Psalm 3 – Die Here hou my kop hoog
Psalm 3 – Die Here hou my kop hoog
1‘n Psalm. Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. 2Here, hoe het my teenstanders vermeerder! Baie staan teen my op. 3Baie sê van my: “Daar is geen redding vir hom by God nie.” 4Maar U, Here, is vir my ‘n skild aan alle kante; U is my eer, en die Een wat my kop hoog hou. 5Wanneer ek hard roep na die Here, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die Here onderskraag my. 7Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my teen my stelling inneem nie. 8Staan op, Here, verlos my, my God, want U het al my vyande op die wang geslaan; die tande van die goddeloses het U gebreek. 9By die Here is daar redding; op u volk rus u seën. Sela
Ek dink ’n belangrike perspektief vir hierdie Psalm, is dat ’n mens dié Psalm kan bid, selfs al is jy medeverantwoordelik vir die negatiewe dinge wat in jou lewe gebeur. Die Here luister na dié wat in Hom glo en sy teenwoordigheid opsoek, ongeag met watter geskiedenis hulle by Hom opdaag! Jy kan meer oor die hele ongelukkige geskiedenis tussen Dawid en Absalom in 2 Samuel 13 lees.
Let op hoe Dawid vasgryp aan God nie net ten spyte van die verlede nie – sy gebrek aan optrede as ouer nie net teenoor Absalom nie, maar ook teenoor Tamar, wat onder andere Absalom op die verkeerde pad geplaas het – maar ook ten spyte van die opstand van sy ander teëstanders wat sê dat God nie na hom sal luister nie. Dit verg moed en geloofsvertroue!
Hierdie tipe gebed bring God in beweging, wat nie net vir hom gemoedsrus gee sodat hy kan slaap nie, maar ook uiteindelik sy omstandighede verander, hoewel dit steeds nie ’n maklike pad was vir hom nie. Let op hoe sy gebed en die verhoring daarvan uitmond in getuienis wat ook ander mense – dit is nou jy en ek – inspireer om hulp by die Here te soek. Die Here is regtig die Een wat ons koppe hoog hou as ons resloos ons toevlug tot Hom neem.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-3-4-god-bring-rus-en-vrede-as-ons-hom-vra/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar