Psalm 128 – Elkeen wat vir die Here ontsag het, sal die vrug van sy hande beslis geniet
Psalm 128 – Elkeen wat vir die Here ontsag het, sal die vrug van sy hande beslis geniet
1‘n Pelgrimslied. Gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg! 2Die vrug van jou hande sal jy beslis geniet. Gelukkig is jy! Dit gaan goed met jou. 3Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok in die binnekamers van jou huis. Jou kinders is soos olyfboompies om jou tafel. 4Kyk, so sal die man geseën word wat vir die Here ontsag het. 5Mag die Here jou seën uit Sion, sodat jy al die dae van jou lewe die goeie van Jerusalem sal geniet, 6en mag jy jou kinders se kinders sien. Vrede oor Israel!
Hierdie Psalm brei uit oor die geluk wat daar lê in ontsag vir en gehoorsaamheid aan die Here. Dit is dié pelgrims: “wat sy paaie volg”, wat waarlik gelukkig is. Die seën hiervan word ervaar in die vrug van jou handewerk, sowel as in die vrug van jou huis. Aan die een kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle handewerk sal geniet. Jy sal nie net gelukkig wees nie, maar dit sal goed gaan met jou in die konteks van jou werk en lewensroeping. Dit is die eerste belofte. Aan die ander kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle huis sal geniet. Hulle sal nie net gelukkig wees in hulle intimiteit in die “binnekamers” van die huis nie – soos dit letterlik hier staan – maar ook die vrug van ‘n kroos van kinders geniet wat die vreugde aan tafel sal vergroot. Dit is die tweede belofte. Die Hebreeuse woord benîm wat hier vir kinders gebruik word, word meer geredelik vir seuns in die OT aangewend, behalwe waar die konteks vereis dat dit op kinders dui, soos dit hier en op ‘n paar ander plekke in die OT die geval is (vgl Gen 3:16; 21:7 Eks.21:5; 22:23). Die pragtige metafoor van die vrugbare wingerdstok word gebruik vir die huweliksverhouding en die metafoor van die olyfboompies vir die kinders om die tafel. Dít is die seën wat die Here gee vir mense wat vir Hom ontsag het en sy paaie volg.
Hieraan voeg die Psalmis vir die pelgrims die belofte by dat die Here hulle geestelik, polities en sosiaal sal seën. Die seën uit Sion word geestelik-godsdienstig bedoel. Die seën vir Jerusalem word polities-maatskaplik bedoel. Die seën van die voorreg om jou kinders se kinders te sien, word sosiaal-familiaal bedoel. Dit bly immers een van die grootste voorregte wat daar is om ‘n oupa of ouma te word! Die laaste belofte: “Vrede oor Israel!” sê iets van die wyse waarop al drie hierdie laaste dimensies aan mekaar verbind is. Waar Sion sy rol vervul, Jerusalem veilig is, en die pelgrims in hulle familielewe gelukkig is, dáár kan die hele Israel heelheid en oorvloed geniet. VREDE! Inderdaad.
Daar is ander Psalms wat die donker en uitdagende kante van die lewe belig. Maar hierdie Psalm besing slegs die vreugdevolle kant van gehoorsaamheid en geluk. Geniet dus vandag die belofte en verwagting wat dit in jou lewe skep.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-128-hoe-gelukkig-is-elkeen-wat-vir-die-here-ontsag-het-wat-sy-paaie-volg/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar