Skip to main content

Kolossense 3:1-11 – Julle lewe is saam met Christus verborge in God

27 Julie

Kolossense 3:1-11 – Julle lewe is saam met Christus verborge in God

1As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. 2Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. 3Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. 5Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. 6As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. 7Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. 8Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. 9Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, 10en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. 11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal.

Dit is uiters belangrik om oor jouself en die geloofsgemeenskap vanuit julle verbintenis met Christus Jesus te dink. Want dit beïnvloed alles. Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie. Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo. Ons status verander. Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe. Trouens, ons lewe is verborge in God. En daarom is ons toekoms verseker. Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn. Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo om al hoe meer te word wat ons in wese reeds is, “kinders van God”. Ons lewe wat in God verborge is, moet só al hoe meer sigbaar raak op aarde. Paulus bedoel dus nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie. Hy bedoel iets heel anders. Hy moedig ons aan dat ons sal toesien dat ons gedagtes en gedrag vry sal raak van dié dinge wat die “seuns / kinders van ongehoorsaamheid” nog doen en vol sal raak van die dinge daarbo, dié dinge wat hoort by die “kinders van God”.

Paulus noem hier twee groepe van vyf sondes elk in vers 5-8 wat ons daarom moet aflê. (In vers 12 sal hy vyf deugdes noem wat ons moet opneem, waarna ons môre kyk). Die eerste groep sondes het met begeertes of gedrag wat jou persoonlik besoedel, te make: onsedelikheid (porneia – enige seks van enige aard buite die huwelik), onreinheid (akatharsia – om mekaar se liggame seksueel te onteer [vgl Rom 1:24]), wellus (pathos – sterk seksuele drange wat bv tot oneerbare gedrag aanleiding gee [vgl Rom 1:26]), slegte begeertes (epithumian kakēn – bose of immorele begeertes, of om te wil hê wat aan iemand anders behoort), en gierigheid (pleonexia – om meer as ander mense te wil hê) wat in wese afgodediens is (die ding wat jy begeer word vir jou soos ‘n afgod). Ons is juis nie meer onder die toorn van God wat steeds rus op die “seuns van ongehoorsaamheid” (mense wat dié dinge doen) nie. Ons mag dus nie dat dié dinge weer ons lewe kenmerk nie.

Die tweede groep sondes het met houdings en gedrag wat die geloofsgemeenskap besoedel, te make:  woede (orgē – om in ‘n toestand van woede te wees), driftigheid (thumos – om in toestand van intense woede te wees met passievolle uitbarstings), kwaadwilligheid (kakia – ‘n gevoel van vyandigheid en sterk afkeer, met ‘n moontlike implikasie van die begeerte om skade te doen), lastering (blasphēmia – om iets oor mense te sê wat hulle reputasie skade kan berokken), en onwelvoeglike taal (aischrologia – skandelike en vulgêre praatjies; vuil taal; beledigende skeltaal). Paulus som dit op deur hulle aan te moedig om eerlik en opreg met mekaar te kommunikeer sodat die onderlinge vertroue gebou kan word. En dit is net moontlik as ‘n mens die ou mens uittrek, die nuwe mens aantrek, en toelaat dat die Here self jou na sy beeld sal vernuwe. Wat meer is, dan val selfs die ou onderskeidings wat daar tussen mense was, weg (die Skittiërs was nomadiese stamme wat van Sentraal-Asië ooswaarts gemigreer het en hulle in die suide van Rusland gevestig het en ook as barbaars gereken is). Dan sal Christus alles wees en in almal. Watter belofte!

Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-31-41-leef-as-nuwe-mense/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar