Skip to main content

Nehemia 11-12 – Die gemeenskapslewe in Jerusalem word herstel en die muur feestelik ingewy

Ons lees vandag weer 2 hoofstukke.

  • In hoofstuk 11 word ’n lys van inwoners gegee wat in Jerusalem kom woon het asook in die nedersettings buite Jerusalem.
  • In hoofstuk 12 word die lys van die priesters en Leviete wat in die tyd van Serubbabel teruggekom het uit Babel opgedateer en die hoofstuk afgesluit met die beskrywing van die inwyding van die voltooide muur van Jerusalem.

Die gemeenskapslewe in Jerusalem word herstel – 11:1-24

Die besluit van Nehemia om die leiers van die volk aan te moedig om in Jerusalem te kom bly (7:4-5) werp nou nog meer vrugte af.  Die ander Jode het besluit om die lot te werp sodat een uit elke tien families in Jerusalem kan kom woon.  Só is uiteindelik ook die gemeenskapslewe in Jerusalem herstel, soos dit die geval was met die bou van die tempel (Serubbabel), die herstel van die wetboek van God se funksie in die lewe van die volk (Esra) en die herbou van die mure van Jerusalem (Nehemia).  Die volk was baie bly daaroor en het die families geprys wat bereid was om dit te doen.

Nehemia lys dan die leiers van Juda (468), Benjamin (928) sowel as die priesters (822 plus nog 370), Leviete (284), poortwagte (172), asook ’n paar tempelslawe en sangers waarvan die getalle nie gegee word nie, wat in Jerusalem kom woon het.  Let op die dubbele gebruik van die term “heilige stad” (vers 1 en 18) wat hierna meermale vir Jerusalem gebruik is.  Dit reflekteer waarskynlik hulle besef dat hulle die heiligheid van God aan die nasies moes vertoon.

Dit sluit die nedersettings buite Jerusalem in – 11:25-36

Buite om Jerusalem was daar ook ’n hele paar nedersettings wat deur mense van Juda (17 gebiede) en Benjamin (15 gebiede) bewoon is, sowel as ’n paar afdelings Leviete.  Priesters het almal in Jerusalem gewoon, want dit is waar hulle hul priesterlike werk in die tempel gedoen het.

Die register van legitieme priesters en Leviete word opgedateer – 12:1-26

Nehemia lys dan die priesters en Leviete wat in die dae van Serubbabel en Jesua uit Babel teruggekeer het – 22 priesterlike families en 8 Levitiese families.  Hy brei ook uit oor die hoëpriesterlike familie waarvan die laaste een nog aktief was in die tyd van koning Darius II (423-404 v.C.) wat Artaxerxes opgevolg het.

Jojakim is natuurlik nie die koning van net voor die ballingskap nie, wel die hoëpriester wat Jesua opgevolg het.  In sy tyd is nog 20 priesterlike families bygevoeg.  Die Kroniekboek wat hier vermeld word, is nie die Bybelse boeke van die Kronis nie, maar ’n amptelike joernaal van die diensdoenende personeel van die tempel.

Die herboude muur van Jerusalem word feestelik ingewy – 12:27-47

Met die oog op die inwyding van die herboude muur van Jerusalem is alle Leviete opgekommandeer om sorg te dra vir die inwyding.  Dit is voorafgegaan deur ’n reinigingsproses wat selfs die poorte en muur ingesluit het, waarskynlik met brandoffers (vgl. 2 Kron. 29:29).

Die hoogtepunt van die dag was toe die leiers van Juda saam met twee groot kore op die muur geklim en al met die muur langs gestap het, die een suid op die muur langs en die ander noord.  Dit is nou dié muur waarvan Tobija gesê het dat dit sal omval as ’n jakkals daarteen opspring (Neh. 4:3)!

Die ander mense saam met Nehemia het die prosessie gevolg en uiteindelik offers gebring onder groot gejuig en gesing in die tempel van die Here. “Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.

Nog twee hervormings sou direk hierna volg – die formalisering van die offergawe, eerstelinge en die tiendes met die pragtige opmerking: “Die priesters en die Leviete het voordeel getrek uit die blydskap van Juda!” (12:44-47) – asook die verdere inwerkingstelling van die afskeiding van mense van vreemde godsdienste (13:1-3).

Heelwat later, met Nehemia se tweede termyn in Jerusalem, het die afrekening met Tobija gekom, die herstel van die Leviete se voorregte en diens, sowel as maatreëls oor die Sabbat.  Die plegtige ooreenkoms van tevore het sonder die regte leierskap dus nie lank gehou nie en moes weer in werking gestel word!  Daaroor môre verder.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.