Skip to main content

1 Petrus 5 – Die God van alle genade sal julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig

14 Augustus

Die RCL teks vir vandag is Lukas 12:49-56. Ek gee ‘n uittreksel uit Prontuit die Waarheid as jy ‘n bydrae daaroor wil lees: https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/06/Lukas12_49-56.docx. Die belofte vir vandag kom egter uit 1 Petrus 5.

1 Petrus 5 – Die God van alle genade sal julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig

1Ek doen dan nou ‘n ernstige beroep op die ouderlinge onder julle, ek, julle mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus, en julle deelgenoot in die heerlikheid wat geopenbaar sal word: 2Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; 3nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. 4En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie. 5Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” 6Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, 7deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle. 8Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ‘n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. 9Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. 10Maar al moes julle vir ‘n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. 11Aan Hom die krag tot in ewigheid. Amen. 12Ek het deur Silvanus, na my oordeel ‘n getroue broer, kortliks aan julle geskryf om julle te bemoedig, en julle nadruklik te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan vas daarin! 13Julle mede-uitverkorene in Babilon, en Markus, my seun, groet julle. 14Groet mekaar met ‘n soen van liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!

Petrus rond sy brief af deur te fokus op twee aspekte van hulle gemeentelike lewe wat hulle standvastigheid in die geloofstryd in die wêreld sal gee. Die eerste het te make met die leierskap in die gemeente en die absolute belang van vrywillige, geesdriftige versorging wat gewortel is in die voorbeeld wat hulle stel. Die tweede het te make met die navolging van die leiers se toesig en voorbeeld, terwyl almal saam op die kragtige hand van God sal vertrou. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om.” Dit is sy belofte!

Petrus doen ‘n ernstige beroep op die ouderlinge as leiers van die gemeente om toesig te hou oor hulle, en as voorbeeld vir hulle te leef. En hulle moet dit doen op vrywillige en geesdriftige wyse, nie op ‘n baasspelerige manier óf deur wins daaruit te maak nie. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Hy motiveer hulle op twee maniere vir hierdie belangrike taak. Aan die een kant verwys hy na homself as ‘n voorbeeld vir hulle – as mede-ouderling, getuie, en deelgenoot. Aan die ander kant verwys hy na die beloning wat die Here, die “Groot Herder”, vir elke getroue ouderling sal gee, die erekrans van heerlikheid wat nooit sal verwelk nie.

Die keersy van hierdie versorging is natuurlik dat die leierskap se toesig en voorbeeld aanvaar en nagevolg sal word, veral deur die jongeres in die geloofsgemeenskap. Nederigheid moet die onderlinge gemeenskap kenmerk. Petrus roep hulle almal op om al hulle bekommernis op God te werp en die vertroue dat sy kragtige hand aan die werk sal kom in hulle lewens. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om!” Wat ‘n voorreg. Dit is des te meer noodsaaklik, omdat die uitdagings van hierdie lewe ‘n geestelike basis het: “Julle teenstander, die duiwel, loop rond ‘soos ‘n brullende leeu’ op soek na wie hy kan verslind.” Daarom moet die gelowiges waaksaam en nugter wees om hom te kan teenstaan en standvastig in die geloof te bly. Dit is trouens die lot van alle gelowiges regdeur die wêreld.

Hulle kan egter staatmaak op God se werk, self al sluit dit lyding in, om hulle te herstel, bemagtig, versterk en stewig te vestig. Hy het die krag om dit te doen en sal die roeping van Jesus Christus in hulle lewens waarmaak. Petrus gebruik hier vier woorde om Christus se werk in jou uit te druk.

  1. Jesus sal jou “herstel” (katartizō). Hy sal jou bekwaam maak, oprig, afrond, bemagtig om standvastig te wees in die geloof. Dit is ‘n woord wat vakmanne gebruik het. Dit beteken om ‘n breuk te herstel. In Markus 1:19 word die Griekse woord bv gebruik vir die “herstel” van visnette. Om jou “op te rig”, om jou “te herstel”, beteken dus, om te voorsien in dit wat jy kortkom, om heel te maak wat by jou gebreek is. Dit is hoe God jou sal oprig as jy jou verneder voor Hom.
  2. Jesus sal jou “bemagtig” (sterizo). Dit is om jou “stewig te maak”, “so vas of solied soos graniet te maak.” Ons weet mos dat lyding twee dinge aan ‘n mens kan doen. Dit kan jou inmekaar laat stort. Óf dit kan versterk soos niks anders dit kan doen nie – soos staal wat deur vuur gelouter is. Laasgenoemde is wat die Here deur die lyding in jou sal regkry. Hy sal jou so sterk soos staal maak. So solied soos graniet.
  3. Jesus sal jou ook “versterk” (sthenoo). Dit beteken letterlik “om vol krag te maak”. Hier is die gedagte dat ‘n lewe sonder die Gees jou kragteloos sal maak. God werk van binne af om jou weerbaar en paraat te maak om met moed en durf op te tree in die stryd vir die geloof in hierdie wêreld.
  4. Jesus sal jou “stewig vestig” (themeliosei). Hy sal jou standvastig maak, jou “’n vaste fondament gee”. Pyn en lyding kan ‘n mens stukkend slaan. Petrus belowe dat die Here Jesus sal sorg dat jy nie stukkend geslaan word nie, maar soos ‘n huis op die rots sal volhard.

Petrus sluit sy brief af met ‘n verwysing na Silvanus wat hom met die skryf van die brief gehelp het, sowel as na Markus wat saam met hom sy groete aan die vreemdelinge in die noorde en weste van Turkye stuur. Hy spel ook die doel van sy brief uit, dat hy hulle wou bemoedig en hulle nadruklik wou verseker: “dat hierdie dinge die ware genade van God is.” Groot woorde. “Staan dan vas daarin!

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/staan-sterk-in-die-geloof-1-petrus-55-11/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.