Skip to main content

Spreuke 10:27-32 – Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is

5 Augustus

Ons beweeg nou van die inleiding van die boek Spreuke (hoofstuk 1-9) na die hart van die boek (hoofstuk 10-31). Hier is 562 spreuke, gesegdes, en wyshede opgeteken waarmee ’n wyse lewe versier kan word. Dit is in 6 bundels saamgevoeg wat onderskeidelik met Salomo (2 bundels met onderskeidelik ongeveer 375 en 137 spreuke elk – hfst 10:1-22:16; 25:1-29:27), die Wyses (2 bundels met onderskeidelik 30 en 5 spreuke elk – hfst 22:17-24:22; 24:23-34), Agur (12 spreuke, saam met ’n paar vrae en ’n gebed – hfst 30:1-22) en Lemuel (3 uitgebreide spreuke – hfst 31:1-31) verbind word. Ek fokus op die vernaamste beloftes daarin in die volgende paar weke (op Vrydae).

Spreuke 10:27-32 – Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is

27Ontsag vir die Here verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. 28Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. 29Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 30‘n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. 31Die mond van ‘n regverdige bring wysheid voort, maar ‘n verworde tong word afgesny. 32Die lippe van ‘n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.

Ek selekteer drie spreuke uit hoofstuk 10 met veral vers 29 wat ‘n besondere belofte bevat.

  • Spreuke 10:27-28 kontrasteer die lewensvooruitsigte van dié wat die Here vrees en dié wat Hom verag. Die regverdige kan met vreugde uitsien na die belofte van God se sorg in ’n lang lewe. Die goddelose het egter geen hoop buite homself wat enigsins standhoudend is.
  • Spreuke 10:29-30 kontrasteer steeds die regverdige en die goddelose. Vers 29 dui die belofte aan die regverdige letterlik so aan: “Die weg van die Here is ’n toevlug vir regdoeners, maar ondergang vir boosdoeners.” Vers 30 onderstreep die belofte van ‘n toevlug met die belofte dat die regverdige vir ewig onwankelbaar sal leef (dit is wat die vertaling “nooit” beteken). Die goddelose sal dit egter nie eers hier op aarde enduit maak nie.
  • Spreuke 10:31-32 kontrasteer die woorde van die regverdige en dié van die goddeloses. Die regverdige se woorde is wys en aanvaarbaar. Die goddeloses se woorde is pervers en verdraai die waarheid. “Die valse tong word uitgeroei” (vers 31 – 1933/53-vertaling), bedoelende, hulle valsheid sal vernietig word.

’n Mens kan dink dat om opreg en regverdig te lewe ’n geweldige inspanning is, en daar is uit die aard van die saak baie op die spel om dié keuse te maak, en dit kan baie van jou vra. Maar dit is altyd die moeite werd. Deur die regte dinge te doen, ontsluit jy ’n geweldige krag in jou lewe wat jou nie net aan God verbind nie, maar ook op ’n besonder manier in staat stel om die uitdagings van die lewe te kan hanteer. Die Here self verleng ons lewensdae. Ons kan vreugde in sy teenwoordigheid verwag. Ons sal sy “weg” as ‘n toevlug beleef. Ons sal in Hom nooit wankel nie. Ons sal ervaar dat Hy wysheid in ons bewerk, omdat Hy ons leer wat aanvaarbaar is en wat nie.

In kontras daarmee is die goddelose uitgelewer aan hulle eie vermoëns. Hulle jare word kortgeknip – dit eindig met die dood. Hulle hoop vergaan – want, dit is net vir hierdie lewe. Die weg van die Here bring ondergang vir boosdoeners – want, dit is net dié wat onberispelik lewe wat dit enduit op daardie weg kan maak (in die Nuwe Testament is Jesus natuurlik die geregtigheid wat hiervoor nodig is vir almal wat in Hom glo – 1 Kor 1:30). Goddelose sal dus die land nie bewoon nie – soos dit telkens in die geskiedenis bewys is dat volke “uitgespoeg” is weens hulle vergrype aan God, mense en die aarde (vgl Levitikus 18:24-30 waar die Here spesifiek na ‘n reeks van 16 seksuele oortredings verwys wat hierdie toorn oor volke in werking bring). Selfs hulle verworde en verdraaide woorde word deur God uitgewis.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-101-32-god-sorg-vir-die-opregtes/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.