Skip to main content

Nehemia 9 – Die geloofsgemeenskap verootmoedig hulle voor die Here met skuldbelydenis onder begeleiding van die Leviete

Nehemia 9-10 vorm ’n eenheid in die beskrywing wat alles op dié vasdag gebeur het:

  • Die geloofsgemeenskap het hulle voor die Here verootmoedig met skuldbelydenis onder begeleiding van die Leviete – 9:1-37.
  • Die geloofsgemeenskap het hulle aan die Here verbind met ’n skriftelike ooreenkoms bevestig deur ’n plegtige eed saamgestel uit sewe sleutel elemente van die wet  – 9:38-10:39

Ons lees vandag hoofstuk 9.

Verootmoediging

Die dag ná die huttefees het die Jode vir ’n vasdag bymekaargekom om hulle voor die Here te verootmoedig.  Die verootmoediging het bestaan uit:

  • die voorlesing uit die wetboek van God – 3 uur lank! – en
  • die belydenis van hulle eie sonde sowel as dié van hulle voorvaders terwyl hulle die Here aanbid (voor Hom gebuig) het – weereens 3 uur lank!

Dit is duidelik dat dié liturgie en gebed (een van die langstes in die Bybel!) vooraf geskryf is, waarskynlik deur Esra, en deur die Leviete uitgevoer is, miskien in ’n spreekkoor of in wisselspraak (hulle tree saam op).  Die inhoud van die gebed kom ooreen met die soortgelyke maar korter gebed van Esra in Esra 9:

  • Die een groep van 8 Leviete het die Here aangeroep en hulle nood aan sy teenwoordigheid en vergifnis verwoord.
  • Die ander groep van 8 Leviete het die Jode begelei in ’n lofprysing wat skuldbelydenis ingesluit het.

Gebed

Die gebed bestaan uit 3 dele:

’n Belydenis van hulle geloof – 9:5-15

  • God se grootheid word geloof in die skepping van alles, die verkiesing van die Abrahamsvolk, die Uittog uit Egipte, die begeleiding deur die Rietsee sowel as die woestyn, waar Hy nie net vir hulle die wet by Sinaiberg gegee en die voorskrifte van wat goed is, geleer het nie, maar hulle ook met brood en water versorg het om hulle uiteindelik in die Beloofde Land te laat intrek.  ’n Kragtige geloofsbelydenis wat die konkrete dade van God in die geskiedenis verheerlik.  Dit is waaroor ’n geloofsbelydenis altyd gaan, om God se lof te besing.  Geloofsbelydenisse is altyd doksologie!  En belangrik – dit gaan die skuldbelydenis VOORAF.

’n Belydenis van hulle sonde – 9:16-31

  • Hulle verklaar die ongehoorsaamheid en onbetroubaarheid van die voorvaders sowel as hulle eie onomwonde: “hulle het geweier om te luister” en “hulle het nie die wonderdade onthou nie”! TOG, deel van hulle skuldbelydenis is dat God ’n God is wat vergewe – en dan stapel hulle sy goeie eienskappe op: genadig, barmhartig, lankmoedig, vol liefde.  Die wonder is: “U het hulle nie verlaat nie!”
  • Dieselfde geskiedenis in die woestyn word nou uit die hoek van die die Here se genade vertel – die lig op hulle pad het nie verdof nie en sy “goeie Gees” het hulle nie verlaat nie en hulle kon die Beloofde Land binnetrek en hulle daar verlustig in God se “groot goedheid”.  Dít is die evangelie van die OT, iets wat tot vandag toe nog met ons praat en ons sekerheid in ons verhouding met God gee.
  • In direkte kontras hiermee wy die Leviete dan verder uit oor die ongehoorsaamheid van die volk in die land wat telkens vir hulle in ’n siklus van verdrukking en verlossing ten opsigte van hulle teenstanders gebring het, weens die herhalende aard van hulle ongehoorsaamheid en gelukkig ook die hulpgeroep, wat God se geduld tot die uiterste toe beproef het, al het Hy ook telkens barmhartigheid getoon.

’n Beroep op God – 9:32-37

  • Hulle smeek God om sy verbond en troue liefde in stand te hou en nie al die ellende waarin hulle die afgelope 2 eeue verkeer, gering te ag nie.  God se regverdigheid word geloof in direkte kontras met die onreg en ongehoorsaamheid van die volk … maar … en dan vervolg hulle beroep op God: “hier is ons vandag slawe, ons is slawe in hierdie land, die land wat U aan ons voorvaders gegee het … Sy ryke opbrengs behoort aan die konings wat U oor ons aangestel het as gevolg van ons sondes; die konings maak met ons en ons vee soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood.”

Hulle maak dus ’n appèl op God se genade om in te gryp en hulle weer vry van inmenging deur ander koninkryke te maak.

  • Hulle loof God vir sy verbintenis aan hulle.
  • Hulle bely hulle sonde.
  • Hulle vra vir vergifnis en verlossing.

En hulle verbind hulle aan God om Hom alleen te dien, soos ons in hoofstuk 10 verder gaan lees.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.