Skip to main content

Hebreërs 11:1-16 – Geloof gryp God se beloftes aan, selfs wanneer die vervulling daarvan na die dood is

3 Augustus

Hebreërs 11:1-16 – Geloof gryp God se beloftes aan, selfs wanneer die vervulling daarvan na die dood is

1Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is. 3Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is. Gevolglik het dit wat gesien word, nie uit die sigbare ontstaan nie.

4Deur geloof het Abel ‘n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf.

5Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”.6Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.

7Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, ‘n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en ‘n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof.

8Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na ‘n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan.9Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in ‘n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. 10Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.

11Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. 12Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, ‘n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see.

13Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. 14Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland. 15En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; 16maar nou hunker hulle na ‘n beter een, ‘n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad voorberei.

Dit is só belangrik om hoofstuk 11 in konteks te lees. In die vorige hoofstuk het die skrywer die geloofsgemeenskap in Rome aangemoedig om met vrymoedigheid in God se teenwoordigheid te leef (Hebr 10:19-22). Hy het hulle aangespoor tot liefde en goeie dade terwyl hulle met volharding God se wil soek en doen (Hebr 10:23-25, 35-36). Nou wil hy hulle in hoofstuk 11 verder inspireer deur ’n wye reeks van voorbeelde van geloofsvolharding, sodat hy dit as deel van sy appèl kan gebruik dat hulle die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding kan hardloop (Hebr 12:1-3). “Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is.” (Hebr 11:2; vgl ook vers 39). Die definisie van geloof waarmee die skrywer begin, eintlik die enigste definisie van sy soort in die NT, is in die lig van hoofstuk 10 se boodskap nie ’n abstrakte teoretiese beskrywing van geloof nie. Dit beskryf heel konkreet die ingesteldheid, die aktiewe geloof en vertroue, waarmee hierdie wedloop wat vir die geloofsgemeenskap voorlê, gehardloop word. In ’n sekere sin is hierdie geloof ’n ander manier om die vrymoedigheid te beskryf waarmee hulle teenoor God en teenoor mense kan optree, soos in die vorige hoofstuk beskryf is. Dit beteken hierdie tipe geloof is die vertroue op God se beloftes as ’n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag word. Hierdie geloof reken die beloftes van God as ’n realiteit, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie. Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker. Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die rede hoekom ’n mens dít van God se beloftes kan glo, word dan eerstens deur die skrywer begrond in twee getuienisse uit die verlede: 1) die verhale van die geloofsgetuies (Hebr 11:2) en 2) die skepping van die wêreld deur die woord van God – ex nihilo – uit niks uit nie (Hebr 11:3). Hierdie verhale uit die verlede gee aan geloof sy toekomsgerigte karakter. Soos God Homself in die verlede bewys het in die geloofsgemeenskap sowel as in die skepping, só kan Hy vertrou word om ook in die toekoms op te tree en sy beloftes waar te maak. Hy gebruik drie verhale uit die oertyd as geloofsvoorbeelde: Abel (Gen 4), Henog (Gen 5) en Noag (Gen 6-9). Hoekom Abel ’n beter offer as Kain aan God gebring word, word nie uitgespel nie, behalwe die feit dat God oor sy gawes getuienis gelewer het deur Hom as regverdig te verklaar. Jesus het ook van Abel se vroomheid en onskuld gepraat (Matt 23:35). Die skrywer sluit aan by wat van Henog in die OT gesê word dat hy “naby God” geleef het (Gen 5:22) en beskryf hom as iemand wat deur geloof “God behaag het”. Om die waarheid te sê, sê die skrywer, “deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie”. Hy was dus in terme van Hebreërs se uitleg van geloof in vers 1, só seker van God se beloftes dat hy die werklikheid in hierdie lewe kon belewe! Judas, die broer van Jesus, noem Henog ook ’n profeet wat oor die toekoms wat God bring, getuig het (Judas 14). Waar in Abel en Henog se geval hulle verhouding met God in die kollig was, getuig Noag se voorbeeld van die feit dat hy God se woord nie net gehoor het nie, maar daaraan gehoorsaam was: “oor dit wat nog glad nie gesien is nie!” Hy het daarom die ark gebou wat die redding van sy huis beteken het en “’n erfgenaam geword van die regverdiging (of vryspraak) volgens geloof”. Die keersy daarvan was dat dit die wêreld van daardie tyd vir hulle gebrek aan geloof en vertroue op God veroordeel het.

Die Hebreërskrywer vervolg met vyf verhale uit die aartsvadertyd: Abraham en Sara (Gen 12-25), Isak (Gen 21-27), Jakob (Gen 25-49), en Josef (Gen 37-50). Hy dek dus die hele Genesis! Dieselfde tema van geloofsgehoorsaamheid en -vertroue wat met Noag aan die orde gestel is, word nou in die verhale van hierdie aartsvaders en –moeders nagevolg. Ons fokus egter vandag net op Abraham en Sara. Abraham se geloofsgehoorsaamheid toe hy geroep is om te trek na ’n plek wat hy as erflating sou ontvang, en sy verblyf as bywoner in dié land, word geprys. ’n Bietjie meer inligting word gegee oor sy motivering: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.” Daarmee word sy roeping verbind nie net aan die fisiese land waarheen hy getrek het nie, maar aan die toekomstige Jerusalem wat God as deel van sy koninkryk sal oprig. Dit gee waarskynlik ook meer detail oor die “sabbatsrus” wat vir die volk van God aan die einde van die tyd voorlê, soos die skrywer in Hebreërs 5:9 in die vooruitsig gestel het. Sara se geloofsvertroue op God: “aangesien sy Hom wat dit belowe het, getrou geag het,” word geprys. Die gevolg daarvan was ’n nageslag “in getal so veel soos die sterre van die hemel en soos die ontelbare sandkorrels op die strand by die see”. Sy het deur geloof as’t ware lewe gegee aan Abraham “wat so te sê dood was”! Die skrywer onderbreek sy vertelling om ’n gevolgtrekking te maak, gebore uit die feit dat elkeen van dié geloofsgetuies gesterf het, sonder dat hulle die volle werklikheid van die beloftes ontvang het. “Maar hulle het dit van ver afgesien en verwelkom, en bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde is.” Die beloftes het dus ’n hunkering in hulle wakker gemaak na ’n beter bedeling, ’n hemelse een. Die land en nageslag van Israel kon nie vir Abraham of Sara volle genoegdoening gee nie. Net God en die stad wat Hy vir hulle voorberei, kon dit doen. Om daardie rede is God nie skaam om hulle God genoem te word nie en hulle in te nooi in die stad wat Hy vir hulle voorberei.

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-11-sonder-geloof-is-dit-onmoontlik-om-god-te-behaag/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar