Skip to main content

Inleiding op die boek Nehemia

Die boek van Nehemia volg op dié van Esra en handel oor die laaste fase van die terugkeer na Juda met die bou van die mure van Jerusalem in die tyd van koning Artaxerxes (445 v.C. – sy Hebreeuse naam is Artasasta).  Die volk was nou al amper ’n eeu terug in hulle eie land (van 539 v.C. af).  Die tempel is herbou deur Serubbabel (516 v.C.).  Die beoogde volksmoord in die tyd van Ester en Mordegai is afgeweer (êrens in die eerste helfte van die 5de eeu v.C. in die tyd van Xerxes, in Hebreeus genoem Ahasveros).  Die volk se gehoorsaamheid aan die wet is herstel in die tyd van Esra, ten minste in terme van hulle huwelikslewe.  Wat nog gekort het, was die stad self waarvan die mure nog vervalle gelê het.

Die boek Nehemia

Nehemia kom dus op die toneel só 14 jaar ná Esra se hervormings in Jerusalem rondom die gehoorsaamheid aan die wet wat onder andere tot die ontbinding van godsdienstig-gemengde huwelike lei.  Sy passie was die herbou van die mure van Jerusalem, hoewel hy ook op vele ander terreine leiding neem.

Die eerste sewe hoofstukke van die boek is gebaseer op die memoirs van Nehemia en word in die eerste persoon vertel.  Dit handel oor die haglike toestand van die stad Jerusalem waarvan Nehemia in Susan te hore kom, sy passie om iets daaraan te doen en sy uitvoering van die visie wat die Here hom gee midde-in groot konflik met die omringende volke, veral die Samaritaanse goewerneur Sanballat (’n Goroniet van die dorpie Bet-Goron), die Arabiese leier Gesem, en die Ammonitiese amptenaar Tobija.  Ná net 52 dae was die stad se mure weer herbou.  Die gedeelte sluit af met ’n geslagsregister uit die tyd van Serubbabel.

Die laaste ses hoofstukke van die boek handel oor die verdere hervormings van Esra, veral gefokus op die reflekterende lees van die Woord, die viering van die huttefees en ’n vasdag van verootmoediging wat uitloop op ’n plegtige onderneming van die leiers sowel as die volk om die wet van die Here te gehoorsaam.  Die boek sluit af met die feestelike inwyding van die muur, sowel as ’n tweede besoek van Nehemia waartydens ’n hele klomp netelige sake vêrder aangespreek is.

Ons lees dit soos volg:

  • Dag 1 – Nehemia 1
  • Dag 2 – Nehemia 2
  • Dag 3 – Nehemia 3-4
  • Dag 4 – Nehemia 5
  • Dag 5 – Nehemia 6-7
  • Dag 6 – Nehemia 8
  • Dag 7 – Nehemia 9
  • Dag 8 – Nehemia 10
  • Dag 9 – Nehemia 11-12
  • Dag 10 – Nehemia 13

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar