Psalm 119:33-40 – God se onderrig in sy voorskrifte sal jou enduit daarby kan hou
Psalm 119:33-40 – God se onderrig in sy voorskrifte sal jou enduit daarby kan hou
ה HE 33Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. 34Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. 35Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. 36Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. 37Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. 38Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. 39Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. 40Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u geregtigheid.
Hierdie vyfde gedeelte van Psalm 119 is ‘n gebed wat saamgestel is uit agt versoeke aan die Here, dinge wat jy nodig het om in ‘n verhouding met God te kan lewe. Ek maak dit dus persoonlik:
- Onderrig my …
- Gee my insig …
- Begelei my …
- Laat my hart …
- Weerhou my oë …
- Doen u woord gestand …
- Neem bespotting van my weg …
- Hou my lewend … (2x – 119:37,40)
Hoekom? Want dit sal jou om help om die doel van jou lewe te kan bereik, ‘n doel wat alles met God se openbaring aan jou te make het. Vind saam met die Psalmis vreugde daarin en verlang daarna. Jy kan dit met die Here deurgesels soos volg:
- Ek wil u voorskrifte enduit nakom… dit is iets wat U my moet leer.
- Ek wil u wet met my hele hart nakom en onderhou… dit is iets waarvoor ek insig nodig het.
- Ek vind vreugde in u bevele… daarom kan dit my begelei.
- Ek wil u bepalings nakom, en nie op winsbejag uit wees nie… daarom is dit ‘n hartsaak vir my.
- Ek wil nie na nuttelose dinge staar wat my my lewe kan kos nie… daarom het ek ‘n wag voor my oë nodig, soos Job ook eenmaal vermeld het, om nie iemand anders te begeer nie (Job 31:1 – vgl Jesus in Matt 5:29 wat dieselfde sê).
- Ek wil hê dat daar ontsag vir U sal wees… daarom vra ek dat God sy woord aan my gestand sal doen as ‘n getuienis aan ander.
- Ek wil u goeie beslissings ervaar… want dit sal bespotting van my af wegneem.
- Ek verlang na u opdragte… want die geregtigheid daarvan sal my in die lewe hou.
Dit gee jou eintlik ‘n uitgebreide model om in jou gebedslewe te gebruik.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11933-40-he-onderrig-my-dat-ek-enduit-u-voorskrifte-kan-nakom/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Chris van Zyl
Goeie uiteensetting en opsomming!!
Chris van Wyk
Dankie! Waardeer.