Skip to main content

Die hermeneutiese probleem

wpid-photo-jul-5-2011-449-pm
Baie hermeneute gebruik Gadamer se “two horizons” as model om verstaan as ‘n “versmelting van horisonne” uit te druk. Dié grafika druk iets daarvan uit.

Prof. Hennie Rossouw skets alreeds veertig jaar gelede in 1979 die hermeneutiese probleem in die lees van antieke tekste.  Hy formuleer die hermeneutiese probleem as die vraag: “Hoe lees ons ’n teks?” Dit is dus iets anders as om te vra: “Wat sê die teks?” Laasgenoemde vraag is gemik op inhoud.  Eersgenoemde vraag is gemik op toepassing.  Prof. Hennie se Referaat is hierby ingesluit vir dié wat meer wil lees (dankie Pieter Roux!).

Calvyn sou sê dit is die verskil tussen die simplex sensus (literêr-historiese betekenis) van die teks en sy usus (toepassing).

Prof. Hennie bespreek drie maniere waarop ’n mens die teks kan lees, fundamentalisties, wetenskaplik, en hermeneuties.

  • Die gevaar van ’n fundamentalistiese lees van die teks is dat ’n teks ongekwalifiseerd van toepassing gemaak word sonder dat die situasie van die leser in ag geneem word.
  • Die gevaar van ’n wetenskaplike lees van die teks is dat dit die teks eenvoudig agterlaat en verwerp word as van nul en gener waarde vir vandag.
  • Die voordeel van ’n hermeneutiese lees van die teks is dat dit beide die teks en die leser volledig ernstig neem en sin probeer maak daarvan, sonder om die teks te verwerp, en sonder om die leser se situasie te verwerp.
Kom ek illustreer dit aan die hand van ’n deel van die teks wat ek en my vrou vanoggend gelees het, Matt. 10:5-7:
Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: ‘Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. Gaan verkondig: Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’
  • ’n Fundamentalistiese lees: Jesus se opdrag is dat ’n mens nie die evangelie na dié buite jou kring moet neem nie, net na dié wat verlore is in jou eie kring.
  • ’n Wetenskaplike lees: Jesus het dié opdrag vir ’n spesifieke groep mense gegee, die twaalf dissipels.  Dit is nie op my of enigiemand anders van toepassing nie, want ons val buite daardie groep.
  • ’n Hermeneutiese lees: Jesus het dié opdrag vir ’n spesifieke groep mense – die twaalf dissipels – gegee om na ’n spesifieke groep – die verlore skape – van hulle eie mense – die volk Israel – te gaan.  Dit kan dus nie net só van toepassing op my wees nie.  Ek is nie een van die twaalf nie; ek is nie ’n Jood nie.  Trouens, dit was selfs nie net só van toepassing op ander in Jesus se tyd nie, want ná sy opstanding uit die dood het Hy wel die opdrag uitgebrei dat die evangelie na alle nasies geneem moet word.  En met sy Hemelvaart het Hy juis die Samaritane en alle ander groepe op die aarde ingesluit.  En deur hulle werk het ek ook ’n dissipel van Jesus geword.  Dit beteken, ek moet dié opdrag hoor binne die groter opdrag van die evangelie wat na die hele aarde moet gaan.  Dit sluit die verlorenes in my eie kring in, maar kan nooit net hulle wees nie.  Daarom het ek ’n verantwoordelikheid teenoor my eie kring, maar ook wyer.

Dit is duidelik – vir my altans – dat laasgenoemde manier van lees ’n beter manier van lees is.  Ek hoor die teks, maar hoor dit in my situasie, en gee dus gehoor daaraan, maar vanuit die begrip wat dit vir my vir my eie situasie bring.  Ek is ’n predikant in ’n spesifieke gemeente en kerk, en moet my bediening dus fokus op die “verlore skape” van my gemeente en kerk.  Maar, ek kan nooit nét dit doen nie.  Daar is ook ’n wêreld wat wag …

Is alles daarmee gesê?  Ek dink nie so nie. Want, daar is ook ’n gevaar in só ’n hermeneutiese lees.  Ek kan ontkrag word tussen “my mense” en “ander mense” en uiteindelik niks doen nie.  Ek kan my só verstrik in wat dit nou eintlik beteken dat ek dié dag maar liewer gaan doen wat ek self dink die beste is.

Prof. Hennie gee daarom in sy referaat erkenning aan die gevaar van só ’n hermeneutiese manier van lees.  Die teks kan uiteindelik tog maar weer ondergeskik gemaak word aan die situasie van die leser. Want, ek kan só opgaan in die evangelie vir my eie mense dat die wêreld krepeer sonder die goeie nuus. Óf, ek kan só opgaan in die evangelie vir die wêreld, dat my eie mense krepeer sonder die goeie nuus.  Óf nog erger, niks doen nie.

Daarom kies prof. Hennie uiteindelik dat ’n mens jou besig hou met: “wat die Bybel ons self te denke, maar veral ook te doen gee.”  In my konteks, vandag, op die mense in my eie konteks wat my nodig het … anders sal ek nie meer doen wat die teks vir my vandag sê nie.

Daarin volg prof. Hennie die OT teoloog Van Ruler na wat gesê het dat die hermeneutiese probleem interessant genoeg is: “om er veel en lang, ook diep over na te denken.”  Maar wie alléén daaroor nadink, loop uiteindelik in sirkels rond. Hy kom sonder voedsame inhoud om: “in de woestijn van de formaliteit”.  Jou eindelose besinning oor hoe die Bybel gelees moet word, oorwoeker die inhoud van die Bybel en verstrik die impak daarvan in jou lewe.

Soos prof. Hennie sê: ” Wat die Bybel self te sê het, is tog in die eerste en laaste plek waarop dit vir kerk en wêreld aankom; nie die prolegomena van teologiese of filosofiese hermeneutici nie.” Daarom bid ek vandag vir die verlore mense van my gemeente en kerk, en doen wat die Here vandag op my hart lê daarvoor.  Sela.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hermeneutiese probleem


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…