Nehemia 5 – Vrygewigheid herstel menswaardigheid en ewewig
Hoofstuk 5 handel oor twee sake:
- Die herstel van die reg van armes om met menswaardigheid behandel te word – 5:1-13
- Die beskrywing van Nehemia se vrygewigheid as aanleiding tot sy gebed tot die Here – 5:14-19
Die herstel van die reg van armes om met menswaardigheid behandel te word – 5:1-13
Die volgende krisis met die bouery het gekom van die Jode self, spesifiek dié met wie dit ekonomies alreeds swaar gegaan het nog voor met die bouprojek begin is.
Hulle klag teen hulle eie Joodse volksgenote was ernstig. Omdat hulle weens hongersnood en die belastings aan die koning in die skuld geraak het, het hulle nie net hulle lande, wingerde en huise verpand en geld geleen nie, maar ook van hulle seuns en dogters in slawerny gegee. Hulle volksgenote kon dus voordeel uit hulle teenspoed trek. Hulle het beleef wat Spreuke bondig sê: “Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen” (Spr. 22:7).
Die rede vir hulle klagtes juis nou met die bouwerk, was waarskynlik dat dit ’n byna onhoudbare las geplaas het op mense wat eintlik glad nie kon bekostig om die muur te bou nie, omdat hulle kwalik vir hulleself kon sorg. Dit laat ‘n mens met nog meer teleurstelling dink aan die vooraanstaande mense van Tekoa wat nie wou help met die muur nie.
Nehemia besef onmiddellik dat dit nie net ’n potensiële krisis vir die bouwerk is nie, maar dat die situasie op uitbuiting neerkom. Spreuke sê immers ook: “Moenie ’n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie. Die Here sal hulle saak behartig en dié wat vir hulle beroof, van die lewe beroof.” (Spr. 22:22-23).
Nehemia het daarby besef dat hy self eintlik aan hulle lot aandadig is, deurdat hy ook aan die noodlydendes geld geleen het, uit sy omvangryke rykdom. Selfs al sou hy net die minimum rente daarop gehef het, sou dit hom verder verryk, terwyl dit die armes nog vêrder in die skuld gedompel het. Die diepte van hulle ellende moes hulle mede-Jode tot geskenke beweeg het en nie tot lenings nie.
Die feit dat die klaers aanspraak maak op die feit dat hulle almal tog één is, het weerklink in die hart van Nehemia. Dit kom ook ooreen met die wysheidstradisie van Spreuke wat elke mens as God-waardig beskou (Spr. 14:31) en ryk en arm as gelyk voor Hom ag (Spr. 22:2). Dit is waarom deernis met en ontferming oor arm mense so geloof word in die boek Spreuke. Jy bewys daarmee dat jy God eer. Om die waarheid te sê, deur aan ‘n arm mens iets te gee, is ‘n lening aan die Here, wat Hy sal vereffen (Spr. 19:17).
Weereens sien ’n mens dat Nehemia eers ná ’n tyd van oorweging optree, maar dan helder die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers lê vir die uitbuiting van hulle volksgenote by die volksvergadering wat hy belê. Hy erken ook sy eie skuld.
Sy oplossing herbevestig ’n belangrike beginsel van die wet van Moses: gee eerder as om te leen: “Wanneer ’n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy ’n vreemdeling of ’n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou. As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.” (Lev. 25:35-38). Selfs wanneer die amper ondenkbare gebeur het dat iemand as ’n slaaf verkoop is, moes slawe na 6 jaar diens vrygelaat word (Eks. 21:2).
Nehemia spel die pad vir hulle uit dat hulle die klaers se eiendom moet teruggee en lenings moet kwytskeld. Dit word onder eed bevestig en uitgevoer.
Die beskrywing van Nehemia se vrygewigheid as aanleiding tot sy gebed tot die Here – 5:14-19
Nehemia vervolg met ’n beskrywing van sy vrygewigheid en deernis met sy mense. Hy het nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie, alhoewel hy daarop geregtig was. Dit is ook die eerste keer dat ons indirek aflei dat hy eintlik die posisie van goewerneur beklee het in sy 12 jaar in Jerusalem.
Dit het hy gedoen uit eerbied vir God, maar ook omdat hy vermoënd was. Hy kon daarom sy volle gewig ingooi by die werk aan die muur. Hy het ook nie self probeer om munt te slaan uit die nood van mense wat hulle lande wou verkoop om te oorleef nie. Sy eie werkers is ook voluit gegee vir die werk aan die muur.
Sy vrygewigheid het ’n 150 plus mense aan die lewe gehou op ’n feestelike manier, ’n bees, ses skape en ’n klomp voëls ’n dag en ’n groot hoeveelheid wyn! God se seën was dus uitgedeel as ’n seën aan ander!
Dit is dié dinge wat hy vra dat die Here sal onthou as God aan hom dink: “alles wat ek vir hierdie volk gedoen het!”
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Nehemia - August 20, 2013
- Nehemia 1 – Nehemia reageer met indringende gebed op die nood in Jerusalem
- Nehemia 2 – Nehemia betrek die koning by sy planne en motiveer die leiers in Jerusalem om te begin bou - August 21, 2013
- Nehemia 3-4 – Nehemia inspireer die volk deur gebed en goeie beplanning midde-in erge teenstand - August 22, 2013
- Nehemia 5 – Vrygewigheid herstel menswaardigheid en ewewig - August 23, 2013
- Nehemia 6-7 – Nehemia voltooi die muur ten spyte van groot gevaar en vestig ’n gesonde gemeenskap in Jerusalem - August 26, 2013
- Nehemia 8 – Esra help die volk om mense van die Boek te word - August 27, 2013
- Nehemia 9 – Die geloofsgemeenskap verootmoedig hulle voor die Here met skuldbelydenis onder begeleiding van die Leviete - August 28, 2013
- Nehemia 10 – Die geloofsgemeenskap verbind hulle aan die Here met ’n skriftelike ooreenkoms en ’n plegtige eed - August 29, 2013
- Nehemia 11-12 – Die gemeenskapslewe in Jerusalem word herstel en die muur feestelik ingewy - August 30, 2013
- Nehemia 13 – Nehemia stel nog hervormings in met sy tweede termyn - September 2, 2013
- Tien gebede van Nehemia - May 4, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar