Jeremia is steeds besig in hierdie drie hoofstukke (hfst. 21-23) met ’n boodskap van God se oordeel oor die leiers. In hoofstuk 21 het dit gegaan veral oor koning Sedekia. In hoofstuk 22 kom sy voorgangers aan die orde: Sallum (Joahas), die koninginmoeder (Sebida – die gedeelte kan ook as ’n boodskap aan Jerusalem geïnterpreteer word), Jojakim, en Jojagin. Hulle het gesamentlik die onbenydenswaardige nalatenskap dat hulle die volk in ballingskap inbestuur het met hulle ongehoorsaamheid en onbeholpenheid.
In hoofstuk 23 sal daar ook ’n belofte van ’n regverdige koning wees, waarna Jeremia die profete en priesters sal aanspreek wat die verkeerde koers inslaan en hulle mag misbruik.
Jeremia is nog steeds besig met sy boodskap aan Juda en Jerusalem (hfst. 2-33) wat in vier dele versamel is.
In die eerste deel (hfst. 2-23) het dit gehandel oor die onafwendbare oordeel oor die volk waarin hy tot dusver gefokus het daarop dat hulle God vergeet het as motivering vir die dreigende ballingskap en waarbinne sy sewe “Konfessies” ook opgeneem is (hfst. 2-20).
In die tweede deel (hfst. 21-23) gaan hy nou skerper fokus op God se oordeel op die leiers: die konings, profete en priesters wat darem ook ’n belofte van ’n regverdige koning in hfst. 23 sal insluit.
Daarna sal Jeremia uitwei oor die ballingskap (hfst. 24-29) en
die toekomstige herstel (hfst. 30-33).
Hy begin hierdie tweede deel met ’n boodskap aan die koning wat ook ’n boodskap aan die volk insluit (21:1-10) waarin Jeremia ons vertel van die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar, met koning Sedekia wat ’n halfhartige poging aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.). Dit was in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag.
Daarna som Jeremia in ’n opeenstapeling van kort profesieë (21:11-23:40) – wat uiteraard oor meer as ’n dekade gelewer is – sy vorige boodskap aan die konings, profete en priesters op, sommige daarvan verbind aan spesifieke konings:
Sallum – vierde seun van Josia, soos Jojakim en Sedekia – hy het die naam Joahas aangeneem, maar net drie maande regeer (609 v.C.);
Jojakim – tweede seun van Josia (609-598 v.C.) wat eintlik Eljakim geheet het, maar dié naam Jojakim van die Egiptiese koning afgekry het,
die koninginmoeder – dit is waarskynlik Sebida, moeder van Jojakim (2 Kon. 23), omdat dit onwaarskynlik is dat Jojagin se ma, Negusta, tyd gehad het om ’n groot invloed te kry, gegewe dat Jojagin so kort regeer het, en
Jojagin – seun van Jojakim wat ook net drie maande regeer het, in ballingskap weggevoer is, saam met sy ma, maar later begenadig is (597 v.C.).
Ander verwysings na die konings is in die algemeen (koningshuis van Juda, huis van Dawid). Sedekia (derde seun van Josia en laaste koning van Juda – 597-586 v.C.) word nie in die kort profesieë genoem nie, maar natuurlik wel in die verhaal waarmee die gedeelte begin. Hy word ook moontlik veronderstel in die eerste profesie (21:8-10).
Die boodskap van die Here by die Moorddal verhoog egter die teenstand teen hom as profeet. In hierdie hoofstuk hoor ons hoe dié teenstand deur die priesterlike gesag, komende van die priester Pasgur, teen Jeremia verhoog (19:14-20:6). Ons hoor ook hoe Jeremia nie net op Pasgur reageer nie, maar hoe hy sy hart uitstort voor die Here in twee “Konfessies”.
Met die sesde “Konfessie” kry Jeremia dit nog reg om ook sy dank vir die Here se regverdigheid uit te spreek (20:7-13), maar met die sewende “Konfessie“ is daar soveel rou emosie dat hy net sy lot bekla, en die Here dit onbeantwoord laat (20:14-18).
Die metafoor van Israel as klei in die hande van die Pottebakker word hier verder geneem in die verwante beeld van Israel as ’n kleipot in die hande van die Eienaar. Jeremia kry opdrag om ’n kleipot te neem en voor die oë van die leiers en priesters te breek as seker teken daarvan dat die Here “hierdie volk en hierdie stad breek”.
Die volgende drie hoofstukke het met mekaar verband. Hoofstuk 18 en 19 werk met twee verwante metafore van klei – die pottebakker wat die klei kan vorm soos hy dit goed dink en ’n gekoopte kleipot wat maklik gebreek kan word deur sy eienaar – wat albei God se soewereine mag oor die volk illustreer. Hoofstuk 18 en 20 bevat die laaste drie “Konfessies” van Jeremia – 18:18-23; 20:7-10; 20:14-18. Al drie hoofstukke word ook opgebou as ’n voortgaande en wederkerige gesprek tussen God, Jeremia en die volk.
Hoofstuk 18 bestaan uit drie dele:
Die metafoor van die pottebakker wat die klei kan vorm soos Hy dit wil – 18:1-12
God se klag oor die volk wat Hom vergeet het – 18:13-17
Jeremia wat bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie – Jer. 18:18-23
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar