Skip to main content

Nehemia 1 – Nehemia reageer met indringende gebed op die nood in Jerusalem

Nehemia skop die boek af met die ontstellende nuus wat hy in 445 v.C. van Ganani kry dat die Jode in Juda in groot ellende en smaad lewe, dat die mure van die stad Jerusalem vervalle is en die stadspoorte verbrand.

Sy eerste reaksie is om aan die huil te gaan daaroor en dit met vas en gebed na die God van die hemel toe te neem – die eerste van nege gebede van Nehemia wat vir ons opgeteken is.

Dit is ’n indringende gebed wat ook skuldbelydenis vir die volk insluit, soos ons dit ook in Esra en Daniël se gebede raaksien en ’n vertroue en appèl op die verbondsbeloftes van die Here uitspreek dat Hy nie net die volk sal help nie – Hy het immers belowe om hulle terug te bring en vir hulle te sorg – maar ook vir Nehemia self voorspoedig sal laat wees in die roeping wat hy intuïtief aanvoel die Here op sy hart lê.

Sy posisie in die hofhouding het hom goed geleen tot presies dié tipe optrede, net soos dit van te vore die geval met Ester in dieselfde stad Susan was in die tyd van Artaxerxes se voorganger, Xerxes.

Die tyd van gebed het waarskynlik ongeveer 4 maande geduur, omdat hy reeds in die negende maand, Kislef, die nuus gekry het en eers in die eerste maand, Nisan, dit wil sê die volgende jaar volgens die Joodse kalender, met die koning praat.  Ná die tyd van deeglike deurbid toe hy besef het die tyd van optrede het aangebreek, vra Nehemia dat die Here hom voorspoedig sal laat wees: “met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.”

Dit eerste hoofstuk sluit af met die mededeling dat hy die koning se skinker was, ’n posisie van verantwoordelikheid en invloed wat die tafel dek vir wat gaan volg.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar