Hosea 1:1-12 – Nogtans kinders van die lewende God
Hosea 1:1-12 – Nogtans kinders van die lewende God
1Dit is die woord van die Here aan Hosea, seun van Beëri. Dit was in die tyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda, en in die tyd van Jerobeam, seun van Joas, koning van Israel. 2Die begin van wat die Here deur Hosea gesê het. Die Here het vir Hosea gesê: “Gaan neem vir jou as vrou ‘n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die Here af.” 3Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir hom: “Noem hom Jisreël, want nog ‘n klein rukkie, dan roep Ek die huis van Jehu tot verantwoording oor die bloedbad by Jisreël. Ek gaan ‘n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. 5Op daardie dag sal Ek die boog van Israel breek op die vlakte van Jisreël.” 6Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ‘n dogter. Die Here sê toe vir hom: “Noem haar Lo-Rugama, want Ek gaan My nie langer ontferm oor die huis van Israel nie, ja, Ek sal hulle geensins vergewe nie. 7Maar oor die huis van Juda sal Ek my ontferm. Ek sal hulle verlos deur die Here hulle God; Ek sal hulle nie deur boog en swaard en oorlogstuig, deur perde en ruiters verlos nie.” 8Toe sy Lo-Rugama gespeen het, het sy swanger geword en geboorte gegee aan ‘n seun. 9Die Here sê toe: “Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek is nie ‘Ek Is’ vir julle nie.” 10“Maar die kinders van Israel sal so veel wees soos die sand van die see wat nie afgemeet en getel kan word nie. Op die plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is Lo-Ammi,’ sal vir hulle gesê word, ‘Kinders van die lewende God.’ 11Die kinders van Juda en die kinders van Israel sal saamkom, en vir hulle een hoof aanstel. Hulle sal uit die grond opskiet, want groot is die dag van Jisreël. 12Sê vir julle broers, ‘Ammi,’ en vir julle susters: ‘Rugama.’ ”
Die profeet Hosea, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Amos, tree op in die agste eeu vC. Dit was volgens vers 1 die tyd van die Judese konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, sowel as die koning van Israel, Jerobeam II. Hosea se boodskap is veral gemik teen die tien-stamme noordryk van laasgenoemde koning, hoewel die twee-stamme suidryk ook betrek is in die boodskap, soos ‘n mens aan die einde van hoofstuk 1 kan sien. Hosea 1 begin met die tekening van die verhouding van God en die volk as ‘n huweliksverhouding. Die Here beskou dié verhouding egter as problematies, want dit is vir Hom asof Hy met ‘n prostituut getroud is. Daarom is dit dan ook sy eerste opgetekende opdrag aan Hosea om Gomer, ‘n prostituut, te trou en by haar kinders te hê. Hosea sal self dus ervaar wat God ervaar, en die volk sal in Hosea se ervaring die wesenlike probleem van God se ervaring met hulle raaksien. Let op dat Gomer reeds ander buite-egtelike kinders het, “hoerkinders”. Die drie kinders wat Hosea en Gomer gesamentlik het, kry name wat ook as boodskappe aan die volk dien:
- Jisreël – Die naam van hierdie seun roep die verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here, deur die profesie van Elisa, oorskry het, en meer bloed vergiet het as wat die Here hom beveel het. God se opdrag was om die koningshuis van Agab uit te wis, en vir Isebel, sy vrou, wat in Jisreël gebly het. Jehu het egter soos ‘n mal mens tekere gegaan en nie net op grusame wyse almal uit die nageslag van Agab, die vroeëre koning van Israel, in Jisreël en Samaria, sowel as Isebel uitgewis nie, maar op die koop toe ook vir Ahasia, koning van Juda, sowel as sy broers, sonder enige sodanige opdrag van die Here. Dat van dié broers ook aan die Agabshuis verbind was via sy dogter Atalia, het hom nie in die oë van die Here verskoon nie. Gelukkig is een kind van Ahasia, Joas, vroeër in die tempel weggesteek, en kon hy later koning word, sodat die nageslag van Juda nie op dié punt heeltemal uitgesterf het nie. God soek gehoorsaamheid, ja, maar niks meer as wat Hyself beveel nie.
- Lo-Rugama (Sonder-ontferming) – Die naam van hierdie dogter simboliseer God se versaking van Israel in terme van vergifnis en beskerming. Juda sal egter sy ontferming bly geniet, in kontras met die uitwissing aan die hand van Jehu.
- Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) – Die naam van hierdie seun simboliseer dat God die verbondsverhouding met die volk opsê, omdat dit deur hulle deurbreek is: “Ek is nie EK IS vir julle nie.” Dit is die naam waarmee die Here Homself aan Moses by die braambos bekend gestel het (Eks 3:14), wat die terugtrekking nie net van sy verbondsverhouding met hulle impliseer nie, maar ook die opsegging van die openbaring van sy teenwoordigheid by hulle.
Die Here gee egter nógtans ‘n belofte vir die toekoms, ‘n tyd waarin Hy vir die somtotaal van elkeen wat deel van Israel is die lewende teenwoordige Here sal wees – ‘n getal wat soos die sand van die see sal wees en nie getel of gemeet kan word nie en daarom ‘n duidelike herinnering aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het (Gen 22:17). “Julle is kinders van die lewende God.” Inderdaad. Hierdie belofte van die Here kry ‘n nog dieper betekenis in die lig van die “EK IS” verwysing in vers 9. Die Here belowe dus dat sy verhouding met hulle so intiem en werklik sal wees soos wat Hy die pad met Abraham en Moses geloop het. En dié belofte sal geld vir elkeen wat deel van die Godsvolk sal word! Daarby belowe die Here ‘n eenheid tussen die onderskeie dele van die ryke van Israel en Juda, onder een leier of hoof. Daarom, sê Hosea, kan hulle maar solank vir hulle broers sê: “Ammi (My volk)” en vir hulle susters: “Rugama (Ontferming)”. Die boodskap, wat eers in die toekoms sal waar word, kan solank in die hede omarm word.
Die bedoeling van dié vreemde opdrag van die Here aan Hosea om met ‘n prostituut te trou, is bedoel om ons tot stilstand te ruk. Dit plaas ons voor die persoonlike vraag na die gehalte van ons eie verhouding met die Here. Ons moenie net vra, wat beteken God vir ons nie, maar eerder: “Hóé ervaar Hy vir ons?” Wat sou God oor ons sê, as iemand Hom sou vra na wat ons vir Hom beteken?! Sou Hy kon sê, Hy ervaar ons as mense wat getrou aan Hom leef? Óf sou Hy ons ook ervaar as mense wat ontrou is aan Hom? God soek immers gehoorsaamheid. Want dán kan ‘n mens die intimiteit en werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar soos ‘n Abraham en ‘n Moses. Die belofte van hoop lê in die Here se besluit om nógtans ook vir ons te sê: “Julle is kinders van die lewende God.” HY hou die verhouding met ons in stand, selfs al lewe ons nie altyd in gehoorsaamheid nie. Hy bly die Een wat Hom oor ons ontferm. Daaroor kan ons net dankbaar wees.
Lees meer: https://bybelskool.com/hosea-11-12-hosea-trou-met-die-ontroue-gomer/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar