Die boek van Vertroosting
Die volgende vier hoofstukke handel oor die toekomstige herstel van die land en volk – hoofstukke 30-33. Geleerdes noem dit die “Boek van Vertroosting”, ’n boodskap van hoop midde-in die chaos wat die volk weens hulle ongehoorsaamheid tref.
Die belofte van herstel wat reeds in Jeremia se roeping opgesluit was (Jer. 1:10), maar tot dusver min aandag gekry het (vgl wel die vorige vyf heilsprofesieë: Jer. 16:14-21: “Ek sal hulle terugbring ná die oordeel – ook die nasies”; Jer. 23:1-8: “Ek sal ’n regverdige koning voorsien”; Jer. 24: “Die ballinge van Juda is goeie vye”; Jer. 25: “Die ballingskap sal sewentig jaar duur”; Jer. 29: “Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie”), word nou helder verwoord.
Hoewel dit in hoofstuk 31-31 primêr om profesieë gaan, en dit in poëtiese taal geskryf is, is die tematiese en inhoudelike ooreenkomste met die verhalende gedeeltes van hoofstuk 32 soveel dat dit as ’n eenheid beskou kan word. Die grondkooptransaksie van hoofstuk 32 staan immers as ’n simbool of teken van die profesieë van hoofstukke 30-31 van ’n hoopvolle toekoms wanneer die land van Israel en die volk van Israel en Juda weer verenig sal wees. En hoofstuk 33 se poëtiese gedeeltes sluit weer baie nou aan by hoofstuk 32, veral as ’n mens vers 1 in ag neem: “Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom …”
Die beskrywing van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag in hoofstuk 33 kan moontlik as ’n datering gebruik word vir die samestelling van die vier hoofstukke – “Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ’n boek” (Jer. 30:2) – hoewel die onderskeie profesieë waarskynlik op verskillende tye ontvang is. Dit is saamgevoeg in die tyd van Sedekia, ná Jeremia uit die put getrek is en ingeperk is in die binneplaas (Jer. 38:13), baie naby aan die einde van Sedekia se regeringstyd en die aanvang van die ballingskap in 586 v.C.
Die sentrale boodskap van die “Boek van Vertroosting” word reeds in hfst. 30:3 gegee: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.” Die woord “lotsverandering” kom ses keer voor in dié vier hoofstukke (30:3,18; 31:23; 33:7,11,26) en som die kern van die boodskap van hoop op wat uitgepak word in terme van ’n nuwe verbond (31:31-34; 32:38-41) waarin die Godsverhouding (30:22; 31:1,33; 32:38), hulle volkseenheid (31:27,31-34; 33:14) en hulle verhouding met die land (30:2,10; 31:8,17,21; 32:37) herstel sal word wat ook die herbou van die stad Jerusalem sal insluit (31:35-37; 33:6-10). Die effek van die ballingskap word dus omgekeer.
Let ook op dat die boodskap nie net vir die Suidryk – Juda waarby Benjamin geïnkorporeer is – se ballinge bedoel is nie, maar ook vir die ballinge wat reeds ’n eeu tevore uit die Noordryk – die tien stamme ryk van Israel – weggevoer is in ballingskap (722 v.C.). Só is dit ook al vroeër geformuleer (Jer. 16:14-15 [lande]; 23:3 [lande]; 23:6 [Juda en Israel]; 23:8 [Israel en lande]; 29:14 [plekke]), hoewel dit uiteraard ook die huidige ballinge insluit (Jer. 24:6; 29:10). Jeremia het selfs van ’n terugkeer van die nasies na die Here gepraat in soortgelyke terme (Jer. 16:19).
Daarom word die volk ook hier in hoofstuk 30 as Jakob aangespreek, en in hoofstuk 31 as Efraim en Juda om die eenheid van die Godsvolk in die oë van die Here aan te dui. Die Here se onverbreekbare band met die hele Israel word in hoofstuk 31 beklemtoon met verwysing na Sy soortgelyke onverbreekbare band met die Skepping (31:35-37).
Geen wonder dat die terugkeer uit die ballingskap gevolglik op alle Jode van toepassing was, waar hulle hulself ook al bevind het. So is die edik van die Persiese koning Kores geformuleer wat aan alle nasies onder sy beheer gestuur is: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees” (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4). Hoewel daar dus meer mense van Juda (dele van Efraim, Manasse en Simeon is vroeër al by hulle ingesluit – 2 Kron. 15:9; ’n hele klomp “Joodse” immigrante is ook in die tyd van Hiskia by Juda ingesluit – vgl. 2 Kron. 30:25) en Benjamin, sowel as van Levi teruggekom het, het dit ook ander Joodse families ingesluit.
Onlangse kommentaar