Psalm 50 – Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer
Psalm 50 – Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer
1‘n Psalm. Van Asaf. Die God van die gode, die Here, het gepraat en die aarde opgeroep – van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. 2Vanuit Sion, plek van volmaakte skoonheid, laat God sy lig straal. 3Ons God kom en Hy gaan nie stilbly nie; voor Hom brand ‘n verterende vuur, rondom Hom woed ‘n geweldige storm. 4Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: 5“Maak my getroue volgelinge vir my bymekaar, hulle wat by die offers my verbond hernu.” 6Die hemel maak sy geregtigheid bekend, want God, Hy is regter. Sela
7“Luister tog, my volk, Ek wil my saak stel, Israel, Ek wil teen jou getuig: God, jou God, is Ek. 8Dit is nie oor jou offers wat Ek jou wil teregwys nie; jou brandoffers is altyd voor My. 9Ek sal nie uit jou stal ‘n bul vat, bokramme uit jou krale nie, 10want aan My behoort al die wild in die bos, die diere op ‘n duisend berge. 11Ek ken al die voëls op die berge en die insekte van die veld is aan My bekend. 12As Ek honger word, sal Ek jou nie sê nie, want die wêreld en die volheid daarvan is myne. 13Eet Ek die vleis van bulle, en die bloed van bokramme, drink Ek dit? 14Offer dank aan God, betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. 15Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.”
16Maar vir die goddelose sê God: “Watter reg het jy om my voorskrifte op te sê en my verbond op jou lippe te neem? 17Jy is die een wat vermaning haat, en my woorde verwerp. 18As jy ‘n dief sien, raak jy met hom bevriend, en met egbrekers hou jy jou op. 19Jy gee jou mond vrye teuels vir boosheid, en jy span jou tong in vir bedrog. 20Jy sit en konkel teen jou broer, jou moeder se seun beswadder jy. 21Hierdie dinge het jy gedoen, maar Ek het stilgebly. Jy het gedink Ek is net soos jy! Ek gaan jou teregwys en vir jou die saak duidelik uiteensit. 22Verstaan dit tog, julle wat God vergeet, anders verskeur Ek, en daar is niemand wat kan red nie. 23Wie dankoffers bring, eer My en wie ‘n weg baan – Ek sal hom God se verlossing laat ervaar.”
Psalm 50 is die eerste van die Psalms van Asaf, een van die hoof sangleiers van ’n Levitiese sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron 6:39). Daar is 12 Psalms van Asaf, hierdie een en die reeks van Ps 73-83 wat die 3de Psalmboek inlui. Soos in Jesaja 1 is Psalm 50 ook in die vorm van ‘n regsgeding, hierdie keer net in ‘n liturgiese formaat. Asaf se liturgie beslaan drie dele:
- God as Regter van alles wat bestaan, maak sy getroue volgelinge bymekaar– vers 1-6. Hy begrond sy reg om te oordeel in sy status as die God van die gode en van alles wat bestaan. Hy roep die hemel en die aarde as getuies van sy reg om te oordeel. Trouens, om Hom by te staan in sy besluit om diegene wat tydens hulle godsdiensbeoefening (offers) die verhouding met Hom vernuwe (verbond) te red van sy oordeel.
- God as Almagtige maak Homself bekend aan gehoorsames as die Een wat red in nood – vers 7-15. God spreek die volk aan daaroor dat dit vir Hom lyk asof hulle dink Hy is tevrede net met offers, trouens dat hulle dink dat Hy dit op ‘n manier nodig het. Dit is ver van die waarheid af. Alles is in elk geval syne, en Hy baat niks by hulle offers nie. Hy wil eerder hê dat hulle vir Hom dankie sê en hulle geloftes betaal. Dws, dat hulle in dankbaarheid en gehoorsaamheid sal lewe. Dan sal Hy inderdaad Homself bewys as die Een wat hulle kan aanroep in nood; Hy sal red. Dit is sy belofte. Hy is immers ook die Almagtige. Terloops, Paulus gebruik gedagtes uit hierdie deel van die Psalm in sy begronding van sy Godsbeeld in die preek op die Areopagus in Atene (Hand 17:25). Net so in sy voorskrif aan die Korintiese gelowiges om nie ander te veroordeel oor hulle eetgewoontes nie, want alles – ook die kos wat ons eet – behoort aan God en kan met dankbaarheid en erkenning aan God geniet word (1 Kor 10:26).
- God as God – Hy is nie soos ons nie! – maak Homself bekend aan goddeloses as die Een wat verskeur – vers 16-23. Hierdie goddeloses is nie dié wat in die wêreld sonder God leef nie, maar kom binne die gemeenskap van gelowiges voor! Dit bly darem maar ontstellend! Let op dat hulle met die mond die Here dien (Ps 50:16), maar in gedrag sonder Hom optree en teen sy uitgesproke wil (Ps 50:17-20). Veral die oortredings van die tweede tafel van die wet kom onder skoot, die 7de tot 9de gebod: egbreuk, diefstal, leuens. God (en die liturg by implikasie) kan nie daaroor stil bly nie: “Jy het gedink Ek is net soos jy!” (Ps 50:21). Daarom moet die goddelose gelowige (as ‘n mens dit só kan noem) tot inkeer kom en luister, anders sal hulle duur betaal omdat hulle nie met God se oordeel rekening hou nie (Ps 50:22). Dit is die mens wat in dankbaarheid leef, wat God eer, en vir God ruimte maak in sy lewe (“‘n weg baan of bepaal”) wat God se verlossing sal ervaar (Ps 50:23).
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-50-loof-god-deur-hom-in-alles-te-erken-en-vereer/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar