Nehemia 3-4 – Nehemia inspireer die volk deur gebed en goeie beplanning midde-in erge teenstand
Ons lees vandag twee hoofstukke wat vir ons die keuse vir volharding midde-in groot uitdagings skets:
- Nehemia se leiding en organisasie van die bouwerk – 3:1-32
- Die hantering van die teenstand van buitestaanders – 4:1-23
Nehemia se leiding en organisasie van die bouwerk – 3:1-32
Nehemia wou van die begin af hierdie bouwerk op ’n gekoördineerde wyse laat doen en dit so gou as wat menslik moontlik is. Daarom het hulle rondom die stad gelyktydig gebou aan die ongeveer 40 seksies van die muur. Daar is veral gekonsentreer op tien van die poorte wat vervalle was en belangrik was omdat dit toegang verleen het tot die stad. Daar was ook twee ander poorte wat nie herbouing nodig gehad het nie (12:39).
Almal het meegewerk aan die grootse onderneming, die hoëpriester, die priesters (op drie plekke!), die Leviete (Binnuï het op twee plekke gewerk), hulle ampsgenote en die tempelslawe, die goudsmede, van die vroue (3:12), die handelaars, en selfs ’n “apteker”, die salfmenger (vers 8).
Net ’n paar vooraanstaande mense van Tekoa was nie gewillig om swaar werk te doen vir “hulle Here” nie. Interessant genoeg was dit die gebied waarvandaan Amos die profeet gekom het, een wat juis die vooraanstaandes vir hulle sosiale ongeregtigheid aangevat het, die mense wat in “mooi huise” woon en nie vir hulle medemense omgee nie!
Tog lees ons ook dat die ander mense van Tekoa op twee plekke aan die muur gewerk het (3:5,27) – soos daar ook ‘n paar ander hardwerkendes was: onder andere die priesters (3:1,22,28), die Leviete (3:17,24), Meremot (3:4; 3:21), Messulam (3:4,30), Gassub (3:11,23) – en hulle dus dubbeld en dwars vergoed het vir hulle eie mense se laksheid. Ganun en die inwoners van Sanoag het uitgeblink met ’n stuk muur van 450 meter wat hulle herstel het! Dit kan ook wees dat dit dié Ganun is waarvan ons ook in 3:30 lees wat aan die Oospoort gewerk het.
Die hantering van die teenstand van buitestaanders – 4:1-23
Die sukses van Nehemia se strategie – hulle was al halfpad gebou! – het skerp teenstand uitgelok. Sanballat het met groot ergernis die Judeërs geïntimideer met ’n paar retoriese sarkastiese vrae oor die volhoubaarheid van hulle onderneming, gerugsteun deur Tobija se bespotting oor die kwaliteit van die werk wat hulle doen: “Daardie klipmuur van hulle sal omval as ’n jakkals daarteen spring!”
Nehemia reageer daarop met ’n vervloekende gebed en volhardende bouwerk. Hy praat dus met God en gaan saam met die ander – wie se hart in hulle werk was! – aan met die bou van die muur, sonder om Sanballat en Tobija direk te konfronteer.
Dat hy vra dat die Here die bespotting van hulle vyande op die vyande se kop sal laat neerkom, soos ons dit ook in van die vloekpsalms lees, verteenwoordig ’n styl van gebed wat ons vandag moeilik kan navolg ná Jesus se gebed: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”. ’n Mens moet wel onthou dat hierdie tipe vervloekings in die eerste plek te make het met God se eer wat aangetas word en in die tweede plek die keuse aksentueer vir dít wat goed en reg is, maar het nie meer plek in ons manier van doen nie.
Die teenstand verskerp ernstig met ’n aanval wat beplan word en weereens respondeer Nehemia en die leiers met gebed, maar dié keer ook deur wagte uit te sit. Sy leierskap is werklik inspirerend soos hy aanpas by die veranderende situasie. Die gebed bly steeds die eerste respons, maar die optrede verander na gelang van die situasie.
Die druk was egter hewig, beide van buite (vyande) sowel as toenemend van binne (klagtes) oor die harde werk en die twyfel of hulle gaan klaarkry met die bou van die muur. Die halfpadmerk is immers baie keer ’n tyd van frustrasie en herbesinning.
Die taktiek van die wagte het gewerk, maar moes gou verder ondersteun word deur bewapening van die volk met swaarde, spiese, pyle en boë. Nehemia hou ook ’n roerende toespraak waarin hy hulle aan die Here se hulp herinner: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” Hy span dus juis hulle vrees vir hulle geliefdes in as die motivering om vir hulle te veg.
Dit het so druk gegaan dat hulle later eintlik dag en nag aan diens was – snags vir wagdiens en bedags vir werk. Hulle het selfs nie meer klere gewissel nie.
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Nehemia
- Nehemia 1 – Nehemia reageer met indringende gebed op die nood in Jerusalem
- Nehemia 2 – Nehemia betrek die koning by sy planne en motiveer die leiers in Jerusalem om te begin bou
- Nehemia 3-4 – Nehemia inspireer die volk deur gebed en goeie beplanning midde-in erge teenstand
- Nehemia 5 – Vrygewigheid herstel menswaardigheid en ewewig
- Nehemia 6-7 – Nehemia voltooi die muur ten spyte van groot gevaar en vestig ’n gesonde gemeenskap in Jerusalem
- Nehemia 8 – Esra help die volk om mense van die Boek te word
- Nehemia 9 – Die geloofsgemeenskap verootmoedig hulle voor die Here met skuldbelydenis onder begeleiding van die Leviete
- Nehemia 10 – Die geloofsgemeenskap verbind hulle aan die Here met ’n skriftelike ooreenkoms en ’n plegtige eed
- Nehemia 11-12 – Die gemeenskapslewe in Jerusalem word herstel en die muur feestelik ingewy
- Nehemia 13 – Nehemia stel nog hervormings in met sy tweede termyn
- Tien gebede van Nehemia
Tags: Nehemia
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Klik net op Confirm Follow in die e-pos wat wordpress.com na jou Inbox stuur.
Chris van Wyk
| #
Hi Esmé, ek sal jou e-pos insit op daardie bladsy. Jy moet net die e-pos wat WordPress vir jou stuur goedkeur.
Esme Dorfling
| #
Ek wil graag aansluit by 2021 bybel lees program.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/
Chris van Wyk
| #
Hi Frans – ek het ‘n paar gedagtes oor vas geplaas by: https://bybelskool.com/die-plek-van-vas-in-geloofsgewoontes/. Daarin is ‘n pdf van Calvyn oor vas.
Frans Scheepers
| #
Ek soek na handleiding vir die tyd waarin ons is, vir die pandemie. Veral oor intense gebed.