Psalm 107:1-9, 42-43 – God lei verdwaaldes na ‘n woonplek
Ps 107:1-9, 42-43 – God lei verdwaaldes na ‘n woonplek
1“Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde,” 2moet hulle sê wat deur die Here vrygekoop is, hulle wat Hy vrygekoop het uit die hand van teenstanders, 3en byeengebring het uit alle lande, uit die ooste en die weste, uit die noorde en vanaf die see. 4Hulle het in die woestyn rondgedwaal, in die wildernis was hulle op pad; ‘n stad, ‘n woonplek, kon hulle nie kry nie. 5Honger en dors was hulle; die lewenskrag in hulle het weggekwyn. 6Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle gered. 7Hy het hulle op ‘n gelyk pad gelei om na ‘n stad, ‘n woonplek, te gaan. 8Hulle moet die Here prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders; 9want Hy het die dors van hulle kele geles, en die honger van hulle kele het Hy gestil met wat goed is… 42Opregtes sien dit en is verheug; maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe. 43Wie wys is, moet hierop ag slaan en op die troue liefde van die Here let.
(Lees gerus die res van die Psalm!)
Psalm 107 begin met ‘n refrein wat jy as lewensmotto kan gebruik. “Dank die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.” Daarmee gee die Psalmis vir gelowiges van alle tye beide ‘n belydenis en ‘n gebed, ‘n lofprysing en ‘n herinnering, ‘n stelling oor God se karakter en ‘n sug na God se ingrype in hierdie wêreld. Iets wat jy vandag kan neerskryf of memoriseer en as gebed die volgende tyd kan gebruik. Die refrein bepaal ook die struktuur van die Psalm. Die eerste drie verse gaan oor God se goedheid. Die volgende verse tot by vers 43 gaan oor sy liefde wat nooit tot ‘n einde kom nie.
Die Psalm begin met die motief van die terugkeer na hulle land as bewys van God se getrouheid. Dit bewys dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie. Dit is daarom ook ‘n dankpsalm. Die Psalm volg dit op met ‘n beskrywing van God se goedheid aan ses groepe wat Hom daarvoor moet prys. Ons lees vandag net van die belofte van sy goedheid vir die eerste groep: God lei verdwaaldes na ‘n woonplek (vers 4-9). Waar verdwaaldes in die woestyn gesmag het na water om te drink en kos om te eet – moontlik met die Eksodus uit Egipte as agtergrond – het God hulle hulpgeroep gehoor en hulle uit hulle ellende gered. Hy het hulle op die regte pad gebring (vgl Ps 1). “Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het.”
Die Psalm eindig in vers 42-43 met die waarneming dat waar opregtes dié dinge sien, is hulle bly, “maar almal wat onreg doen, hou hulle monde toe!” Dit beteken dat God se getrouheid die monde van die onregverdiges snoer. Ek het veral gehou van dié vertaling: “Good people see this and are glad; bad people are speechless, stopped in their tracks.” (The Message). Opregtes is dus bly omdat die dade van God se getrouheid wys dat God in staat is om die onreg en verdrukking om te keer. Die punt is dat God se goedheid en getrouheid bose mense en onreg stilmaak. Daarom moet ons sonder ophou daaroor praat en God daarvoor loof. God is goed. Hy is regtig goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Hom kan jy vertrou. Loof en dank die Here!
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-107-god-is-goed-en-getrou-aan-sy-liefde-is-daar-geen-einde-nie/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar