Skip to main content

Nehemia 10 – Die geloofsgemeenskap verbind hulle aan die Here met ’n skriftelike ooreenkoms en ’n plegtige eed

Ons lees vandag hoofstuk 10 wat oor die tweede fase van die deurslaggewende herverbintenis aktiwiteite van dié dag handel.

Die herverbintenis van die volk sluit die volgende drie hoof sake in:

  • ‘n Skriftelike ooreenkoms van hulle verbondsverbintenis – 9:38-10:27
  • ’n Plegtige eed wat hulle aflê om dié verbintenis na te kom – 10:28-29
  • Sewe verbondsvoorwaardes waaraan hulle hul verbind – 10:30-39

 ‘n Skriftelike ooreenkoms van hulle verbondsverbintenis – 9:38-10:27

Die leiers van die geloofsgemeenskap, wat uiteraard die priester en Leviete ingesluit het, het dié skriftelike ooreenkoms voor die Here aangegaan om Hom alleen te dien. Nehemia stel vir hulle die voorbeeld deurdat sy naam heel eerste neergeskrywe staan op die dokument.  Die volgende persoon, Sedekia, was waarskynlik een van sy amptenare, waarna 21 priesters genoem word, sowel as 17 Leviete en 44 ander leiers.  Sommige is die name van individue terwyl ander familie name aandui.

’n Plegtige eed wat hulle aflê om dié verbintenis na te kom – 10:28-29

Die hele geloofsgemeenskap verenig hulle in die aflê van ’n plegtige eed waarin hulle die skriftelike ooreenkoms bevestig.  Dié eed se funksie was om te verklaar dat die voorwaardes van die verbondsooreenkoms op hulle van toepassing is.  Hulle verklaar nie net dat hulle die wet van God sal gehoorsaam in al sy bepalings en voorskrifte nie, maar doen dit as gemeenskap wat hulle van die heidenvolke afgeskei het.

Sewe verbondsvoorwaardes waaraan hulle hul verbind – 10:30-39

Vervolgens spel hulle die sewe spesifieke verbondsvoorwaardes uit waaraan hulle hul sal hou.  Die eerste drie is dinge wat hulle sal vermy en die volgende vier dinge wat hulle onderneem om te doen.

Dinge wat hulle sal vermy:

  • Die eerste onderneming is in lyn met die eedswering – dat hulle nie ondertrouery in die geloofsgemeenskap met die heidenvolke sal toelaat nie.
  • Die tweede onderneming is om die Sabbat te heilig deur geen handel daarop te dryf nie, selfs nie met die heidene as dié dit sou probeer doen nie.
  • Die derde onderneming is om die sabbatsjaar na te kom waarop grond braak laat lê word en alle skulde kwytgeskeld word (Eks. 23:10-11; Lev. 25:2-7). Met die muurbouery het hulle al deels hieraan gehoorsaam geraak (Neh. 5).

Al drie hierdie ondernemings is beskerm maatreëls vir ’n gesonde gemeenskapslewe waarmee hulle sorg dat daar nie vreemde godsdienstige invloede die familielewe binnedring nie en ’n gesonde ritme tussen werk en rus vestig vir almal in die gemeenskap, iets waaraan ons vandag groot nood het, al vier ons nie meer die Sabbat op dieselfde manier nie.

Dinge wat hulle onderneem om te doen:

  • Die vierde onderneming is om gereelde dankoffers te gee vir die dienswerk in die huis van God.  In die Hebreeus word van “’n derde deel van ’n sikkel” gepraat, ongeveer 4 gram, wat nie noodwendig goud was nie, maar ook silwer kon wees.  Terloops, indien dit wel 4 gram goud was, sou dit vandag (29 Aug. 2013) R58 638.28 beloop het teen die huidige goudprys en wisselkoers!  Daar was ook ander sulke “tempelbelastings” soos ons in Eks. 30:10-11 lees.  In Moses se tyd was dit ’n halwe deel van ‘n sikkel, omtrent 5-6 gram.  Interessant genoeg, in Matt. 17:24 lees ons dat Jesus hom aan die wet gehou het en die tempelbelasting betaal het met ‘n hele silwermuntstuk vir hom en vir Petrus, presies soos die wet dit beveel (nogal uit die bek van ’n vis!).
  •  Die vyfde onderneming is om brandhout te verskaf vir die altaar in die tempel wat op ’n vasgestelde tyd in die jaar gebeur het, volgens ’n roterende loting.
  • Die sesde onderneming is om die eerstelinge van hulle gesaaides en vrugtebome op ’n jaarlikse basis te gee.  Dit sluit die eersgebore seuns in – wat losgekoop kon word vir 5 gram silwer, ’n jaar se tempelbelasting (Eks. 13:13; 34:20).  Hulle het ook die eerstelinge van al hulle diere en daarby nog van hulle deeg, wyn en olie (vir die priesters) en ’n tiende van hulle gesaaides se oeste (vir die Leviete – vgl. Num. 18:21) geskenk.  Die Leviete was verantwoordelik vir die insameling van die tiendes, onder begeleiding van ’n priester.  Die rede daarvoor was dat van dié tiendes weer ’n tiende na die huis van die Here moes kom vir die priesterlike werk.
  • Die sewende onderneming is ’n algemene verklaring dat hulle die huis van hulle God nie sal verwaarloos nie.

Dit beteken dat die Jode nou verantwoordelikheid begin neem het vir die tempel, eerder as die Persiese konings. Iets wat natuurlik tot vandag toe ’n gebruik in die kerk is.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.