Skip to main content

Nehemia 3-4 – Nehemia inspireer die volk deur gebed en goeie beplanning midde-in erge teenstand

Ons lees vandag twee hoofstukke wat vir ons die keuse vir volharding midde-in groot uitdagings skets:

  • Nehemia se leiding en organisasie van die bouwerk – 3:1-32
  • Die hantering van die teenstand van buitestaanders – 4:1-23

Nehemia se leiding en organisasie van die bouwerk – 3:1-32

Nehemia wou van die begin af hierdie bouwerk op ’n gekoördineerde wyse laat doen en dit so gou as wat menslik moontlik is.  Daarom het hulle rondom die stad gelyktydig gebou aan die ongeveer 40 seksies van die muur.  Daar is veral gekonsentreer op tien van die poorte wat vervalle was en belangrik was omdat dit toegang verleen het tot die stad.  Daar was ook twee ander poorte wat nie herbouing nodig gehad het nie (12:39).

Almal het meegewerk aan die grootse onderneming, die hoëpriester, die priesters (op drie plekke!), die Leviete (Binnuï het op twee plekke gewerk), hulle ampsgenote en die tempelslawe, die goudsmede, van die vroue (3:12), die handelaars, en selfs ’n “apteker”, die salfmenger (vers 8).

Net ’n paar vooraanstaande mense van Tekoa was nie gewillig om swaar werk te doen vir “hulle Here” nie.  Interessant genoeg was dit die gebied waarvandaan Amos die profeet gekom het, een wat juis die vooraanstaandes vir hulle sosiale ongeregtigheid aangevat het, die mense wat in “mooi huise” woon en nie vir hulle medemense omgee nie!

Tog lees ons ook dat die ander mense van Tekoa op twee plekke aan die muur gewerk het (3:5,27) – soos daar ook ‘n paar ander hardwerkendes was: onder andere die priesters (3:1,22,28), die Leviete (3:17,24), Meremot (3:4; 3:21), Messulam (3:4,30), Gassub (3:11,23)  – en hulle dus dubbeld en dwars vergoed het vir hulle eie mense se laksheid.  Ganun en die inwoners van Sanoag het uitgeblink met ’n stuk muur van 450 meter wat hulle herstel het!  Dit kan ook wees dat dit dié Ganun is waarvan ons ook in 3:30 lees wat aan die Oospoort gewerk het.

Die hantering van die teenstand van buitestaanders – 4:1-23

Die sukses van Nehemia se strategie – hulle was al halfpad gebou! – het skerp teenstand uitgelok.  Sanballat het met groot ergernis die Judeërs geïntimideer met ’n paar retoriese sarkastiese vrae oor die volhoubaarheid van hulle onderneming, gerugsteun deur Tobija se bespotting oor die kwaliteit van die werk wat hulle doen: Daardie klipmuur van hulle sal omval as ’n jakkals daarteen spring!”

Nehemia reageer daarop met ’n vervloekende gebed en volhardende bouwerk.  Hy praat dus met God en gaan saam met die ander – wie se hart in hulle werk was! – aan met die bou van die muur, sonder om Sanballat en Tobija direk te konfronteer.

Dat hy vra dat die Here die bespotting van hulle vyande op die vyande se kop sal laat neerkom, soos ons dit ook in van die vloekpsalms lees, verteenwoordig ’n styl van gebed wat ons vandag moeilik kan navolg ná Jesus se gebed: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.  ’n Mens moet wel onthou dat hierdie tipe vervloekings in die eerste plek te make het met God se eer wat aangetas word en in die tweede plek die keuse aksentueer vir dít wat goed en reg is, maar het nie meer plek in ons manier van doen nie.

Die teenstand verskerp ernstig met ’n aanval wat beplan word en weereens respondeer Nehemia en die leiers met gebed, maar dié keer ook deur wagte uit te sit. Sy leierskap is werklik inspirerend soos hy aanpas by die veranderende situasie.  Die gebed bly steeds die eerste respons, maar die optrede verander na gelang van die situasie.

Die druk was egter hewig, beide van buite (vyande) sowel as toenemend van binne (klagtes) oor die harde werk en die twyfel of hulle gaan klaarkry met die bou van die muur.  Die halfpadmerk is immers baie keer ’n tyd van frustrasie en herbesinning.

Die taktiek van die wagte het gewerk, maar moes gou verder ondersteun word deur bewapening van die volk met swaarde, spiese, pyle en boë.  Nehemia hou ook ’n roerende toespraak waarin hy hulle aan die Here se hulp herinner: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.”  Hy span dus juis hulle vrees vir hulle geliefdes in as die motivering om vir hulle te veg.

Dit het so druk gegaan dat hulle later eintlik dag en nag aan diens was – snags vir wagdiens en bedags vir werk.  Hulle het selfs nie meer klere gewissel nie.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda