Psalm 85 – Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het
Psalm 85 – Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het
1Vir die musiekleier. Van die Koragiete. ‘n Psalm. 2Here, U was u land goedgesind; U het die lot van Jakob verander. 3U het die sondeskuld van u volk vergewe; U het al hulle sonde bedek. Sela 4U het al u gramskap teruggehou; U het afgesien van u brandende toorn. 5Herstel ons nou weer, o God wat ons verlos; maak ‘n einde aan u ergernis teen ons. 6Gaan U vir altyd teen ons toornig wees? Gaan u toorn voortduur van geslag tot geslag? 7U, wil U ons nie maar weer lewend maak, sodat u volk hulle in U kan verheug nie? 8Here, laat ons weer u troue liefde ervaar, u verlossing – skenk dit aan ons! 9Ek wil hoor wat God, die Here, sê, want Hy praat oor vrede vir sy volk en sy getroue volgelinge. Hulle moet net nie terugkeer na dwaasheid nie. 10Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het, sodat sy heerlikheid in ons land ‘n tuiste kan hê. 11Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede omhels mekaar. 12Waarheid sal uit die aarde spruit, geregtigheid uit die hemel neerkyk. 13Daarby sal die Here gee wat goed is, en ons land sal sy opbrengs lewer. 14Geregtigheid gaan voor Hom uit en baan vir sy voetstappe die weg.
Dit is belangrik om in hierdie Psalm vers 2-4 van vers 5-8 te onderskei, iets wat meer duidelik in die 2020-vertaling as in die 1983-vertaling gedoen word. Anders maak die verandering in perspektief van vers 4 na 5 nie sin nie – “4U het afgesien van u brandende toorn … 5maak ‘n einde aan u ergernis teen ons.” Só kan ’n mens beter raaksien dat vers 2-4 terugverwys na God se herstel van die volk ná ’n tyd van woede (vers 4). Dit kan verwys na enige episode in die Rigters- of Koningstyd, selfs na die terugkeer uit ballingskap. Hy het die lot van die volk verander, hulle ’n nuwe toekoms gegee (vers 2). Vers 5-8 is dan ’n bede dat die Here Hom nou weer oor hulle sal ontferm (vers 5), in ’n tyd waarin die volk weereens ervaar dat die Here vir hulle kwaad is (vers 6). Hy is immers hulle Verlosser (vers 5) wat die lewe vir hulle weer nuut kan maak, sodat hulle hul vreugde in die Here kan vind (vers 7). Die Psalm het dus ’n universele toepassing wat pas in enige tyd van ontwrigting waarin staatgemaak word op God se ingrype in die verlede as motivering vir ’n gebed vir omkeer in die hede.
Die res van die Psalm, vers 9-14, bevat die verbintenis van die liturg namens die volk om na God te luister (vers 9) en ’n beskrywing van die verwagte oorvloedige uitkoms wat God sal bring vir dié wat vir Hom ontsag het (vers 10-14). Die verbintenis aan en die verwagting van God is albei onontbeerlike elemente in die herstel van die verhouding met God wat die vrede in ons lewe laat aanbreek. Saam met die verbintenis spreek die Psalmis sy verwagting uit dat die Here sy verlossing só sal bring dat daar agt beloftes vir die volk sal waar word:
- “Sodat sy heerlikheid in ons land ‘n tuiste kan hê” (vers 10b) – dit is die effek wat ontsag vir God en vir die lewe in ‘n samelewing het: die volheid van God se teenwoordigheid wat ruimte op aarde kry om te kan tuiskom.
- “Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar” (vers 11a) – albei is nodig vir ’n stabiele gemeenskap. Die liefde kan nooit sonder die waarheid liefde wees nie. Die waarheid kan ook nie sonder die liefde steeds die waarheid wees nie. Waar troue liefde en waarheid mekaar ontmoet, daar breek die teenwoordigheid van God deur in hierdie wêreld.
- “Geregtigheid en vrede omhels mekaar” (vers 11b) – sonder geregtigheid kan daar nie vrede wees nie en sonder dat ’n mens nie doelbewus vrede najaag nie, kan daar ook nie geregtigheid wees nie.
- “Waarheid sal uit die aarde spruit” (vers 12a) – niks sal God se seën op aarde kan fnuik nie. Die waarheid sal seëvier op aarde.
- “Geregtigheid sal uit die hemel neerkyk” (vers 12b) – vers 11 se beloftes van ‘n samehang van troue liefde en waarheid, sowel as ‘n samehang van geregtigheid en vrede, word hiermee as ’n omvattende hemelse en aardse werklikheid geskets.
- “Daarby sal die Here gee wat goed is” (vers 13a) – alles wat nodig is om te floreer sal van God af uitgegiet word. ‘n Mens hoor eggo’s van God se woorde met die skepping: “Toe sien God dat dit goed was.”
- “Ons land sal sy opbrengs lewer” (vers 13b) – en daar sal niks op aarde wees wat God se goeie gawes dwarsboom nie. Alles wat lewe sal vrug dra.
- “Geregtigheid gaan voor Hom uit en baan vir sy voetstappe die weg.” (vers 14) – dit is die toppunt van dié beloftes, dat God geregtigheid sal vestig op aarde. Dit is die einddoel van alles, om jouself te vind op die pad van die geregtigheid wat God gee.
Dit tref my hoe belangrik nie net die gebed om verandering in ’n mens se lewe is nie, maar ook die verbintenis aan en verwagting van God. Die Psalm leer ons dat al drie elemente onontbeerlik is vir die herstel van ’n mens se verhouding met God en vir die ontvangs van die vrede wat Hy bring. Ons moet met alles in ons bid vir verandering. Ons moet net so vasberade onsself aan God verbind en sorg dat ons nie weer afdwaal nie! En ons moet met net soveel oorgawe vashou aan die agt beloftes wat die Psalmis hier uitspel. Mensig, watter droom en visie om voor te bid, te lewe en na uit te sien!
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-85-die-verbintenis-aan-en-verwagting-van-god-vir-uitkoms/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar