Nehemia 6-7 – Nehemia voltooi die muur ten spyte van groot gevaar en vestig ’n gesonde gemeenskap in Jerusalem

Vandag lees ons twee hoofstukke wat handel oor die voltooiing van die muur ten spyte van verdere teenstand.  Vier episodes van die afhandeling word beskryf:

  • Sanballat, Tobija en Gesem probeer Nehemia die skrik op die lyf jaag, gerugsteun deur die profeet Semaja wat hom in diskrediet probeer bring – 6:1-14
  • Die muur word voltooi en in gebruik geneem – 6:15-7:3
  • Nehemia vestig ’n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan hulle familieregister – 7:4-69
  • Die bydraes vir die bouwerk aan die tempel word erken – 7:70-72

Sanballat, Tobija en Gesem probeer Nehemia die skrik op die lyf jaag, gerugsteun deur die profeet Semaja wat hom in diskrediet probeer bring – 6:1-14

Die driemanskap – Sanballat, Tobija en Gesem – probeer vir oulaas om die bouwerk tot stilstand te bring.  Eers probeer hulle Nehemia uit die stad uitlok na die Onolaagte so halfpad tussen Jerusalem en Samaria.  Dit was waarskynlik neutrale grond tussen hulle gebiede.  Nehemia vermoed egter dat hulle hom wil bykom en wys die verseëlde versoeke vier keer van die hand.

Die vyfde keer wat hulle dié versoek rig, doen hulle dit met ’n onverseëlde brief, sodat almal kon weet dat hulle hom van politieke ambisie beskuldig, dat hy ’n opstand beplan teen die Perse en homself as koning wil uitroep.  Nehemia wys ook dié versoek van die hand en stel net die feite kort en kragtig dat hy só iets nie oorweeg nie.  Die vertaling in vers 8: “Jy suig dit uit jou duim”, is ’n poging om die oorspronklike teks dinamies te vertaal.  Dit lui eintlik letterlik só: “In jou hart het jy dit opgemaak.”  Hulle pogings slaag dus glad nie.

Weereens word ’n kort gebed van Nehemia vir ons opgeteken: “Sterk tog my hande, o God!

Die gekonkel van buite af, word opgevolg deur ’n gekonkel van binne af, van die profeet Semaja.  Hy het hom (simbolies) in sy huis toegesluit en Nehemia aangepor – poëties soos profesieë meesal gelewer is en in die vertaling weergegee is – om skuiling in die tempel te gaan neem.

Nehemia weier egter, aan die een kant omdat dit nie met sy karakter gestrook het nie, maar aan die ander kant ook omdat dit hom in konflik met die priesters kon bring.  Hy sien ook deur Semaja se planne en herken die werk van Tobija en Sanballat in Semaja se voorstelle.  Weereens bring Nehemia dit in gebed na die Here en noem terselfdertyd ook die naam van die profetes Noadja en van die ander (anonieme) profete wat hom probeer bangmaak het.

Die muur word voltooi en in gebruik geneem – 6:15-7:3

Die muur is uiteindelik voltooi in rekordtyd.  Net 52 dae ná Nehemia die mense aan die werk gesit het om die muur te herbou, op die 25ste dag van die sesde maand Elul, was die werk klaar.  Trouens die muur is voltooi slegs tien maande nádat die Here die eerste keer die nood van Jerusalem onder sy aandag gebring het.  Die impak op die vyande van Jerusalem was beduidend (“hulle val baie in hulle eie oë” lui dit letterlik) sowel as op die selfrespek van die Jode.

Nehemia noem so in die verbygaan dat die problematiek van Tobija dieper was as net die alliansie met Sanballat en Gesem.  Hy het goeie bande met ’n groep vooraanstaande Joodse burgers van Jerusalem gehandhaaf, waarskynlik handelsbande.  Hulle het ook oral waar hulle kon Tobija se goeie hoedanighede voor Nehemia besing en Tobija daaroor ingelig.  Daarom het Tobija eerstehandse inligting gehad van die situasie in die stad Jerusalem en dit gebruik in sy kommunikasie met en afdreiging van Nehemia.

Nehemia laat homself egter nie deur dié druk van die vooraanstaande mense van stryk bring nie, maar gaan voort om die poortdeure te hang met uitdruklike instruksies vir die beveiliging van Jerusalem.

Nehemia vestig ’n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan hulle familieregister – 7:4-69

Met die muur voltooi, fokus Nehemia op die vestiging van ’n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan die belang van die opgetekende familieregister van almal wat in die tyd van Serubbabel teruggekom het.  Dié mense moes in die stad kom woon, sodat dit ’n lewensvatbare gemeenskap kon hê.  Die lys kom grootliks ooreen met dieselfde lys in Esra 2.  Sommige wyt die verskille aan die feit dat Esra se lys in Babel opgestel is oor wie van plan was om terug te keer, en dat Nehemia se lys die werklike families gelys het wat teruggekom het.

Hulle word eers gelys in terme van families en plek van herkoms.  Daarna word die priesterlike families, die Levitiese families, die tempelslawe met hulle families en die nakomelinge van die dienaars van Salomo met hulle families, sowel as al die tempelslawe en die nakomelinge van die amptenare van Salomo gelys.

Die bydraes vir die bouwerk aan die tempel word erken – 7:70-72

Laastens erken Nehemia die bydraes vir die werk aan die mure van die stad.  Dit het gekom van die familiehoofde, die goewerneur sowel as van die res van die mense.  Die bydraes het ook klere vir die priesters ingesluit.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: