Skip to main content

Nehemia 6-7 – Nehemia voltooi die muur ten spyte van groot gevaar en vestig ’n gesonde gemeenskap in Jerusalem

Vandag lees ons twee hoofstukke wat handel oor die voltooiing van die muur ten spyte van verdere teenstand.  Vier episodes van die afhandeling word beskryf:

  • Sanballat, Tobija en Gesem probeer Nehemia die skrik op die lyf jaag, gerugsteun deur die profeet Semaja wat hom in diskrediet probeer bring – 6:1-14
  • Die muur word voltooi en in gebruik geneem – 6:15-7:3
  • Nehemia vestig ’n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan hulle familieregister – 7:4-69
  • Die bydraes vir die bouwerk aan die tempel word erken – 7:70-72

Sanballat, Tobija en Gesem probeer Nehemia die skrik op die lyf jaag, gerugsteun deur die profeet Semaja wat hom in diskrediet probeer bring – 6:1-14

Die driemanskap – Sanballat, Tobija en Gesem – probeer vir oulaas om die bouwerk tot stilstand te bring.  Eers probeer hulle Nehemia uit die stad uitlok na die Onolaagte so halfpad tussen Jerusalem en Samaria.  Dit was waarskynlik neutrale grond tussen hulle gebiede.  Nehemia vermoed egter dat hulle hom wil bykom en wys die verseëlde versoeke vier keer van die hand.

Die vyfde keer wat hulle dié versoek rig, doen hulle dit met ’n onverseëlde brief, sodat almal kon weet dat hulle hom van politieke ambisie beskuldig, dat hy ’n opstand beplan teen die Perse en homself as koning wil uitroep.  Nehemia wys ook dié versoek van die hand en stel net die feite kort en kragtig dat hy só iets nie oorweeg nie.  Die vertaling in vers 8: “Jy suig dit uit jou duim”, is ’n poging om die oorspronklike teks dinamies te vertaal.  Dit lui eintlik letterlik só: “In jou hart het jy dit opgemaak.”  Hulle pogings slaag dus glad nie.

Weereens word ’n kort gebed van Nehemia vir ons opgeteken: “Sterk tog my hande, o God!

Die gekonkel van buite af, word opgevolg deur ’n gekonkel van binne af, van die profeet Semaja.  Hy het hom (simbolies) in sy huis toegesluit en Nehemia aangepor – poëties soos profesieë meesal gelewer is en in die vertaling weergegee is – om skuiling in die tempel te gaan neem.

Nehemia weier egter, aan die een kant omdat dit nie met sy karakter gestrook het nie, maar aan die ander kant ook omdat dit hom in konflik met die priesters kon bring.  Hy sien ook deur Semaja se planne en herken die werk van Tobija en Sanballat in Semaja se voorstelle.  Weereens bring Nehemia dit in gebed na die Here en noem terselfdertyd ook die naam van die profetes Noadja en van die ander (anonieme) profete wat hom probeer bangmaak het.

Die muur word voltooi en in gebruik geneem – 6:15-7:3

Die muur is uiteindelik voltooi in rekordtyd.  Net 52 dae ná Nehemia die mense aan die werk gesit het om die muur te herbou, op die 25ste dag van die sesde maand Elul, was die werk klaar.  Trouens die muur is voltooi slegs tien maande nádat die Here die eerste keer die nood van Jerusalem onder sy aandag gebring het.  Die impak op die vyande van Jerusalem was beduidend (“hulle val baie in hulle eie oë” lui dit letterlik) sowel as op die selfrespek van die Jode.

Nehemia noem so in die verbygaan dat die problematiek van Tobija dieper was as net die alliansie met Sanballat en Gesem.  Hy het goeie bande met ’n groep vooraanstaande Joodse burgers van Jerusalem gehandhaaf, waarskynlik handelsbande.  Hulle het ook oral waar hulle kon Tobija se goeie hoedanighede voor Nehemia besing en Tobija daaroor ingelig.  Daarom het Tobija eerstehandse inligting gehad van die situasie in die stad Jerusalem en dit gebruik in sy kommunikasie met en afdreiging van Nehemia.

Nehemia laat homself egter nie deur dié druk van die vooraanstaande mense van stryk bring nie, maar gaan voort om die poortdeure te hang met uitdruklike instruksies vir die beveiliging van Jerusalem.

Nehemia vestig ’n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan hulle familieregister – 7:4-69

Met die muur voltooi, fokus Nehemia op die vestiging van ’n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan die belang van die opgetekende familieregister van almal wat in die tyd van Serubbabel teruggekom het.  Dié mense moes in die stad kom woon, sodat dit ’n lewensvatbare gemeenskap kon hê.  Die lys kom grootliks ooreen met dieselfde lys in Esra 2.  Sommige wyt die verskille aan die feit dat Esra se lys in Babel opgestel is oor wie van plan was om terug te keer, en dat Nehemia se lys die werklike families gelys het wat teruggekom het.

Hulle word eers gelys in terme van families en plek van herkoms.  Daarna word die priesterlike families, die Levitiese families, die tempelslawe met hulle families en die nakomelinge van die dienaars van Salomo met hulle families, sowel as al die tempelslawe en die nakomelinge van die amptenare van Salomo gelys.

Die bydraes vir die bouwerk aan die tempel word erken – 7:70-72

Laastens erken Nehemia die bydraes vir die werk aan die mure van die stad.  Dit het gekom van die familiehoofde, die goewerneur sowel as van die res van die mense.  Die bydraes het ook klere vir die priesters ingesluit.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…