Skip to main content

Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings

Ons kom by die laaste 16 verse van Salomo se eerste bundel spreuke.  Interessant genoeg is die aantal spreuke in hierdie versameling van hom gelyk aan die numeriese waarde van Salomo se naam: 375.

Waar Salomo nou al oor God se sorg vir die opregtes (hfst 10) geskryf het, en dat Hy ‘n toevlug is vir ons (hfst 14), uitgebrei het op die invloed van wyse woorde op welvaart (hfst 13), en die veilige ruimte wat ons integriteit vir ander gee (hfst 14), tesame met ‘n hele spektrum van ander sake, skryf hy in hierdie paar verse veral oor rykdom en armoede en die invloed wat dit op verhoudings het (22:1,2,4,7,9,16). Hy lê ook klem op die gevolge wat volg op ‘n mens se gedrag – luiheid stomp jou waagmoed af; mededeelsaamheid is tot jou eie voordeel.

Continue reading

Die woorde van die wyses – I

Daar is 2 bundels van die gesegdes van die wyses in die boek opgeneem (22:17-24:22; 24:23-34).  Die eerste bundel het ‘n inleiding (22:17-21) en dan tussen 26 en 30 spreuke van wisselende lengte, afhangende van hoe jy die spreuke indeel.  Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding (24:23) en 5 spreuke.

Die eerste bundel van die gesegdes van die wyses werk veral met ooreenstemmings soos ons reeds in die tweede deel van die eerste bundel spreuke van Salomo gesien het (“Moenie ‘n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie” – 22:22).  Die kort tweede bundel werk veral met sinteses (“Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.” – 24:26).

Die woorde van die wyses is in ‘n persoonlike gesprekstyl geskrywe, amper soos die gesprek wat die pa met sy seun het in die eerste nege hoofstukke.  Dit is ook hier waar ‘n hele paar spreuke aangetref word wat ooreenstem met van die Egiptiese wysheidstradisies, spesifiek die tradisie van die Egiptiese wysheidsboek van Amenemope uit die 11de of 12de eeu v C.  Amenemope was ‘n skrifgeleerde en moenie verwar word met ‘n latere farao wat ook dié naam gehad het nie.

Trouens, ‘n mens kan 22:20 só vertaal: “Ek skryf vir jou dertig voorskrifte neer …” wat nogal sin maak in die lig van die poging van sommige om die bundel in 30 spreuke op te deel (Martin, NIV, NCV), en in die lig van die moontlikheid dat die skrywer daarmee ‘n verband met die dertig hoofstukke van die Wysheid van Amenemope wou trek.  Baie geleerdes dink selfs dat hierdie deel van Spreuke gebaseer is op die Wysheid van Amenemope.

Continue reading

Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou

Vandag lees ons die inleiding van die eerste bundel van die woorde van die wyses, sowel as die eerste 5 spreuke.

Inleiding – 22:17-21

Let op die persoonlike gesprekstyl waarin die spreuke aangebied word – “wat ek jou wil leer”.  Op dieselfde wyse as wat die seun deur sy pa onderrig is om 1) na hom, sy pa, en na sy ma te luister in die eerste 9 hoofstukke, en 2) veral Vrou Wysheid aan hom voorgehou is as die stem van die Here self, só word 3) die woorde van die wyses aan hom voorgehou as ‘n stem om na te luister.

Die voordele van ‘n luister na wysheid word op drie maniere weergegee: 1) dit is lekker om wys te wees, 2) dit is lekker om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap, en 3) dit leer hom om op die Here te vertrou.  Laasgenoemde is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid, dat dit ‘n mens leer om op die Here te vertrou.  Dít is die vers wat my vandag tref as die woord van die Here aan my – elke keer wat ek kies om na die stem van wysheid te luister, leer ek ook hoe om die Here meer en meer te vertrou met my lewe.  Diep en duidelik!

Continue reading

Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings

In hierdie hoofstuk is 13 van die spreuke van die Wyses opgeneem.  Vers 22 kan ook op sy eie as ‘n spreuk getel word, hoewel dit goed pas as ‘n kontras vir vers 19-21, soos dit in die NAV aangedui word.  Vers 22 kan egter ook by vers 23-25 as ‘n eenheid geneem word, wat steeds goeie sin maak.

Die gedeelte het 5 bemoedigende voorskrifte (11,12,13,14,16) en 8 waarskuwings (6,7,8,9,10,15,17,18):

Continue reading

Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie

Vandag lees ons die laaste 8 van die spreuke wat die groep van wyses versamel het.  Die goue draad wat ek gevind het wat regdeur al hierdie spreuke gaan, is – gegewe jou netwerk van verhoudings (die vorige spreuke 6-18 van die wyses) – hoe verseker regverdiges dat hulle regverdig bly, maar nie in die proses ondergaan nie?  En dit is ‘n belangrike vraag, omdat wysheid immers impliseer dat ‘n mens ‘n ekspert raak in die praktyk van die lewe, en dat jy die slaggate kan vermy wat daar onvermydelik in die lewe is.

Ek gee eers ‘n opsomming van die inhoud en boodskap van die onderskeie spreuke, en daarna ‘n drietal insigte wat dié spreuke by my wakker gemaak het en wat bogenoemde vraag beantwoord met ‘n insig wat net sowel uit die NT kon gekom het:  Oorwin die kwaad met die goeie:

Continue reading

Onlangse kommentaar