Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 128 – Elkeen wat vir die Here ontsag het, sal die vrug van sy hande beslis geniet

6 Augustus

Psalm 128 – Elkeen wat vir die Here ontsag het, sal die vrug van sy hande beslis geniet

1‘n Pelgrimslied. Gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg! 2Die vrug van jou hande sal jy beslis geniet. Gelukkig is jy! Dit gaan goed met jou. 3Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok in die binnekamers van jou huis. Jou kinders is soos olyfboompies om jou tafel. 4Kyk, so sal die man geseën word wat vir die Here ontsag het. 5Mag die Here jou seën uit Sion, sodat jy al die dae van jou lewe die goeie van Jerusalem sal geniet, 6en mag jy jou kinders se kinders sien. Vrede oor Israel!

Hierdie Psalm brei uit oor die geluk wat daar lê in ontsag vir en gehoorsaamheid aan die Here. Dit is dié pelgrims: “wat sy paaie volg”, wat waarlik gelukkig is. Die seën hiervan word ervaar in die vrug van jou handewerk, sowel as in die vrug van jou huis. Aan die een kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle handewerk sal geniet. Jy sal nie net gelukkig wees nie, maar dit sal goed gaan met jou in die konteks van jou werk en lewensroeping. Dit is die eerste belofte. Aan die ander kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle huis sal geniet. Hulle sal nie net gelukkig wees in hulle intimiteit in die “binnekamers” van die huis nie – soos dit letterlik hier staan – maar ook die vrug van ‘n kroos van kinders geniet wat die vreugde aan tafel sal vergroot. Dit is die tweede belofte. Die Hebreeuse woord benîm wat hier vir kinders gebruik word, word meer geredelik vir seuns in die OT aangewend, behalwe waar die konteks vereis dat dit op kinders dui, soos dit hier en op ‘n paar ander plekke in die OT die geval is (vgl Gen 3:16; 21:7 Eks.21:5; 22:23). Die pragtige metafoor van die vrugbare wingerdstok word gebruik vir die huweliksverhouding en die metafoor van die olyfboompies vir die kinders om die tafel. Dít is die seën wat die Here gee vir mense wat vir Hom ontsag het en sy paaie volg.

Hieraan voeg die Psalmis vir die pelgrims die belofte by dat die Here hulle geestelik, polities en sosiaal sal seën. Die seën uit Sion word geestelik-godsdienstig bedoel. Die seën vir Jerusalem word polities-maatskaplik bedoel. Die seën van die voorreg om jou kinders se kinders te sien, word sosiaal-familiaal bedoel. Dit bly immers een van die grootste voorregte wat daar is om ‘n oupa of ouma te word! Die laaste belofte: “Vrede oor Israel!” sê iets van die wyse waarop al drie hierdie laaste dimensies aan mekaar verbind is. Waar Sion sy rol vervul, Jerusalem veilig is, en die pelgrims in hulle familielewe gelukkig is, dáár kan die hele Israel heelheid en oorvloed geniet. VREDE! Inderdaad.

Daar is ander Psalms wat die donker en uitdagende kante van die lewe belig. Maar hierdie Psalm besing slegs die vreugdevolle kant van gehoorsaamheid en geluk. Geniet dus vandag die belofte en verwagting wat dit in jou lewe skep.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-128-hoe-gelukkig-is-elkeen-wat-vir-die-here-ontsag-het-wat-sy-paaie-volg/

Spreuke 10:27-32 – Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is

5 Augustus

Ons beweeg nou van die inleiding van die boek Spreuke (hoofstuk 1-9) na die hart van die boek (hoofstuk 10-31). Hier is 562 spreuke, gesegdes, en wyshede opgeteken waarmee ’n wyse lewe versier kan word. Dit is in 6 bundels saamgevoeg wat onderskeidelik met Salomo (2 bundels met onderskeidelik ongeveer 375 en 137 spreuke elk – hfst 10:1-22:16; 25:1-29:27), die Wyses (2 bundels met onderskeidelik 30 en 5 spreuke elk – hfst 22:17-24:22; 24:23-34), Agur (12 spreuke, saam met ’n paar vrae en ’n gebed – hfst 30:1-22) en Lemuel (3 uitgebreide spreuke – hfst 31:1-31) verbind word. Ek fokus op die vernaamste beloftes daarin in die volgende paar weke (op Vrydae).

Spreuke 10:27-32 – Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is

27Ontsag vir die Here verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. 28Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. 29Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 30‘n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. 31Die mond van ‘n regverdige bring wysheid voort, maar ‘n verworde tong word afgesny. 32Die lippe van ‘n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.

Ek selekteer drie spreuke uit hoofstuk 10 met veral vers 29 wat ‘n besondere belofte bevat.

  • Spreuke 10:27-28 kontrasteer die lewensvooruitsigte van dié wat die Here vrees en dié wat Hom verag. Die regverdige kan met vreugde uitsien na die belofte van God se sorg in ’n lang lewe. Die goddelose het egter geen hoop buite homself wat enigsins standhoudend is.
  • Spreuke 10:29-30 kontrasteer steeds die regverdige en die goddelose. Vers 29 dui die belofte aan die regverdige letterlik so aan: “Die weg van die Here is ’n toevlug vir regdoeners, maar ondergang vir boosdoeners.” Vers 30 onderstreep die belofte van ‘n toevlug met die belofte dat die regverdige vir ewig onwankelbaar sal leef (dit is wat die vertaling “nooit” beteken). Die goddelose sal dit egter nie eers hier op aarde enduit maak nie.
  • Spreuke 10:31-32 kontrasteer die woorde van die regverdige en dié van die goddeloses. Die regverdige se woorde is wys en aanvaarbaar. Die goddeloses se woorde is pervers en verdraai die waarheid. “Die valse tong word uitgeroei” (vers 31 – 1933/53-vertaling), bedoelende, hulle valsheid sal vernietig word.

’n Mens kan dink dat om opreg en regverdig te lewe ’n geweldige inspanning is, en daar is uit die aard van die saak baie op die spel om dié keuse te maak, en dit kan baie van jou vra. Maar dit is altyd die moeite werd. Deur die regte dinge te doen, ontsluit jy ’n geweldige krag in jou lewe wat jou nie net aan God verbind nie, maar ook op ’n besonder manier in staat stel om die uitdagings van die lewe te kan hanteer. Die Here self verleng ons lewensdae. Ons kan vreugde in sy teenwoordigheid verwag. Ons sal sy “weg” as ‘n toevlug beleef. Ons sal in Hom nooit wankel nie. Ons sal ervaar dat Hy wysheid in ons bewerk, omdat Hy ons leer wat aanvaarbaar is en wat nie.

In kontras daarmee is die goddelose uitgelewer aan hulle eie vermoëns. Hulle jare word kortgeknip – dit eindig met die dood. Hulle hoop vergaan – want, dit is net vir hierdie lewe. Die weg van die Here bring ondergang vir boosdoeners – want, dit is net dié wat onberispelik lewe wat dit enduit op daardie weg kan maak (in die Nuwe Testament is Jesus natuurlik die geregtigheid wat hiervoor nodig is vir almal wat in Hom glo – 1 Kor 1:30). Goddelose sal dus die land nie bewoon nie – soos dit telkens in die geskiedenis bewys is dat volke “uitgespoeg” is weens hulle vergrype aan God, mense en die aarde (vgl Levitikus 18:24-30 waar die Here spesifiek na ‘n reeks van 16 seksuele oortredings verwys wat hierdie toorn oor volke in werking bring). Selfs hulle verworde en verdraaide woorde word deur God uitgewis.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-101-32-god-sorg-vir-die-opregtes/

1 Petrus 4:1-11 – Die liefde bedek ‘n menigte sondes

4 Augustus

1 Petrus 4:1-11 – Die liefde bedek ‘n menigte sondes

1Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. 2Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. 3Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. 4Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – 5hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. 6Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef. 7Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. 8Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde ‘n menigte sondes bedek”. 9Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. 10As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: 11As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. Amen.

In die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy op die interne en eksterne uitdagings wat geloofsgemeenskappe sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle egter dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê. Hy fokus daarom in die volgende twee hoofstukke op dié sake wat hulle staande kan hou en laat volhard. Die eerste is om hulle in alles te laat lei deur die wil van God – vers 1-6. Die Here het immers ons gewete skoon gewas en ons die versekering gegee het dat ons verhouding met Hom vasstaan op grond van die opstanding van die Here Jesus Christus. Daarom kan Hy van ons verwag om nie langer in die “stroom losbandigheid” te leef soos die wêreld nie, maar ons te laat lei “deur die wil van God”. Die wil van God word hier gebruik in die sin van iets wat God deur my lewe tot stand wil bring. Dít is waarvoor ons onsself moet gee. Dit goeie werke wat Hy deur ons wil doen. Dít is ook die eerste ding wat ons staande sal hou in ons geloofstryd in hierdie wêreld. Dat dít die wêreld sal verstom en hulle die geloofsgemeenskap sal laat belaster, mag die gelowiges nie afskrik nie. God sal immers van almal rekenskap eis. Die gelowiges kan reeds in dié lewe aan Hom rekenskap gee. Die ongelowiges sal dit hierná moet doen, en dit sal tot hulle skade wees. Die “hulle” in vers 6 dui op: “die geeste van gestorwe gelowiges” wat in die dood die goeie nuus van verlossing ontvang het, en daarom deel sal hê aan die ewige lewe (vgl Hebr 11:39-40).

Die tweede aspek van hulle standvastigheid het te make met die wyse waarop hulle mekaar bedien met die genadegawes wat God hulle gee: “As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God moet julle mekaar bedien in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het.” Dit sluit in dat hulle selfbeheersd en nugter lewe, en veral baie tyd aan gebed spandeer. Dit sluit in dat hulle gasvry teenoor mekaar sal wees, “sonder om te mor”. Dit sluit in dat as iemand die gawe gebruik van woorde, hulle dit sal ontvang: “soos woorde van God.” Dit sluit in dat as iemand dien, hulle dit sal doen: “vanuit die krag wat God voorsien.”

“Bo alles moet julle mekaar innig liefhê.” Hoekom? Want die belofte is dat die liefde ‘n menigte sondes sal bedek, sê Petrus. Daarmee verwys Petrus waarskynlik na beide die wysheidstradisie se waarneming oor die verskil tussen liefde en haat: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee” (Spr 10:12 – NET Bible interpreteer vergifnis as ‘n daad van liefde: “Love acts like forgiveness. Hatred looks for and exaggerates faults; but love seeks ways to make sins disappear.”), sowel as na Jesus se lering oor vergifnis. Dit is immers Petrus wat die vraag aan Jesus gevra het oor hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom gedoen het: “Selfs sewe keer?” Jesus se antwoord: “maar selfs sewentig maal sewe keer,” het vergifnis eintlik onverhandelbaar deel van die etos van die koninkryk gemaak (Matt 18:21-35). Vergifnis IS liefde. Dit herstel verhoudings.

Lees meer (preek): https://bybelskool.com/1-petrus-4-bo-alles-moet-julle-mekaar-innig-liefhe/

Hebreërs 11:1-16 – Geloof gryp God se beloftes aan, selfs wanneer die vervulling daarvan na die dood is

3 Augustus

Hebreërs 11:1-16 – Geloof gryp God se beloftes aan, selfs wanneer die vervulling daarvan na die dood is

1Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is. 3Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is. Gevolglik het dit wat gesien word, nie uit die sigbare ontstaan nie.

4Deur geloof het Abel ‘n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf.

5Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”.6Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.

7Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, ‘n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en ‘n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof.

8Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na ‘n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan.9Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in ‘n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. 10Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.

11Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. 12Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, ‘n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see.

13Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. 14Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland. 15En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; 16maar nou hunker hulle na ‘n beter een, ‘n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad voorberei.

Dit is só belangrik om hoofstuk 11 in konteks te lees. In die vorige hoofstuk het die skrywer die geloofsgemeenskap in Rome aangemoedig om met vrymoedigheid in God se teenwoordigheid te leef (Hebr 10:19-22). Hy het hulle aangespoor tot liefde en goeie dade terwyl hulle met volharding God se wil soek en doen (Hebr 10:23-25, 35-36). Nou wil hy hulle in hoofstuk 11 verder inspireer deur ’n wye reeks van voorbeelde van geloofsvolharding, sodat hy dit as deel van sy appèl kan gebruik dat hulle die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding kan hardloop (Hebr 12:1-3). “Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is.” (Hebr 11:2; vgl ook vers 39). Die definisie van geloof waarmee die skrywer begin, eintlik die enigste definisie van sy soort in die NT, is in die lig van hoofstuk 10 se boodskap nie ’n abstrakte teoretiese beskrywing van geloof nie. Dit beskryf heel konkreet die ingesteldheid, die aktiewe geloof en vertroue, waarmee hierdie wedloop wat vir die geloofsgemeenskap voorlê, gehardloop word. In ’n sekere sin is hierdie geloof ’n ander manier om die vrymoedigheid te beskryf waarmee hulle teenoor God en teenoor mense kan optree, soos in die vorige hoofstuk beskryf is. Dit beteken hierdie tipe geloof is die vertroue op God se beloftes as ’n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag word. Hierdie geloof reken die beloftes van God as ’n realiteit, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie. Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker. Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die rede hoekom ’n mens dít van God se beloftes kan glo, word dan eerstens deur die skrywer begrond in twee getuienisse uit die verlede: 1) die verhale van die geloofsgetuies (Hebr 11:2) en 2) die skepping van die wêreld deur die woord van God – ex nihilo – uit niks uit nie (Hebr 11:3). Hierdie verhale uit die verlede gee aan geloof sy toekomsgerigte karakter. Soos God Homself in die verlede bewys het in die geloofsgemeenskap sowel as in die skepping, só kan Hy vertrou word om ook in die toekoms op te tree en sy beloftes waar te maak. Hy gebruik drie verhale uit die oertyd as geloofsvoorbeelde: Abel (Gen 4), Henog (Gen 5) en Noag (Gen 6-9). Hoekom Abel ’n beter offer as Kain aan God gebring word, word nie uitgespel nie, behalwe die feit dat God oor sy gawes getuienis gelewer het deur Hom as regverdig te verklaar. Jesus het ook van Abel se vroomheid en onskuld gepraat (Matt 23:35). Die skrywer sluit aan by wat van Henog in die OT gesê word dat hy “naby God” geleef het (Gen 5:22) en beskryf hom as iemand wat deur geloof “God behaag het”. Om die waarheid te sê, sê die skrywer, “deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie”. Hy was dus in terme van Hebreërs se uitleg van geloof in vers 1, só seker van God se beloftes dat hy die werklikheid in hierdie lewe kon belewe! Judas, die broer van Jesus, noem Henog ook ’n profeet wat oor die toekoms wat God bring, getuig het (Judas 14). Waar in Abel en Henog se geval hulle verhouding met God in die kollig was, getuig Noag se voorbeeld van die feit dat hy God se woord nie net gehoor het nie, maar daaraan gehoorsaam was: “oor dit wat nog glad nie gesien is nie!” Hy het daarom die ark gebou wat die redding van sy huis beteken het en “’n erfgenaam geword van die regverdiging (of vryspraak) volgens geloof”. Die keersy daarvan was dat dit die wêreld van daardie tyd vir hulle gebrek aan geloof en vertroue op God veroordeel het.

Die Hebreërskrywer vervolg met vyf verhale uit die aartsvadertyd: Abraham en Sara (Gen 12-25), Isak (Gen 21-27), Jakob (Gen 25-49), en Josef (Gen 37-50). Hy dek dus die hele Genesis! Dieselfde tema van geloofsgehoorsaamheid en -vertroue wat met Noag aan die orde gestel is, word nou in die verhale van hierdie aartsvaders en –moeders nagevolg. Ons fokus egter vandag net op Abraham en Sara. Abraham se geloofsgehoorsaamheid toe hy geroep is om te trek na ’n plek wat hy as erflating sou ontvang, en sy verblyf as bywoner in dié land, word geprys. ’n Bietjie meer inligting word gegee oor sy motivering: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.” Daarmee word sy roeping verbind nie net aan die fisiese land waarheen hy getrek het nie, maar aan die toekomstige Jerusalem wat God as deel van sy koninkryk sal oprig. Dit gee waarskynlik ook meer detail oor die “sabbatsrus” wat vir die volk van God aan die einde van die tyd voorlê, soos die skrywer in Hebreërs 5:9 in die vooruitsig gestel het. Sara se geloofsvertroue op God: “aangesien sy Hom wat dit belowe het, getrou geag het,” word geprys. Die gevolg daarvan was ’n nageslag “in getal so veel soos die sterre van die hemel en soos die ontelbare sandkorrels op die strand by die see”. Sy het deur geloof as’t ware lewe gegee aan Abraham “wat so te sê dood was”! Die skrywer onderbreek sy vertelling om ’n gevolgtrekking te maak, gebore uit die feit dat elkeen van dié geloofsgetuies gesterf het, sonder dat hulle die volle werklikheid van die beloftes ontvang het. “Maar hulle het dit van ver afgesien en verwelkom, en bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde is.” Die beloftes het dus ’n hunkering in hulle wakker gemaak na ’n beter bedeling, ’n hemelse een. Die land en nageslag van Israel kon nie vir Abraham of Sara volle genoegdoening gee nie. Net God en die stad wat Hy vir hulle voorberei, kon dit doen. Om daardie rede is God nie skaam om hulle God genoem te word nie en hulle in te nooi in die stad wat Hy vir hulle voorberei.

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-11-sonder-geloof-is-dit-onmoontlik-om-god-te-behaag/

Psalm 50 – Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer

2 Augustus

Psalm 50 – Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer

1‘n Psalm. Van Asaf. Die God van die gode, die Here, het gepraat en die aarde opgeroep – van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. 2Vanuit Sion, plek van volmaakte skoonheid, laat God sy lig straal. 3Ons God kom en Hy gaan nie stilbly nie; voor Hom brand ‘n verterende vuur, rondom Hom woed ‘n geweldige storm. 4Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: 5“Maak my getroue volgelinge vir my bymekaar, hulle wat by die offers my verbond hernu.” 6Die hemel maak sy geregtigheid bekend, want God, Hy is regter. Sela

7“Luister tog, my volk, Ek wil my saak stel, Israel, Ek wil teen jou getuig: God, jou God, is Ek. 8Dit is nie oor jou offers wat Ek jou wil teregwys nie; jou brandoffers is altyd voor My. 9Ek sal nie uit jou stal ‘n bul vat, bokramme uit jou krale nie, 10want aan My behoort al die wild in die bos, die diere op ‘n duisend berge. 11Ek ken al die voëls op die berge en die insekte van die veld is aan My bekend. 12As Ek honger word, sal Ek jou nie sê nie, want die wêreld en die volheid daarvan is myne. 13Eet Ek die vleis van bulle, en die bloed van bokramme, drink Ek dit? 14Offer dank aan God, betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. 15Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.”

16Maar vir die goddelose sê God: “Watter reg het jy om my voorskrifte op te sê en my verbond op jou lippe te neem? 17Jy is die een wat vermaning haat, en my woorde verwerp. 18As jy ‘n dief sien, raak jy met hom bevriend, en met egbrekers hou jy jou op. 19Jy gee jou mond vrye teuels vir boosheid, en jy span jou tong in vir bedrog. 20Jy sit en konkel teen jou broer, jou moeder se seun beswadder jy. 21Hierdie dinge het jy gedoen, maar Ek het stilgebly. Jy het gedink Ek is net soos jy! Ek gaan jou teregwys en vir jou die saak duidelik uiteensit. 22Verstaan dit tog, julle wat God vergeet, anders verskeur Ek, en daar is niemand wat kan red nie. 23Wie dankoffers bring, eer My en wie ‘n weg baan – Ek sal hom God se verlossing laat ervaar.”

Psalm 50 is die eerste van die Psalms van Asaf, een van die hoof sangleiers van ’n Levitiese sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron 6:39). Daar is 12 Psalms van Asaf, hierdie een en die reeks van Ps 73-83 wat die 3de Psalmboek inlui. Soos in Jesaja 1 is Psalm 50 ook in die vorm van ‘n regsgeding, hierdie keer net in ‘n liturgiese formaat. Asaf se liturgie beslaan drie dele:

  1. God as Regter van alles wat bestaan, maak sy getroue volgelinge bymekaar– vers 1-6. Hy begrond sy reg om te oordeel in sy status as die God van die gode en van alles wat bestaan. Hy roep die hemel en die aarde as getuies van sy reg om te oordeel. Trouens, om Hom by te staan in sy besluit om diegene wat tydens hulle godsdiensbeoefening (offers) die verhouding met Hom vernuwe (verbond) te red van sy oordeel.
  2. God as Almagtige maak Homself bekend aan gehoorsames as die Een wat red in nood – vers 7-15. God spreek die volk aan daaroor dat dit vir Hom lyk asof hulle dink Hy is tevrede net met offers, trouens dat hulle dink dat Hy dit op ‘n manier nodig het. Dit is ver van die waarheid af. Alles is in elk geval syne, en Hy baat niks by hulle offers nie. Hy wil eerder hê dat hulle vir Hom dankie sê en hulle geloftes betaal. Dws, dat hulle in dankbaarheid en gehoorsaamheid sal lewe. Dan sal Hy inderdaad Homself bewys as die Een wat hulle kan aanroep in nood; Hy sal red. Dit is sy belofte. Hy is immers ook die Almagtige. Terloops, Paulus gebruik gedagtes uit hierdie deel van die Psalm in sy begronding van sy Godsbeeld in die preek op die Areopagus in Atene (Hand 17:25). Net so in sy voorskrif aan die Korintiese gelowiges om nie ander te veroordeel oor hulle eetgewoontes nie, want alles – ook die kos wat ons eet – behoort aan God en kan met dankbaarheid en erkenning aan God geniet word (1 Kor 10:26).
  3. God as God – Hy is nie soos ons nie! – maak Homself bekend aan goddeloses as die Een wat verskeur – vers 16-23. Hierdie goddeloses is nie dié wat in die wêreld sonder God leef nie, maar kom binne die gemeenskap van gelowiges voor! Dit bly darem maar ontstellend! Let op dat hulle met die mond die Here dien (Ps 50:16), maar in gedrag sonder Hom optree en teen sy uitgesproke wil (Ps 50:17-20). Veral die oortredings van die tweede tafel van die wet kom onder skoot, die 7de tot 9de gebod: egbreuk, diefstal, leuens. God (en die liturg by implikasie) kan nie daaroor stil bly nie: “Jy het gedink Ek is net soos jy!” (Ps 50:21). Daarom moet die goddelose gelowige (as ‘n mens dit só kan noem) tot inkeer kom en luister, anders sal hulle duur betaal omdat hulle nie met God se oordeel rekening hou nie (Ps 50:22). Dit is die mens wat in dankbaarheid leef, wat God eer, en vir God ruimte maak in sy lewe (“‘n weg baan of bepaal”) wat God se verlossing sal ervaar (Ps 50:23).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-50-loof-god-deur-hom-in-alles-te-erken-en-vereer/

Onlangse kommentaar