Lukas 11:1-13 – Vra en vir julle sal gegee word
Lukas 11:1-13 – Vra en vir julle sal gegee word
1Op ‘n keer het Jesus op ‘n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het.” 2Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê, “ ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. 3Gee ons elke dag ons daaglikse brood 4en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ ” 5Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het ‘n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, 6want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ 8Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. 9Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. 11“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee? 12Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”
Jesus het op pad Jerusalem toe vir sy kruisiging die Ons Vader gebed in ‘n effens gewysigde vorm as in die Bergrede vir sy dissipels geleer. So vertel Lukas ons. Dit gebeur net nádat Hy op ‘n plek, waarskynlik alleen, gebid het, met verwysing na die wyse waarop Johannes die Doper sy eie dissipels geleer het. Dit is waarom hierdie gebed ook as die “Dissipel gebed” bekendstaan, nie net as die “Ons Vader” nie. Die gebed is korter en bestaan net uit vyf bedes. Die derde gebed In Matteus 6 rondom die wil van God as geheel en die byvoeging by die sesde gebed rondom die verlossing van die Bose word weggelaat.
Die Vader word gevra dat Hy sal sorg dat sy Naam geheilig word, dws dat Hy reg geken en erken sal word in sy volle karakter, soos Hy werklik is. Dat Hy daarby sy koninkryk sal laat kom, ‘n gebed wat nog meer dringend is deurdat Jesus sy visier op Jerusalem geplaas het waar Hy die grootste prys vir die koms van die koninkryk moet betaal. God word ook gevra vir die drie noodsaaklike goed om Hom te dien; voorsiening, vergifnis en bewaring in versoeking. Die voorsiening is vir die daaglikse noodsaaklikhede; dat die voorsiening nooit sal stop nie. Die vergifnis is in ooreenstemming met ons eie bereidheid om te vergewe. Die gebed rondom versoeking is ‘n gebed om die regte houding in versoeking, soos ‘n Josef wat kon wegvlug daarvan (Gen 39).
Jesus gebruik die gelykenis van die skaamtelose vriend om ‘n lewe in gebedsafhanklikheid te onderstreep. Iemand het onverwags ‘n vriend as gas gekry en het nie iets gehad om vir hom voor te sit nie. Dit was ‘n groot verleentheid in die gasvryheidskultuur van daardie tyd. Daarom vra hy van ‘n ander vriend van hom om hom drie brode te leen, al was dit al in die middel van die nag. Jesus gebruik dié voorbeeld omdat hy weet dat só ‘n versoek nie geweier sal kan word nie. Die man sal nie sy gerief – hy en sy gesin is al aan die slaap – as verskoning kan gebruik om die versoek te weier nie. Dit sou ‘n groter skande wees as die skande van die skaamtelose versoek. Daarom sal hy doen wat die vriend vra, al is dit nie ter wille van die vriendskap nie, maar net weens die skaamteloosheid van die versoek.
Jesus herhaal dan die beloftes wat Hy in die Bergrede geleer het oor dié wat vra, soek en klop, want hulle sal ontvang, vind en voor oopgemaak word. Hy gebruik ook die vergelyking met die aardse vader, maar dié keer met die voorbeelde van ‘n vis en ‘n eier wat eerder as ‘n slang of ‘n skerpioen gegee sal word. Ons verwagting in ons gebede moet deur God se vrygewigheid bepaal word. Trouens, God sal nog meer doen as om goeie geskenke vir sy kinders te gee. Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat Hom vra. Ons kan hierdie prentjie van God ter harte neem. God is meer vrygewig as wat ons ooit kan dink. Hy is meer gereed om aan ons te gee wat ons vra, soek of voor klop. In elk geval baie meer as wat ons dit van aardse pa’s kan verwag. Die gawe van die Heilige Gees – God self – bewys dat Hy niks terughou wat goed is vir ons nie. Daarop kan ons vertrou.
Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/die-gelykenis-van-die-ware-vriend-lukas-115-13/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar