Skip to main content

Psalm 71:1-8 – God se betroubaarheid bring sekerheid en vertroue

24 Januarie

Psalm 71:1-8 – God se betroubaarheid bring sekerheid en vertroue

1By U, Here, skuil ek; laat my nie vir altyd beskaamd staan nie. 2Red my en bevry my deur u geregtigheid; draai u oor na my en verlos my. 3Wees vir my ‘n rots, ‘n skuiling waarheen ek altyd kan gaan, wat U beskik vir my verlossing. Ja, U is my rotsvesting en my bergskuiling. 4My God, bevry my uit die hand van goddeloses, uit die greep van hulle wat onreg doen en verdruk. 5Want U is my hoop, my Heer; Here, van my jeug af stel ek my vertroue in U. 6Op U steun ek van die moederskoot af; uit die ingewande van my moeder het U my losgeknip. U alleen loof ek deurentyd. 7Vir baie was ek ‘n slegte teken, maar U was my sterk vesting. 8My mond is vol lof vir U, die hele dag lank vol van u heerlikheid.

Die Psalmis kon God se betroubaarheid oor ’n baie lang tyd ervaar. Dit het ’n sekerheid en vertroue gebring wat nie so maklik deur die negatiewe ervaringe van die lewe beïnvloed kon word nie. In enige geloofsgemeenskap moet dié ervarings, wat die toets van die tyd deurstaan het, gekoester word, ter wille van die behoud van só ’n gemeenskap. Ek onthou nog goed die soortgelyke getuienis van tannie Phoebe Kellerman, amper vyftig jaar my senior, uit my jong dae as predikant in Somerstrand … en die rustigheid wat dit by my ingeboesem het.

Drie van die sentrale metafore wat die Psalmis gebruik om dié Godsbeeld mee uit te druk, is dié van ’n rots (vers 3) ’n vesting (vers 3) en ’n veilige toevlug (vers 7) wat verband hou met die gebruik in antieke tye om asiel te soek in ’n heiligdom (Eks 21:13). God is as’t ware die veilige ruimte waar van die aanslae van die lewe geskuil kan word. Dit is dan ook die beloftes wat ons vir onsself kan toeëien in hierdie teks. In die vorm van drie gebede wat jy vandag kan bid, soos dit uit die drie dele van die Psalm na vore kom:

  • Wees vir my ’n rots om na toe te vlug, soos altyd in die verlede – vers 2-8. Die Psalmis kan dit vra, want die Here is sy vertroue van jongs af (vers 5). Trouens hy is vir ander ’n wonder (vers 7). God se sorg aan hom funksioneer as ’n teken van God se ingrype. Hy is daarom as sodanig self ’n wonder, ’n teken van God self. Vra dat dit ook van jou waar word.
  • Moet my tog nie in die hede verwerp nou dat ek oud geword het nie – vers 9-16. Die Psalmis baseer sy gebed vir hulp op die feit dat God hom nog nooit in die steek gelaat het nie. Veral sy tanende kragte en ouerwordende gestalte moet tog nie in die pad staan van God se hulp nie, veral nie omdat dit nou deur sy vyande misbruik word om hom te na te kom en komplotte teen hom te sweer. Sy gebed is dat dié wat sy ondergang soek, eerder in die skande en mislukking kom. Sonder ophou sal hy dan van God se reddingsdade bly praat en as ’n teken van God se teenwoordigheid op aarde bly funksioneer. Vra dat God dit ook vir jou doen.
  • Moet my tog nie alleen laat nie, ter wille van die geslagte wat kom in die toekoms – vers 17-24. Die Psalmis herhaal sy gebed dat sy oudheid en grysheid nie teen hom sal tel nie, maar gee hier ’n ander motivering daarvoor. Dít is, dat die geslagte wat nog kom, sy kleinkinders bv, selfs dié wat nog gebore moet word, ’n lewende getuie van God se verlossingswerk in sy lewe sal kan sien en saam met hom kan sê: “Wie is soos U, o God?” (vers 19).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-71-moet-my-tog-nie-verwerp-nou-dat-ek-oud-geword-het-nie/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar