Spreuke 11:27-31 – Die vrug van ‘n regverdige is ‘n boom van lewe
Spreuke 11:27-31 – Die vrug van ‘n regverdige is ‘n boom van lewe
27Wie die goeie voor oë het, soek aanvaarding, maar wie kwaad nastreef – dit haal hom in. 28Wie op sy rykdom vertrou, val self, maar soos groen blare spruit regverdiges uit. 29Wie rampspoed oor sy huis bring, erf wind, en ‘n sot word die slaaf van ‘n verstandige mens. 30Die vrug van ‘n regverdige is ‘n boom van lewe, maar geweld neem lewens weg. 31As ‘n regverdige op aarde vergeld word, hoeveel te meer ‘n goddelose en ‘n sondaar!
Vers 27 verwoord die waarheid dat wat jy soek, jou vind. Jy verander in die rigting wat jy jou lewe rig. Dié wat die goeie met hulle volle aandag soek, vind die guns van mense en God. Dié wat die kwade soek, sal vind dat die kwade maar alte gewillig is om gevind te word. Trouens, die kwaad sal die kwaadwilliges inhaal. Soos Kidner sê: “What you seek for others, you will get yourself.”
Vers 28 kontrasteer vertroue op rykdom met vertroue op God. Dié wat op rykdom vertrou, kom tot ’n val. Dié wat op God vertrou – die regverdiges – floreer soos groen blare aan ’n boom.
Vers 29-31 waarsku jou om nie jou familie te verwaarloos of die lewe vir hulle moeilik te maak nie. Dit sal hulle van jou vervreem en jou verhouding met hulle verbreek. Trouens, sulke dwaasheid kan jou alles laat verloor, selfs jou vryheid. Die vrug van ‘n regverdige se lewe is egter soos ‘n boom wat lewe gee. Dit laat ander ook wysheid begeer. ‘n Gewelddadige lewe daarteenoor vernietig mense (soos die tweede deel van vers 30 ook vertaal kan word). Maar, moenie wanhoop dat goddeloosheid en sonde nie gestraf sal word nie. Selfs die regverdige kry hier op aarde wat hom toekom. “If good people barely make it, what’s in store for the bad!” (The Message)
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-111-31-die-gemeenskap-floreer-met-die-regte-waardes-en-lewenstyl/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar