Skip to main content

Psalm 125 – Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan

23 Julie

Psalm 125 – Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan

1‘n Pelgrimslied. Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan. 2Jerusalem word omring deur berge; die Here omring sy volk van nou af tot in ewigheid. 3Ja, die goddelose septer sal nie rus op wat aan die regverdiges toegeken is nie, sodat die regverdiges nie hulle hande na onreg uitsteek nie. 4Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte. 5Maar dié wat afdraai op kronkelpaaie – die Here sal hulle laat weggaan saam met dié wat onreg pleeg. Vrede oor Israel!

Dié Psalm vertolk die vertroue van die pelgrims op die Here. God is vir hulle net so onwankelbaar soos die Sionsberg waarop die tempel gebou is. Trouens, soos hulle na die omringende berge om Jerusalem kyk – omtrent soos ‘n muur van berge wat almal hoër was as die berg in Jerusalem – weet hulle dat die Here sy volk net só sal beskerm, “van nou af tot in ewigheid.” Elke keer as hulle by Jerusalem aankom en die bekende simbole van hulle geloof sien, word hulle dus in dié geloof in God bevestig. God is net so onwankelbaar as die Sionsberg. Hy is net so beskermend soos die muur van berge om Jerusalem.

Dit ontlok in hulle die belydenis dat God se onwrikbare beskerming sal keer dat die: “goddelose septer” – die simbool van die gevaar van ‘n goddelose regering – nie vir altyd die regverdiges sal verguis, en hulle verlei word om self op ‘n onregverdige manier daarteen op te tree nie. Hiermee verwys die Psalmis na die goddelose heersers wat van tyd tot tyd oor hulle grondgebied die botoon gevoer het. Dit kan selfs wees dat hy verwys na van hulle eie heersers wat die Here nie gedien het nie.

Die Psalmis verlaat hom egter nie op die moontlikheid om die reg in eie hande te neem nie, maar op sy vertroue dat die Here nie sal toelaat dat goddeloses vir altyd sal oorheers nie. Daarom is sy belydenis ook ‘n implisiete afwysing van enige poging van die regverdiges om hulle hande met onregverdige optrede vuil te maak. Die enigste legitieme weerstand lê in die vertroue op God self. Daarom bid hy drie gebede vir en oor die geloofsgemeenskap:

  1. “Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte.” Dit is ‘n gebed wat ons ook in elke situasie waarin ons is, en waarin mense ná aan ons verkeer, kan bid. Ons mag God vertrou dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat Hy liefhet (Rom 8:28).
  2. Laat dié wat afdraai op kronkelpaaie, wat nie meer die reguit pad loop wat die Here in sy Woord uitspel nie (vgl Ps 119), begaan om hulle eie rigting in te slaan: “saam met dié wat onreg pleeg.” Waar jy die reg in eie hande neem, word jy immers nes die onregverdiges.
  3. “Vrede oor Israel!” Dit is die belangrikste gebed wat ‘n mens eintlik vir enigiemand kan bid, want vrede sluit heelheid en oorvloed in, beide in terme van die lewe hier en nou sowel as die verhouding met God wat tot in ewigheid duur.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-125-here-doen-goed-aan-die-goeies-aan-die-wat-opreg-is-in-hulle-harte/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar