Nehemia 10 – Die geloofsgemeenskap verbind hulle aan die Here met ’n skriftelike ooreenkoms en ’n plegtige eed

Ons lees vandag hoofstuk 10 wat oor die tweede fase van die deurslaggewende herverbintenis aktiwiteite van dié dag handel.

Die herverbintenis van die volk sluit die volgende drie hoof sake in:

  • ‘n Skriftelike ooreenkoms van hulle verbondsverbintenis – 9:38-10:27
  • ’n Plegtige eed wat hulle aflê om dié verbintenis na te kom – 10:28-29
  • Sewe verbondsvoorwaardes waaraan hulle hul verbind – 10:30-39

 ‘n Skriftelike ooreenkoms van hulle verbondsverbintenis – 9:38-10:27

Die leiers van die geloofsgemeenskap, wat uiteraard die priester en Leviete ingesluit het, het dié skriftelike ooreenkoms voor die Here aangegaan om Hom alleen te dien. Nehemia stel vir hulle die voorbeeld deurdat sy naam heel eerste neergeskrywe staan op die dokument.  Die volgende persoon, Sedekia, was waarskynlik een van sy amptenare, waarna 21 priesters genoem word, sowel as 17 Leviete en 44 ander leiers.  Sommige is die name van individue terwyl ander familie name aandui.

’n Plegtige eed wat hulle aflê om dié verbintenis na te kom – 10:28-29

Die hele geloofsgemeenskap verenig hulle in die aflê van ’n plegtige eed waarin hulle die skriftelike ooreenkoms bevestig.  Dié eed se funksie was om te verklaar dat die voorwaardes van die verbondsooreenkoms op hulle van toepassing is.  Hulle verklaar nie net dat hulle die wet van God sal gehoorsaam in al sy bepalings en voorskrifte nie, maar doen dit as gemeenskap wat hulle van die heidenvolke afgeskei het.

Sewe verbondsvoorwaardes waaraan hulle hul verbind – 10:30-39

Vervolgens spel hulle die sewe spesifieke verbondsvoorwaardes uit waaraan hulle hul sal hou.  Die eerste drie is dinge wat hulle sal vermy en die volgende vier dinge wat hulle onderneem om te doen.

Dinge wat hulle sal vermy:

  • Die eerste onderneming is in lyn met die eedswering – dat hulle nie ondertrouery in die geloofsgemeenskap met die heidenvolke sal toelaat nie.
  • Die tweede onderneming is om die Sabbat te heilig deur geen handel daarop te dryf nie, selfs nie met die heidene as dié dit sou probeer doen nie.
  • Die derde onderneming is om die sabbatsjaar na te kom waarop grond braak laat lê word en alle skulde kwytgeskeld word (Eks. 23:10-11; Lev. 25:2-7). Met die muurbouery het hulle al deels hieraan gehoorsaam geraak (Neh. 5).

Al drie hierdie ondernemings is beskerm maatreëls vir ’n gesonde gemeenskapslewe waarmee hulle sorg dat daar nie vreemde godsdienstige invloede die familielewe binnedring nie en ’n gesonde ritme tussen werk en rus vestig vir almal in die gemeenskap, iets waaraan ons vandag groot nood het, al vier ons nie meer die Sabbat op dieselfde manier nie.

Dinge wat hulle onderneem om te doen:

  • Die vierde onderneming is om gereelde dankoffers te gee vir die dienswerk in die huis van God.  In die Hebreeus word van “’n derde deel van ’n sikkel” gepraat, ongeveer 4 gram, wat nie noodwendig goud was nie, maar ook silwer kon wees.  Terloops, indien dit wel 4 gram goud was, sou dit vandag (29 Aug. 2013) R58 638.28 beloop het teen die huidige goudprys en wisselkoers!  Daar was ook ander sulke “tempelbelastings” soos ons in Eks. 30:10-11 lees.  In Moses se tyd was dit ’n halwe deel van ‘n sikkel, omtrent 5-6 gram.  Interessant genoeg, in Matt. 17:24 lees ons dat Jesus hom aan die wet gehou het en die tempelbelasting betaal het met ‘n hele silwermuntstuk vir hom en vir Petrus, presies soos die wet dit beveel (nogal uit die bek van ’n vis!).
  •  Die vyfde onderneming is om brandhout te verskaf vir die altaar in die tempel wat op ’n vasgestelde tyd in die jaar gebeur het, volgens ’n roterende loting.
  • Die sesde onderneming is om die eerstelinge van hulle gesaaides en vrugtebome op ’n jaarlikse basis te gee.  Dit sluit die eersgebore seuns in – wat losgekoop kon word vir 5 gram silwer, ’n jaar se tempelbelasting (Eks. 13:13; 34:20).  Hulle het ook die eerstelinge van al hulle diere en daarby nog van hulle deeg, wyn en olie (vir die priesters) en ’n tiende van hulle gesaaides se oeste (vir die Leviete – vgl. Num. 18:21) geskenk.  Die Leviete was verantwoordelik vir die insameling van die tiendes, onder begeleiding van ’n priester.  Die rede daarvoor was dat van dié tiendes weer ’n tiende na die huis van die Here moes kom vir die priesterlike werk.
  • Die sewende onderneming is ’n algemene verklaring dat hulle die huis van hulle God nie sal verwaarloos nie.

Dit beteken dat die Jode nou verantwoordelikheid begin neem het vir die tempel, eerder as die Persiese konings. Iets wat natuurlik tot vandag toe ’n gebruik in die kerk is.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: