Psalm 4 – Die Here behandel sy getroue volgelinge uitsonderlik
Die RCL gee Psalm 71:1-8 weer aan vir vandag. Ek het dit egter al gebruik. Jy kan dit hier lees: https://bybelskool.com/psalm-711-8-god-se-betroubaarheid-bring-sekerheid-en-vertroue/
Ek kies daarom Psalm 4 vir vandag in die plek daarvan. Ek gaan daarby Psalm 3 kies vir môre, want sommige geleerdes dink dat die omstandighede van hierdie twee Psalms dieselfde is. Albei is geskryf / gebid teen die agtergrond van die tragiese verhaal van Dawid se vlug voor sy geliefde seun Absalom: “Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het…” (Ps 3:1). Dawid sou dan moontlik met Psalm 4 kon terugdink aan die aand na sy vlug uit Jerusalem (vgl Ps 4:9 – “in vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak…”) en met Psalm 3 toe hy die volgende oggend wakker geword het (vgl 3:6 – “Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word…”). Ons lees dit dan in omgekeerde volgorde soos Dawid dit moontlik geskryf het.
Psalm 4 – Die Here behandel sy getroue volgelinge uitsonderlik
1Vir die musiekleier. Met snarespel. ‘n Psalm. Van Dawid. 2God wat my reg handhaaf, antwoord my wanneer ek roep. Toe ek in die noute was, het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed. 3Mense, hoe lank nog gaan julle my eer skend? Julle het nietigheid lief, julle jaag leuens na. Sela 4Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep. 5Sidder, moenie sondig nie; dink na op julle beddens en wees stil. Sela 6Bring offers van geregtigheid en vertrou op die Here. 7Baie mense sê: “Wie sal ons weer die goeie laat beleef?” Laat die lig van u teenwoordigheid oor ons skyn, Here! 8U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en nuwe wyn volop is. 9In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon.
Dit is fassinerend om ‘n kykie in hierdie Godsman se gebedslewe te kry. Spesifiek in ‘n tyd waarin hy nie net in gevaar is nie, maar die trauma van die opstand van sy seun moet hanteer. Dawid stel in hierdie uitdagende tyd steeds sy geloof en vertroue in God alleen. Selfs al is daar baie teenstand van mense naby aan hom, boonop ook ander mense wat sy geloof en vertroue in God bespotlik wil maak. Dawid is oortuig dat die Here steeds wonders doen vir dié wat Hom daarvoor vertrou. Hy is oortuig dat die belofte waar is, dat God sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel.
Vers 5 is ’n wonderlike lewenswysheid wat Dawid neerpen – midde in sy gebed – wat ons leer dat ’n mens nie self negatief op ongelowige perspektiewe moet reageer nie, en op die Here alleen moet vertrou: “Sidder (dws raak maar ontsteld, maar), moenie sondig nie; dink na op julle beddens en wees stil.“ Dat hy hierdie gebed kon bid terwyl hy self ontsteld moes wees… laat ‘n mens besef dat hy regtig die beloftes van die Here vir homself toegeëien het.
Daarby moet ons steeds die regte dinge doen, die normale dinge wat God van ons vra, terwyl ons Hom bly vertrou. Ons kan nie afwyk van sy pad net omdat ander sy wil vertrap onder hulle voete nie. Dan kan ons met oorgawe fokus op wat God gee en bring dit ook rus in ons gemoed – soos Dawid sê – wat ons rustig laat slaap en veilig laat woon. En dink net – as Dawid inderdaad dié gebed bid terwyl hy besig is om te vlug van Absalom – met hoeveel meer oortuiging jy in jou eie krisisse op hierdie beloftegewende God kan staatmaak.
Leer meer: https://bybelskool.com/psalm-3-4-god-bring-rus-en-vrede-as-ons-hom-vra/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar