Skip to main content

Nehemia 5 – Vrygewigheid herstel menswaardigheid en ewewig

Hoofstuk 5 handel oor twee sake:

  • Die herstel van die reg van armes om met menswaardigheid behandel te word – 5:1-13
  • Die beskrywing van Nehemia se vrygewigheid as aanleiding tot sy gebed tot die Here – 5:14-19

Die herstel van die reg van armes om met menswaardigheid behandel te word – 5:1-13

Die volgende krisis met die bouery het gekom van die Jode self, spesifiek dié met wie dit ekonomies alreeds swaar gegaan het nog voor met die bouprojek begin is.

Hulle klag teen hulle eie Joodse volksgenote was ernstig. Omdat hulle weens hongersnood en die belastings aan die koning in die skuld geraak het, het hulle nie net hulle lande, wingerde en huise verpand en geld geleen nie, maar ook van hulle seuns en dogters in slawerny gegee.  Hulle volksgenote kon dus voordeel uit hulle teenspoed trek.  Hulle het beleef wat Spreuke bondig sê: “Die ryke heers oor die arme;  die lener is die slaaf van die man by wie hy leen” (Spr. 22:7).

Die rede vir hulle klagtes juis nou met die bouwerk, was waarskynlik dat dit ’n byna onhoudbare las geplaas het op mense wat eintlik glad nie kon bekostig om die muur te bou nie, omdat hulle kwalik vir hulleself kon sorg.  Dit laat ‘n mens met nog meer teleurstelling dink aan die vooraanstaande mense van Tekoa wat nie wou help met die muur nie.

Nehemia besef onmiddellik dat dit nie net ’n potensiële krisis vir die bouwerk is nie, maar dat die situasie op uitbuiting neerkom.  Spreuke sê immers ook: “Moenie ’n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie;  moenie die hulpelose vertrap  in die regspraak nie.  Die Here sal hulle saak behartig  en dié wat vir hulle beroof,  van die lewe beroof.” (Spr. 22:22-23).

Nehemia het daarby besef dat hy self eintlik aan hulle lot aandadig is, deurdat hy ook aan die noodlydendes geld geleen het, uit sy omvangryke rykdom.  Selfs al sou hy net die minimum rente daarop gehef het, sou dit hom verder verryk, terwyl dit die armes nog vêrder in die skuld gedompel het.  Die diepte van hulle ellende moes hulle mede-Jode tot geskenke beweeg het en nie tot lenings nie.

Die feit dat die klaers aanspraak maak op die feit dat hulle almal tog één is, het weerklink in die hart van Nehemia.  Dit kom ook ooreen met die wysheidstradisie van Spreuke wat elke mens as God-waardig beskou (Spr. 14:31) en ryk en arm as gelyk voor Hom ag (Spr. 22:2).  Dit is waarom deernis met en ontferming oor arm mense so geloof word in die boek Spreuke.  Jy bewys daarmee dat jy God eer.  Om die waarheid te sê, deur aan ‘n arm mens iets te gee, is ‘n lening aan die Here, wat Hy sal vereffen (Spr. 19:17).

Weereens sien ’n mens dat Nehemia eers ná ’n tyd van oorweging optree, maar dan helder die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers lê vir die uitbuiting van hulle volksgenote by die volksvergadering wat hy belê.  Hy erken ook sy eie skuld.

Sy oplossing herbevestig ’n belangrike beginsel van die wet van Moses: gee eerder as om te leen: “Wanneer ’n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy ’n vreemdeling of ’n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou. As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.” (Lev. 25:35-38).  Selfs wanneer die amper ondenkbare gebeur het dat iemand as ’n slaaf verkoop is, moes slawe na 6 jaar diens vrygelaat word (Eks. 21:2).

Nehemia spel die pad vir hulle uit dat hulle die klaers se eiendom moet teruggee en lenings moet kwytskeld.  Dit word onder eed bevestig en uitgevoer.

Die beskrywing van Nehemia se vrygewigheid as aanleiding tot sy gebed tot die Here – 5:14-19

Nehemia vervolg met ’n beskrywing van sy vrygewigheid en deernis met sy mense.  Hy het nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie, alhoewel hy daarop geregtig was. Dit is ook die eerste keer dat ons indirek aflei dat hy eintlik die posisie van goewerneur beklee het in sy 12 jaar in Jerusalem.

Dit het hy gedoen uit eerbied vir God, maar ook omdat hy vermoënd was. Hy kon daarom sy volle gewig ingooi by die werk aan die muur.  Hy het ook nie self probeer om munt te slaan uit die nood van mense wat hulle lande wou verkoop om te oorleef nie.  Sy eie werkers is ook voluit gegee vir die werk aan die muur.

Sy vrygewigheid het ’n 150 plus mense aan die lewe gehou op ’n feestelike manier, ’n bees, ses skape en ’n klomp voëls ’n dag en ’n groot hoeveelheid wyn!  God se seën was dus uitgedeel as ’n seën aan ander!

Dit is dié dinge wat hy vra dat die Here sal onthou as God aan hom dink: “alles wat ek vir hierdie volk gedoen het!”


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda