Skip to main content

Hosea 11:1-11 – God red altyd ‘n oorblyfsel wanneer Hy sy volk oordeel

25 Julie

Hosea 11:1-11 – God red altyd ‘n oorblyfsel wanneer Hy sy volk oordeel

1“Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep. 2Toe daar later net so na hulle geroep is, het hulle van My af weggegaan. Hulle het vir die Baäls offers geslag, vir afgodsbeelde die rook van offers laat opstyg. 3“Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle in my arms geneem, maar hulle wou nie erken dat Ek hulle versorg nie. 4“Met menslike bande het Ek hulle nadergetrek, met die toue van liefde. Ek was vir hulle soos dié wat die juk lig wat teen hulle kake druk. Ek het na Efraim afgebuk, hom gevoed. 5“Hy sal nie na Egipteland teruggaan nie, maar Assirië, dié sal sy koning wees; want hulle het geweier om hulle te bekeer. 6Die swaard sal deur sy stede gaan en sy orakelpriesters uitroei; dit sal hulle vernietig oor die raad wat hulle gegee het. 7My volk sal opgehang word vir sy afvalligheid, en na die juk sal hulle hom roep, ‘n juk wat glad nie gelig sal word nie. 8“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel? Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My. 9Ek sal nie in my brandende toorn optree nie; Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie; want Ek is God, nie ‘n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” 10Hulle sal die Here volg. Soos ‘n leeu sal Hy brul; wanneer Hy brul, sal kinders bewend van die see af kom. 11Hulle sal bewend aankom soos voëls uit Egipte, en soos ‘n duif uit die land Assirië. “Ek sal hulle in hulle huise laat woon,” is die uitspraak van die Here.

Dis interessant dat die verhouding van God en Israel hier nie as ‘n huweliksverhouding geteken word nie, maar as dié tussen ‘n pa en sy seun. Daarmee word die moontlike seksuele konnotasies van die vrugbaarheidsgodsdienste vermy waarmee die huweliksmetafoor wat vroeër in die boek gebruik is, geassosieer kon word, sodat die kontras met die Baälgodsdiens helder hier getrek kan word. Hosea draai egter nie doekies om in sy beskrywing van die frustrasie wat die Here beleef het in sy verhouding met Israel nádat Hy alles in sy vermoë gedoen het om hulle status van ‘n slawevolk in Egipte na dié van ‘n vry en selfstandige volk in hulle eie land te verander. Hulle wou egter nie erken dat God hulle versorg het nie, en het hulle lojaliteit verskuif na die Baälgodsdiens toe. God se straf is die ballingskap weens hulle keuse om onderdanig aan Assirië te word. Dié juk waaronder hulle hulleself geplaas het met die alliansie met die Assiriërs sal nie net hulle selfstandigheid wegneem nie, maar hulle weer die status van ‘n slawevolk laat inneem.

Die Here se band met Israel word egter nie só maklik verbreek nie. Sy worsteling met die gevolge vir sy volk van die selfopgelegde Assiriese juk waaronder hulle ingeskuif het, openbaar sy diep liefde vir hulle: “Hoe kan Ek jou prysgee … My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” Die Here kry dit nie oor sy hart om hulle te oordeel soos Hy met die mense van Adma en Sebojim gedoen het in die tyd van Abraham nie, waar hulle saam met Sodom en Gomorra omgekom het weens die gewelddadigheid van hulle gemeenskapslewe (Gen 19; Deut 29:23). Daarom verkondig Hosea dat die Here nie uiteindelik heeltemal vernietigend wil optree teen sy volk nie. Hy is immers nie so gewelddadig soos die volk self in hulle onderlinge gemeenskapslewe nie: “Ek is God, nie ‘n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” Daar sal ‘n oorblyfsel bly wat die Here sal volg en sal terugkom wanneer die Here soos ‘n leeu vir hulle brul (vers 10).

En ons weet dat dít wel gebeur het. Aanvanklik het Assirië mense van ander nasies gebring om hulle in die plek van die Israeliete te vestig in Samaria en die res van die noordryk (2 Kon 17). Toe dinge nie goed gaan nie: “omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie,” het die koning ‘n aantal weggevoerde priesters laat terugkom om die mense te leer. Dit het egter nie regtig die gewenste uitwerking gehad nie, en die gemengde bevolking het ‘n gemengde godsdiens gehandhaaf vir die volgende paar eeue. Daarom dat Jesus vir die Samaritaanse vrou, een van die afstammelinge van dié mensegroep, sê: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh.4:22). ‘n Deel van die noordryk het egter ook as immigrante in Juda kom woon en deel van die volk geword (2 Kron 30:25 – vgl ook 1 Kron 9:3 en 2 Kron 15:9 waar van hulle gepraat word). Ons lees ook dat die Judese koning Hiskia van die agtergeblewe noordryk mense uitgenooi het om die Paasfees te kom vier in die tyd ná die ballingskap. Dié mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het juis nie mooi geweet hoe hulle hulself moes reinig vir die Paasfees nie! Ná die ballingskap van die suidryk in 586 vC het daar ook ‘n aantal mense van die noordryk wat verstrooi is met die eerste ballingskap in 722 vC by die oorblyfsel in Jerusalem in die tyd van Jeremia kom aansluit (Jer 40:12), hoewel dit ‘n tyd van chaos was en baie van hulle toe doodgemaak is en ‘n verdere uittog na Egipte plaasgevind het. Die edik van Kores van Persië dat die Jode kan terugkeer in 538 v.C. het ook geïmpliseer dat enigiemand in sy breë wêreldryk wat met die Joodse volk geassosieer was, kon terugkeer (Esra 1).

Ons sien hier die begin van die ontwikkeling van die idee van die oorblyfsel. Dit verkondig dat God se liefde en sy genade groter is as sy oordeel. Hy is nie soos die mense wat voor die voet vernietig nie. Daarvoor is Hy te anders, te heilig, te vol van liefde en deernis. Dit is ‘n idee wat deur Jesaja, sy tydgenoot, en deur Jeremia en Esegiël verder ontwikkel sou word en in die NT as deel van die Godsbewussyn hanteer sou word, soos Paulus bv. in Romeine 9-11 sou argumenteer. Daarin lê ook die hoop van die evangelie opgesluit soos Jesus dit in die evangelie van Johannes uitgedruk het: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (3:16). Dít is ‘n belofte wat uiteindelik dus nie net vir die Jode van belang was nie, maar vir elke mens regoor die wêreld.

Lees meer: https://bybelskool.com/hosea-111-11-my-hart-is-diep-ontroer-in-my-die-deernis-brand-in-my/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar