hy word geroep as profeet in ongeveer 740 vC, die sterfjaar van  Ussia, en tree op tot ten minste 697 vC, die sterfjaar van Hiskia. In die eerste deel van die boek – hoofstuk 1-39 – fokus Jesaja op die probleem van sonde en die behoefte aan redding. Jesaja wys die mense van Juda onomwonde op hulle verkeerde dade, en roep hulle tot bekering om die komende oordeel van God te vermy.

Jesaja plaas sy boodskap in hoofstuk 1 in die formaat van ‘n regsaak wat die Here met die volk het. Die Here roep eerstens die hemel en die aarde aan as getuies van die saak wat Hy met sy volk het – vers 2-9. Hy spreek die volk aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie – al het Hy Homself en sy wil aan hulle geopenbaar – en daarom nie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie.  Dit sit agter hulle rebellie teen Hom, wat daarom deur Hom gestraf is deur die bykans totale verwoesting van hulle land. As die Here nie genadig was nie, sou die Here hulle soos Sodom en Gomorra heeltemal uitgewis het. (Die verwoesting waarvan hier gepraat word, verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia waarvan Jesaja later in hoofstuk 36 [vgl 2 Kon 18] vertel. Die Here het uiteindelik self opgetree, ná Hiskia op roerende wyse vir die volk ingetree het, en ‘n oorblyfsel van Juda uit Sanherib se hand gered.)

Die Here spreek in die tweede plek die leiers aan en vereenselwig hulle met die leiers van Sodom en Gomorra in die sin dat hulle op soortgelyke wyse die wet van die Here verontagsaam het en ongebreidelde sondes teen God se wet toegelaat het – vers 10-15. Offers en feeste kan net werk as hulle die Here dien en die reg in hulle gemeenskap handhaaf. Die Here kan nie onreg en skynheilige godsdiens verdra nie.

Al oplossing, sê die Here in die derde plek, is dat die leiers en die volk tot inkeer kom, hulle verkeerde dade afsweer, en die regte dinge begin doen. Dan kan die saak wat die Here teen die volk het, bygelê word, en sal die Here hulle nie net vergewe nie, maar hulle sondes weg was, sodat hulle rein voor sy aangesig kan wees. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.” Trouens, hulle land sal genees word en hulle sal die goeie van die land kan geniet. Anders sal ‘n verterende verwoesting hulle voorland wees.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-1-julle-ken-my-nie/

Lukas 12:13-21 – Rykdom in God duur vir ewig

31 Julie

Lukas 12:13-21 – Rykdom in God duur vir ewig

13Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” 14Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?” 15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” 16Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “’n Sekere ryk man se plaas het ‘n goeie oes opgelewer. 17Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ 18Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ 20Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ 21So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”

Iemand uit die skare wil by Jesus ‘n beslissing hê oor die toepassing van die Joodse erfreg. Hy vra dat die Here sy broer aansê om die erfenis met hom te deel. Moontlik was daar ‘n ongerymdheid van die kant van sy pa of broer. Óf daar was ‘n ongelukkigheid deurdat hy jaloers was op die broer se deel van die erfporsie. Dit kon ook wees dat die broer die eersgeborene was en daarom ‘n dubbele deel kon kry. Dit het baie keer tot ongelukkigheid gelei (Deut 21:17). Jesus weier egter om as regter of arbiter in erfreg sake op te tree. Dit was nie sy missie na die wêreld toe nie. Hy gaan nie betrokke raak by sake wat met gierigheid te make het nie.

Jesus waarsku daarom die skare teen gierigheid, want jou lewe bestaan nie uit die oorvloed van jou besittings nie. Vir gierigheid moet jy baie versigtig wees. Jy moet daarvoor oppas en jou daarvan weerhou. Die Griekse woord phulassō beteken eintlik dat jy jou teen gierigheid moet beskerm, dat jy jou moet “isoleer” daarvan! Want, gierigheid kan jou lewe verwoes, soos die gelykenis sal aandui.

Jesus vertel dan die gelykenis van die ryk man wie se land ‘n goeie oes gelewer het. Hy het egter ‘n probleem gehad. Hy het nie genoeg plek om die oeste te kan stoor nie. Sy plan was om sy skure af te breek en groteres te bou sodat hy al sy graan en besittings daar kan stoor. En dit is presies waar die probleem dan kom. Sy motivering was nie om groter milddadigheid aan ander te betoon nie. Dit was om sy eie belange te dien. Hy wou sy oorvloed in die oorblywende jare geniet net vir homself. Let op hoeveel keer die woorde “ek” en “my” in die gelykenis voorkom! God het egter die laaste sê oor sy besittings, want Hy het ook die laaste sê oor sy lewe. God beskou die gierigaard as ‘n dwaas – God kan iemand ‘n “dwaas” noem! – want daardie selfde nag sal sy siel van hom geëis word en hy sal geen voordeel meer hê van sy rykdom nie. Jesus trek dan sy gevolgtrekking oor gierigheid. Sorg dat jy ryk is in God, dat jy vir God goed opgaar, nie vir jouself nie, want jou rykdom sal jou nie uiteindelik enigsins iets baat nie. Daardie rykdom duur vir ewig.

Die punt van hierdie gelykenis is helder en duidelik. ‘n Mens moet gefokus wees op God en sy koninkryk. Alles wat jy het moet ingespan word ter wille van God en sy saak. Selfs die onderlinge ongelukkigheid oor die voordeel wat ander bó jou het, moet laat vaar word, sodat dit nie later blyk blote gierigheid aan jou kant te wees nie. Jy kan nie God en Mammon dien nie. Maar, ‘n mens kan dit net doen, as jy die volgende deel van Jesus se lering in ag neem. Dit is dat Hy vir ons sorg soos die lelies van die veld (Luk 12:22-34).

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/

Psalm 127 – Werk en familie is gawes uit die hand van die Here

30 Julie

Psalm 127 – Werk en familie is gawes uit die hand van die Here

1‘n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. 2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. 3Kyk, seuns is ‘n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning. 4Soos pyle in die hand van ‘n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. 5Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie.

Hierdie is die tweede Psalm wat met Salomo verbind word. Waar sy eerste Psalm, Psalm 72, gefokus het op die gebed dat God die koning in staat sal stel om na buite – veral met die oog op die volk en die nasies – volgens God se wil te regeer, fokus hierdie tweede Psalm, Psalm 127, op die gebed dat God alles sal voorsien wat nodig is om na binne – veral met die oog op die tempel, stad en sy eie huis – volgens sy wil te leef. Daarom is dit ook van toepassing op die pelgrims, nie net in terme van hulle verwagting dat die koning of goewerneur volgens God se wil sal leef nie, maar ook dat hulle self volledig op God sal vertrou om vir hulle in staat te stel om in eie kring Hom in alles te dien. Dit is daarom ook ‘n Psalm wat ons ter harte kan neem vir ons eie konteks.

Die Psalm vier twee gawes van die Here, dinge wat nie losstaan van ons eie inspanning en werk nie, maar ten spyte daarvan steeds genadegawes bly. Die eerste gawe is God se voorsiening in ‘n mens se werksomgewing. Vir Salomo het dit beteken dat hy die huis van die Here, die tempel, gebou het, sowel as dat sy mense oor die stad wag gehou het, en hy sy werk as koning met ywer verrig het. Die Psalmis bely egter dat ‘n mens se geswoeg tevergeefs is, as die Here die huis nie bou nie. Tevergeefs bly ‘n mens wakker om wag te hou, as die Here nie oor die stad die wag hou nie. En tevergeefs staan jy vroeg op en gun jouself nie eers tyd om ‘n wyle te sit nie terwyl jy met inspanning jou brood probeer verdien, as die Here nie daarin teenwoordig is nie. Trouens, soos Salomo dit een keer ervaar het, die Here gee dit vir jou in jou slaap. Die Psalmis verwys hier waarskynlik na Salomo se roepingservaring waar hy ‘n luisterende hart van die Here ontvang het terwyl hy geslaap het (1 Kon 3). Sy naam Salomo het vrede beteken, maar insiggewend genoeg, skryf een van die Vroeë Profete dat die Here hom liefgehad het en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem het, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25). Die ooreenkoms met vers 2 is opvallend.

Die tweede gawe is God se voorsiening in ‘n mens se familie omgewing. Alle kinders is gawes van die Here, maar seuns is spesifiek in die konteks wat hier aangeraak word, ‘n bonus. Hulle is ‘n erfdeel wat die Here gee deur die vrug van die moederskoot wat soos pyle in die hand van ‘n krygsman is, met die oog op die moontlikheid van fisiese aanvalle. Selfs wanneer ‘n mens egter in die poorte – waarskynlik dui dit op regspraak – met vyande woorde wissel, sal jy nie beskaamd staan nie, en jouself met ‘n klomp getuies wat aan jou kant is, kan verdedig. Dié Psalm moedig ons dus aan om voluit te lewe – in werks- en familie-verband – maar jou vertroue op God te plaas wat vir albei oorvloedig kan voorsien.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-127-as-die-here-die-huis-nie-bou-nie-swoeg-die-bouers-tevergeefs-daaraan/

Spreuke 9 – Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!

29 Julie

Spreuke 9 – Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!

1Wysheid het haar huis gebou, sy het haar sewe pilare uitgekap. 2Sy het haar slaggoed geslag, haar wyn gemeng, en ook haar tafel voorberei. 3Sy het haar diensmeisies gestuur; sy roep uit vanaf die hoogste plekke in die stad: 4“Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: 5“Kom, eet van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het! 6Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig! 7“Wie ‘n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie ‘n goddelose teregwys, kry ‘n klad op sy naam. 8Moenie ‘n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys ‘n wyse tereg, en hy sal jou liefhê. 9Gee aan ‘n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan ‘n regverdige, en sy geleerdheid neem toe. 10Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig. 11“Ja, deur my, Wysheid, word jou lewensdae meer, word daar vir jou lewensjare bygevoeg. 12As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, maar as jy spot, dra jy alleen die gevolge.” 13Vrou Dwaasheid is luidrugtig, onbesonne, en weet niks. 14Sy sit by die ingang na haar huis, op ‘n troon op die hoogste plek in die stad, 15om te roep na hulle wat op die pad verbygaan, wat reguit loop op hulle paaie: 16“Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: 17“Gesteelde water is soet, en brood in die geheim geëet, is smaaklik.” 18Maar hy weet nie dat die skimme daar is nie; in die dieptes van die doderyk is haar genooides.

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke, die slotsom van die 10 lewenslesse van die pa aan sy seun. Hierna gaan in hoofstuk 10-31 die lewenswyshede wat pas by die twee paaie wat ‘n mens kan volg in die lewe, in kort spreuke weergegee word. Die slotsom van hierdie eerste deel van Spreuke is dat ‘n mens kan luister na óf vrou Wysheid (Spr 9:1-6) óf na vrou Dwaasheid (Spr 9:13-18). Dié kontrasterende keuse word afgewissel met ‘n middelste gedeelte oor die ligsinnige mens (Spr 9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel. Die belofte is dat as jy kies om in wysheid te groei jy ‘n vol lewe sal kan lei. Let ook op dat beide vrou Wysheid as vrou Dwaasheid fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat die rol van opvoeders is om kinders te inspireer dat hulle die regte lewenshouding aankweek om uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – vrou Wysheid en vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is. Só sal hulle opvoeding die kinders red vir die lewe.

Vrou Wysheid word as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid. Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis, wat die gesag en goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon. Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as ‘n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer. Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe. Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie tipe lewe voorgestel word: “Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!” (9:6).

Dit is opvallend dat Spreuke ons leer dat ligsinnigheid onvermydelik lei tot goddeloosheid, omdat ‘n mens nie wysheid kan ignoreer sonder om dan ook die Bron van wysheid, God self, daarmee saam te ignoreer nie. Ligsinniges is dus nie vatbaar vir wysheid nie, en moet eers weer na die begin toe terug gevat word, na die ontsag vir God (Spr 9:10 – vgl Spr 1:1-7), voor die lewenshouding van leerbaarheid weer sal inskop en die voete op die pad van insig geplaas kan word.

Let op hoe vrou Dwaasheid vir vrou Wysheid naboots in die banket wat vir die onervare onkundiges gehou word, maar op ‘n wyse wat herinner aan die verleidelike gedrag van die slegte vrou van vroeër. Let op hoe die verleiding van haar aanbod lê in die gesteelde karakter daarvan – jy hoef jou nie in te span om dit te verkry nie – sowel as in die verborge aard daarvan – dit is iets wat jy stilletjies doen, waar niemand kan sien of beperkings kan plaas nie. Die einde van dié pad is egter die dood, omdat daar geen verantwoordelikheid of verantwoordbaarheid ingebou is in die verkryging van hierdie kennis nie. Dit onderstreep op ‘n waarskuwende manier die noodsaak daarvan om versigtig te wees met die uitdeel van kennis bv in ‘n leerervaring, sonder om ‘n worsteling daarmee, en ‘n toetsing daarvan, in te bou. ‘n Mens moet self werk aan dít wat jy leer, en jy moet op een of ander manier iets daarvan weergee. Dán het dit deel van jou menswees en lewenswyse geword. Anders is dit plagiaat en oppervlakkig by wyse van spreke.

Die tafel is nou gedek om na die ongeveer 562 spreuke te begin luister, daaroor diep na te dink, en dit deel van jou lewe te maak.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-91-18-kies-die-pad-van-insig-as-lewenshouding/

Kolossense 3:12-17 – Die liefde is die band wat alles volmaak saambind

28 Julie

Kolossense 3:12-17 – Die liefde is die band wat alles volmaak saambind

12Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. 13Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. 14Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. 15Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. 16Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. 17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.

Paulus gebruik hier die beeld van ‘n geestelike klerewinkel, waar ‘n mens jou ou klere vervang met nuwe klere. Die nuwe klere van die nuwe mens bestaan volgens vers 12 uit vyf deugde. Hierdie deugde beskryf die innerlike kwaliteite van God se kinders wat hulle gedrag bepaal. Hulle is innige meelewing (splanchna oiktirmou – om ‘n kapasiteit vir deernis of meegevoel te ontwikkel [splanchna beteken letterlik “ingewande”, so jou binnekant moet as’t ware vol raak met deernis]), goedheid (chrēstotēta – “kindness” – om bv sonder dat jy iets daaruit kry, iets nuttigs vir iemand te doen; dit is ook ‘n vrug van die Heilige Gees – Gal 5:22 – en daarom ‘n eienskap van God), nederigheid (tapeinophrosunē – die teenoorgestelde van “arrogansie”; dit is om nie minder van jouself te dink nie, maar minder oor jouself, eerder oor ander!), sagmoedigheid (prautēta – “gentle” – die teenoorgestelde van “hardhandigheid”; dit is om soos Jesus te wees, want Hy was vol daarvan – Matt 11:29) en geduld (makrothumia – ‘n toestand van emosionele kalmte in die aangesig van uittarting of teëspoed sonder om te kla of geïrriteerd te wees – “lankmoedigheid”; soos Job – Jak 5).

Hierdie vyf deugde dui aan watter vorm die optrede van Jesus se volgelinge, veral ten opsigte van ander mense, behoort aan te neem. Dit is die dinge wat jy moet aantrek, dié dinge waarin jy moet uitblink, dié dinge waaraan mense jou sal ken. En jy kan sien dat dié vyf deugde wel innerlike kwaliteit is, maar dat dit ook alles te make het met ons onderlinge verhoudinge. Dié vyf innerlike kwaliteite moet uitgeleef word in die gemeenskap van gelowiges, in jou familie, in jou werk, en teenoor almal met wie jou pad kruis in die lewe.

En daar is vyf maniere waarop dié vyf deugde beoefen kan word, soos in vers 13-17 uitgespel word. Die belangrikste een is die tweede, die liefde. Die belofte is trouens dat die liefde die band is wat alles volmaak saambind:

  • Dit beteken dus dat jy mense sal vergewe, omdat jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam leef – soos vers 13 van ons vra. Ons moet sorg dat dinge opgelos word in ons verhoudinge met mekaar. Ons moet die onvrede aanspreek deur prosesse van vergifnis aan die werk te sit.
  • Dit beteken dus dat jy mense sal liefhê, omdat jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam leef – soos vers 14 van ons vra. Liefde is die “volmaakte of perfekte band” wat ons aan mekaar bind en vrede tussen ons bring.
  • Dit beteken dat jy vrede met ander sal soek en ook maak, omdat jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam leef – soos vers 15 van ons vra. Die opdrag is dat die vrede van Christus in gelowiges se harte en lewens moet heers.
  • Dit beteken ook dat jy sal sorg dat die Woord van Christus – die Bybel – ryklik in jou en in die gemeente woon, want dit is hoe jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam sal kan wees – soos vers 16 dit van ons vra. Dit sluit in dat ons in dankbaarheid psalms en geestelike liedere vir God sal sing.
  • Trouens, dit beteken dat ons hele lewe, in woord en daad, sal getuig dat ons aan God gehoorsaam lewe – soos vers 17 van ons vra, want ons wil meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/kolossense-312-17-vyf-innerlike-kwaliteite/

Onlangse kommentaar