Nehemia 13 – Nehemia stel nog hervormings in met sy tweede termyn

Ons lees vandag twee gedeeltes.  Die eerste drie verse het met die laaste hervorming te make toe die muur van Jerusalem ingewy is.  Die res van die hoofstuk het te make met die tweede termyn van Nehemia waartydens hy opgetree het teen Tobija en weereens hervormings ingestel het ten opsigte van die Leviete, die Sabbat en godsdienstig-gemengde huwelike.  Ná elkeen van die hervormings is ook ’n gebed van Nehemia opgeteken.

Die afskeiding van mense van vreemde godsdienste – 13:1-3

Die tweede hervorming hierna kom as gevolg van die voorlesing dié dag uit die boek van Moses.  Daardeur het die Jode agtergekom dat Ammoniete en Moabiete nie welkom was in die vergadering van die Here nie, soos dit in Deut. 23:3-5 voorgeskryf is.  Daarom gaan hulle vêrder as wat die geval was met die huwelike wat ontbind is (Esra 9-10) en skei ook die mense van vreemde godsdienste af vanuit hulle byeenkomste.

Onthou dat dit bedoel was vir mense wat hulle nie vereenselwig het met die Joodse godsdiens nie.  Dit is egter ook waarskynlik so dat die idee van eksklusiwiteit hiermee versterk is onder die Jode, iets wat ’n al hoe groter realiteit geword het deur die eeue.

Nehemia sit Tobija uit die tempel uit – 13:4-9

Nehemia is eers terug na Susan in 432 v.C. maar ’n tyd later het hy teruggekeer om sy goewerneurskap voort te sit, waarskynlik weens berigte dat dit daar nie so goed gegaan het nie.    Met sy terugkoms het hy vier probleme aangetref: Tobija wat die heiligdom beset het, die Leviete wat verwaarloos is, die Sabbat wat nie reg onderhou is nie en die voortdurende problematiek van godsdiens-gemengde huwelike, selfs in die hoëpriester se gesin.

Die plegtige ooreenkoms van tevore het dus sonder die regte leierskap nie lank gehou nie en moes weer in werking gestel word!  Laat ’n mens besef hoe belangrik die regte leierskap is in enige geloofsgemeenskap.

Die afrekening met Tobija was ’n ongeluk wat ’n plek gesoek het om te gebeur al van die eerste dag van Nehemia se koms na Jerusalem.  Weens die steun wat hy onder die vooraanstaande burgers gehad het, het hy voorregte gekry wat eintlik net vir die priesters gereserveer was.  Die kamer wat hy van Eljasib gekry het, was die plek waar heelwat van die offergawes vir die tempel gestoor is.  Nehemia laat nie gras onder sy voete groei nie en sit Tobija uit, reinig die kamer en sit die goed terug wat daar gebêre moes word.

Nehemia herstel die Leviete se onderhoud en diens – 13:10-14

Die Leviete is ook verwaarloos sodat hulle einde ten laaste hul dienswerk gelos het om ’n bestaan te gaan maak op hulle eie grond .  Onder Nehemia se leierskap is die ampsdraers wat dit toegelaat het, aangespreek en die Leviete opgekommandeer om hulle dienswerk te hervat.  Die insameling van tiendes is weer heringestel en die situasie genormaliseer – soos Maleagi ook sterk bepleit het (Mal. 3:6-12).

Let op die insae wat ’n mens kry in Nehemia se versugting om erkenning van die Here, nie soseer van die mense nie, soos dit in sy gebed uitgedruk word: “Onthou tog wat ek gedoen het, my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir sy diens gedoen het, vergeet raak nie.” Die Here het hom gehoor, want die verhaal is vir alle tye opgeteken!

Dit herinner my aan Paulus wat geskryf het daaroor dat dit hom min skeel wat mense van hom dink.  Hy wil net weet God is tevrede met wat hy doen (1 Kor. 4:1-5)!

So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van ’n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ’n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel.Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ’n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.”

Iets om na te volg vandag nog.

Nehemia herstel die Sabbatsonderhouding – 13:15-22

Nehemia spreek ook die wydverspreide gebruik om op die Sabbatdag te werk aan.  Hy doen dit nie net by die Jode nie, maar ook deur spesifieke maatreëls te tref wat handel onmoontlik gemaak het op die Sabbatdag.  Hy laat die poorte van Jerusalem sluit regdeur die duur van die Sabbat en waarsku die handelaars om nie buite Jerusalem te slaap, omdat dit ’n versoeking vir die Jode sou wees.

Weereens bid Nehemia: “Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!”  En die Here het!

Nehemia tree op teen dié wat godsdienstig-gemengde huwelike aangegaan het – 13:23-31

Dit stuit Nehemia teen die bors dat die kinders uit die godsdienstig-gemengde huwelike nie Hebreeus kon praat nie en gevolglik ook nie die Bybel van sy tyd kon verstaan nie.  Daarsonder sou hulle doodgewoon verheidens en nie weet wat dit beteken om die Here te dien nie.

Anders as Esra – wat sy eie hare en baard uitgetrek het van frustrasie en hartseer oor die volk se sonde – het Nehemia met die mense geraas, hulle vervloek, sommige van hulle geslaan en ander se hare uitgetrek om hulle te oorreed om die regte ding te doen – om suiwer godsdiens te beoefen.

Wat Nehemia besonder erg gegrief het, was dat die hoëpriester se seun met ’n dogter van Sanballat getroud was, dié man wat soveel probleme vir hulle met die bou van die mure van Jerusalem verskaf het.  Hy laat hom eenvoudig wegjaag.   Heiligheid was vir Nehemia eenvoudig ononderhandelbaar.

Weereens teken Nehemia sy gebed aan waarin hy sê: “Onthou hulle, my God; hulle het die priesterskap en die plegtige onderneming van die priesters en die Leviete besoedel.” Hy spel in sy gebed uit wat hy daaraan gedoen het: “Ek het hulle gesuiwer van al wat vreemd was en diensbeurte vir die priesters en Leviete vasgestel, elkeen vir sy werk.” En hy voeg ’n paar ander dinge by soos “die heffings van hout op die vasgestelde tye, en die eerstelinge. “

En hy vra weer van die Here: “Onthou dit tot my voordeel, my God!”

’n Passievolle leier tot die einde toe!

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Jacqueline Bock

    Beste Chris. Ek groet jou in die oorwindende naam van Jesus Chistus. Graag wil ek jou bedank vir alles wat jy opoffer om God eerste te stel in jou lewe. Vir my is dit ‘n inspirasie. Ek dank die Hemelse Vader dat ek op jou site afgekom het, toe ek nie meer weet watter kant toe nie. Ek werk by ‘n universiteit en ontwikkel studie materiaal vir studente. Daarom weet ek wat dit behels om die beste vir andere daar te stel. Ek kon jou materiaal van Nehemia gebruik om ‘n boodskap te bring aan ‘n gemeente wat huidiglik stukkend is omdat hulle leier, wat so passievol was, in erge depressie verval het en geestelik en fisiek uitgemergel is. Met die inligting en die uiteensetting van jou materiaal, kon ek myself, en ‘n gemeente weer hoop gee vir die toekoms. Jou bydra oor die boek van Nehemia is uit God se hand. Baie dankie vir jou gehoorsaamheid dat jy jou beskikbaar stel om ‘n positiewe verskil in andere se lewens te maak. Ek is van Namibia en ‘n pastorie-moeder. Mag God vir jou en jou familie seen in alles wat julle doen.

    • Dit is musiek in my ore, Jacqueline. Dankie vir die waardering. Dit stem my diep tevrede dat die Here dié materiaal só tot seën gebruik. Jy het eintlik Nehemia vir daardie geloofsgemeenskap geword. Dankie!

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: