Jeremia 27 – Ek gee al die lande in die mag van Nebukadnesar
Hoofstuk 27-29 rond die boodskap van Jeremia oor die ballingskap af met die beskrywing van:
- die Here se boodskap dat Juda (en die ander lande) aan koning Nebukadnesar onderdanigheid moet bewys (hoofstuk 27),
- die beskrywing van die teenstand van die valse profeet Gananja daarteen en hoe die Here daarop reageer (hoofstuk 28), en
- die bemoedigende brief aan die ballinge wat saam met koning Jojagin na Babel toe weggevoer is saam met verskillende reaksies daarop (hoofstuk 29).
Al drie hoofstukke dateer uit die tyd van koning Sedekia. Hoofstuk 27 kort ná sy bewind begin het (597 v.C.). Hoofstuk 28 in Sedekia se vierde regeringsjaar (593 v.C.). Hoofstuk 29 min of meer in dieselfde tyd, hoewel dit nie aan ’n spesifieke jaar gekoppel kan word nie.
Dit is opmerklik dat daar ’n hele paar keer van Jeremia in dié drie hoofstukke as “die profeet Jeremia” gepraat word wat waarskynlik beklemtoon dat hy die ware profeet teenoor die ander valse profete is. Dit onderstreep die boodskap van dié drie hoofstukke as ’n bevestiging van die inhoud van die boodskap van die ware profeet.
In vers 1 word in die grondteks eintlik gepraat van Jojakim, inplaas van Sedekia, terwyl dit duidelik uit die res van die hoofstuk is dat dit oor Sedekia gaan (vers 3, 12) asook in die volgende hoofstukke (28:1; 29:3 [die profeet Sedekia van 29:21-22 is iemand anders]). Dit is waarom die NAV die naam Sedekia gebruik in vers 1, om verwarring uit te skakel. Die naam Jojakim is waarskynlik die gevolg van ’n skryffout wat iemand gemaak het deur hoofstuk 27 met dieselfde vers as hoofstuk 26, waar Jojakim tereg genoem word, te begin.
Die hoofstuk word opgedeel in:
- die simboliese juk op Jeremia se nek as boodskap aan die nasies – vers 1-11;
- dieselfde handeling as boodskap aan Sedekia – vers 12-15;
- die boodskap aan die priesters en die volk om nie na die vals profete te luister nie – vers 16-22.
Onlangse kommentaar