Skip to main content

Ester 9-10 – God red die Jode deur die leierskap van Mordegai en Ester

Die dertiende dag van Adar breek toe aan met die tafel gedek vir grootskaalse oorlog.  Omdat die Jode egter voorbereid was, kon hulle weerstand bied en het hulle hulle vyande oorweldig. Niemand kon voor hulle standhou nie.

Een van die redes vir die omkeer van die situasie was natuurlik dat Mordegai nou ‘n hoë posisie aan die hof van die koning beklee het en hy mag oor die goewerneurs van die provinsies gehad het. Trouens dit het bekend geword dat hy al hoe meer mag kry.  Niemand wou dus van hom ’n vyand maak nie en al die leiers, verteenwoordigers, goewerneurs en ander in diens van die koning het die Jode daarom uitgelos oral in die 127 provinsies waar hulle in beheer was.

Daar was egter steeds gevegte.  Selfs in die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, waaronder lede van die familie van Haman.  Interessant genoeg word daar ’n paar keer gesê dat die Jode nie op die oorwonne vyande se besittings beslag gelê het nie.

Selfs die koning het ’n heilige ontsag gekry vir die weerstand van die Jode, sodat hy vir Ester sê: “Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy ‘n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Dit illustreer sy wispelturigheid en beginselloosheid.  Hy is eintlik maar net besorg oor homself en hoe dinge homself gaan raak.

Ester is egter nie links nie en vra dat die Jode in Susan nog ’n dag toegelaat word om hulle self te verdedig, waarskynlik omdat sy meer eerstehandse kennis gehad het van die weerstand wat hulle daar ondervind het. Sy vra ook dat ’n voorbeeld gemaak word van die tien seuns van Haman wat eintlik alreeds doodgemaak is, maar nou ook verder verneder word deur hulle aan die galg te laat ophang.

Nog drie honderd man is daarom in Susan doodgemaak, maar weereens nie op hulle besittings beslag gelê nie. In totaal is vyf en sewentig duisend man doodgemaak in die Jode se verdedigingsproses reg deur die ryk.

Die 14de dag (15de dag in Susan, omdat hulle oorlog langer geduur het) is daarom ’n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ’n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.

Die Purimfees

Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf (hy is daarom ook waarskynlik die skrywer van die boek Ester) en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het.  Dit is ook bevestig deur ’n brief van Ester.  Die Jode moes hierdie twee dae, dae van feesviering en vreugde maak, en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.  Dit het toe só ‘n vaste gebruik geword, iets wat vandag nog só gevier word.

Daar was ook ’n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Eintlik staan daar in die gebruikte grondteks nie die woord God nie, maar wel die volgende sin: “soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.”  Die weeklag het natuurlik met God te make, maar dit word nie eksplisiet só gestel nie.

Een van die voorskrifte vir die fees is dat die boek Ester telkens voorgelees moet word om die geskiedenis in hulle geheue te verfris.  Daarby is een van die tradisies dat die Jode geleer word om elke keer dat Haman se naam genoem word, uit te roep: “Vervloek is Haman!” Elke keer wat Mordegai se naam gelees is, moet hulle uitroep: “Geseënd is Mordegai!” Die voorskrif lui verder, dat daar op dié fees baie wyn gedrink mag word, om die waarheid te sê, soveel wyn, het die rabbi’s gesê, totdat niemand meer die verskil sou ken tussen “vervloek is Haman” en “geseënd is Mordegai” nie.  Kan jy nou meer!

Die boek sluit af met ’n paar verdere mededelings oor Ahasveros se regering, gekenmerk deur dwangarbeid, asook oor Mordegai se hoë pos, die tweede in bevel onder die koning, soos in die annale van die konings van Medië en Persië aangeteken is: “Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.

Die boodskap van die boek

Die diepste indruk wat die boek op my laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur.  Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you.  So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” (Responsible Self).  Dit is ’n baie raak beskrywing van wat ons in dié boek Ester aantref, al word God se naam nie een keer eksplisiet genoem nie.

God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend.  Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede  laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28).  Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses.  Ons noem dit God se voorsiening.  Hy IS die voorsienigheid!  Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!

Die boek leer ons ook hoe EEN persoon ’n verskil kan maak.  Dit is ten diepste wat leierskap is, die besluit om ’n verskil te maak en dit uit te voer al bars die bottel.  God gebruik ons waar ons is, al is ons alleen.  Dit help natuurlik om ’n ondersteuningsnetwerk te hê soos Mordegai dit vir Ester is.  En daar is dinge wat Ester kon doen, wat Mordegai nie kon nie en omgekeerd. Maar een mens wat doen wat God vra, wat met oorleg en wysheid optree en nie terugdeins van die verantwoordelikheid om dit te doen nie, maak ’n groot verskil, veral waar dit gedoen word in vertroue op die Here.  Sela!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ester


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders