Skip to main content

Die hermeneutiese probleem

wpid-photo-jul-5-2011-449-pm
Baie hermeneute gebruik Gadamer se “two horizons” as model om verstaan as ‘n “versmelting van horisonne” uit te druk. Dié grafika druk iets daarvan uit.

Prof. Hennie Rossouw skets alreeds veertig jaar gelede in 1979 die hermeneutiese probleem in die lees van antieke tekste.  Hy formuleer die hermeneutiese probleem as die vraag: “Hoe lees ons ’n teks?” Dit is dus iets anders as om te vra: “Wat sê die teks?” Laasgenoemde vraag is gemik op inhoud.  Eersgenoemde vraag is gemik op toepassing.  Prof. Hennie se Referaat is hierby ingesluit vir dié wat meer wil lees (dankie Pieter Roux!).

Calvyn sou sê dit is die verskil tussen die simplex sensus (literêr-historiese betekenis) van die teks en sy usus (toepassing).

Prof. Hennie bespreek drie maniere waarop ’n mens die teks kan lees, fundamentalisties, wetenskaplik, en hermeneuties.

  • Die gevaar van ’n fundamentalistiese lees van die teks is dat ’n teks ongekwalifiseerd van toepassing gemaak word sonder dat die situasie van die leser in ag geneem word.
  • Die gevaar van ’n wetenskaplike lees van die teks is dat dit die teks eenvoudig agterlaat en verwerp word as van nul en gener waarde vir vandag.
  • Die voordeel van ’n hermeneutiese lees van die teks is dat dit beide die teks en die leser volledig ernstig neem en sin probeer maak daarvan, sonder om die teks te verwerp, en sonder om die leser se situasie te verwerp.
Kom ek illustreer dit aan die hand van ’n deel van die teks wat ek en my vrou vanoggend gelees het, Matt. 10:5-7:
Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: ‘Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. Gaan verkondig: Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’
  • ’n Fundamentalistiese lees: Jesus se opdrag is dat ’n mens nie die evangelie na dié buite jou kring moet neem nie, net na dié wat verlore is in jou eie kring.
  • ’n Wetenskaplike lees: Jesus het dié opdrag vir ’n spesifieke groep mense gegee, die twaalf dissipels.  Dit is nie op my of enigiemand anders van toepassing nie, want ons val buite daardie groep.
  • ’n Hermeneutiese lees: Jesus het dié opdrag vir ’n spesifieke groep mense – die twaalf dissipels – gegee om na ’n spesifieke groep – die verlore skape – van hulle eie mense – die volk Israel – te gaan.  Dit kan dus nie net só van toepassing op my wees nie.  Ek is nie een van die twaalf nie; ek is nie ’n Jood nie.  Trouens, dit was selfs nie net só van toepassing op ander in Jesus se tyd nie, want ná sy opstanding uit die dood het Hy wel die opdrag uitgebrei dat die evangelie na alle nasies geneem moet word.  En met sy Hemelvaart het Hy juis die Samaritane en alle ander groepe op die aarde ingesluit.  En deur hulle werk het ek ook ’n dissipel van Jesus geword.  Dit beteken, ek moet dié opdrag hoor binne die groter opdrag van die evangelie wat na die hele aarde moet gaan.  Dit sluit die verlorenes in my eie kring in, maar kan nooit net hulle wees nie.  Daarom het ek ’n verantwoordelikheid teenoor my eie kring, maar ook wyer.

Dit is duidelik – vir my altans – dat laasgenoemde manier van lees ’n beter manier van lees is.  Ek hoor die teks, maar hoor dit in my situasie, en gee dus gehoor daaraan, maar vanuit die begrip wat dit vir my vir my eie situasie bring.  Ek is ’n predikant in ’n spesifieke gemeente en kerk, en moet my bediening dus fokus op die “verlore skape” van my gemeente en kerk.  Maar, ek kan nooit nét dit doen nie.  Daar is ook ’n wêreld wat wag …

Is alles daarmee gesê?  Ek dink nie so nie. Want, daar is ook ’n gevaar in só ’n hermeneutiese lees.  Ek kan ontkrag word tussen “my mense” en “ander mense” en uiteindelik niks doen nie.  Ek kan my só verstrik in wat dit nou eintlik beteken dat ek dié dag maar liewer gaan doen wat ek self dink die beste is.

Prof. Hennie gee daarom in sy referaat erkenning aan die gevaar van só ’n hermeneutiese manier van lees.  Die teks kan uiteindelik tog maar weer ondergeskik gemaak word aan die situasie van die leser. Want, ek kan só opgaan in die evangelie vir my eie mense dat die wêreld krepeer sonder die goeie nuus. Óf, ek kan só opgaan in die evangelie vir die wêreld, dat my eie mense krepeer sonder die goeie nuus.  Óf nog erger, niks doen nie.

Daarom kies prof. Hennie uiteindelik dat ’n mens jou besig hou met: “wat die Bybel ons self te denke, maar veral ook te doen gee.”  In my konteks, vandag, op die mense in my eie konteks wat my nodig het … anders sal ek nie meer doen wat die teks vir my vandag sê nie.

Daarin volg prof. Hennie die OT teoloog Van Ruler na wat gesê het dat die hermeneutiese probleem interessant genoeg is: “om er veel en lang, ook diep over na te denken.”  Maar wie alléén daaroor nadink, loop uiteindelik in sirkels rond. Hy kom sonder voedsame inhoud om: “in de woestijn van de formaliteit”.  Jou eindelose besinning oor hoe die Bybel gelees moet word, oorwoeker die inhoud van die Bybel en verstrik die impak daarvan in jou lewe.

Soos prof. Hennie sê: ” Wat die Bybel self te sê het, is tog in die eerste en laaste plek waarop dit vir kerk en wêreld aankom; nie die prolegomena van teologiese of filosofiese hermeneutici nie.” Daarom bid ek vandag vir die verlore mense van my gemeente en kerk, en doen wat die Here vandag op my hart lê daarvoor.  Sela.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hermeneutiese probleem


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.