1 Petrus 4:1-11 – Die liefde bedek ‘n menigte sondes
1 Petrus 4:1-11 – Die liefde bedek ‘n menigte sondes
1Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. 2Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. 3Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. 4Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – 5hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. 6Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef. 7Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. 8Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde ‘n menigte sondes bedek”. 9Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. 10As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: 11As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. Amen.
In die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy op die interne en eksterne uitdagings wat geloofsgemeenskappe sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle egter dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê. Hy fokus daarom in die volgende twee hoofstukke op dié sake wat hulle staande kan hou en laat volhard. Die eerste is om hulle in alles te laat lei deur die wil van God – vers 1-6. Die Here het immers ons gewete skoon gewas en ons die versekering gegee het dat ons verhouding met Hom vasstaan op grond van die opstanding van die Here Jesus Christus. Daarom kan Hy van ons verwag om nie langer in die “stroom losbandigheid” te leef soos die wêreld nie, maar ons te laat lei “deur die wil van God”. Die wil van God word hier gebruik in die sin van iets wat God deur my lewe tot stand wil bring. Dít is waarvoor ons onsself moet gee. Dit goeie werke wat Hy deur ons wil doen. Dít is ook die eerste ding wat ons staande sal hou in ons geloofstryd in hierdie wêreld. Dat dít die wêreld sal verstom en hulle die geloofsgemeenskap sal laat belaster, mag die gelowiges nie afskrik nie. God sal immers van almal rekenskap eis. Die gelowiges kan reeds in dié lewe aan Hom rekenskap gee. Die ongelowiges sal dit hierná moet doen, en dit sal tot hulle skade wees. Die “hulle” in vers 6 dui op: “die geeste van gestorwe gelowiges” wat in die dood die goeie nuus van verlossing ontvang het, en daarom deel sal hê aan die ewige lewe (vgl Hebr 11:39-40).
Die tweede aspek van hulle standvastigheid het te make met die wyse waarop hulle mekaar bedien met die genadegawes wat God hulle gee: “As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God moet julle mekaar bedien in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het.” Dit sluit in dat hulle selfbeheersd en nugter lewe, en veral baie tyd aan gebed spandeer. Dit sluit in dat hulle gasvry teenoor mekaar sal wees, “sonder om te mor”. Dit sluit in dat as iemand die gawe gebruik van woorde, hulle dit sal ontvang: “soos woorde van God.” Dit sluit in dat as iemand dien, hulle dit sal doen: “vanuit die krag wat God voorsien.”
“Bo alles moet julle mekaar innig liefhê.” Hoekom? Want die belofte is dat die liefde ‘n menigte sondes sal bedek, sê Petrus. Daarmee verwys Petrus waarskynlik na beide die wysheidstradisie se waarneming oor die verskil tussen liefde en haat: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee” (Spr 10:12 – NET Bible interpreteer vergifnis as ‘n daad van liefde: “Love acts like forgiveness. Hatred looks for and exaggerates faults; but love seeks ways to make sins disappear.”), sowel as na Jesus se lering oor vergifnis. Dit is immers Petrus wat die vraag aan Jesus gevra het oor hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom gedoen het: “Selfs sewe keer?” Jesus se antwoord: “maar selfs sewentig maal sewe keer,” het vergifnis eintlik onverhandelbaar deel van die etos van die koninkryk gemaak (Matt 18:21-35). Vergifnis IS liefde. Dit herstel verhoudings.
Lees meer (preek): https://bybelskool.com/1-petrus-4-bo-alles-moet-julle-mekaar-innig-liefhe/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar